Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Kan hofsake godsdiens-vryheid versterk?
Ecclesia de Lange, die homoseksuele predikant wat deur die Metodistekerk in die pad gesteek is nadat sy met haar lewensmaat getrou het. Foto: Danielle Karallis

Dit het ’n paar weke gelede bekend geword dat Ecclesia de Lange haar saak teen die Metodistekerk van Suider-Afrika laat vaar het, en sy het intussen ook haar redes vir dié besluit bekend gemaak.

’n Soortgelyke saak sal in Augustus in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor word. Dié kwessie raak ook die Nederduits-Gereformeerde Kerk (NG Kerk) en sy lidmate volgens #WhyDiscriminate, ’n aksiegroep teen diskriminasie op grond van mense se seksualiteit.

Sake soos dié het mense bewus gemaak van die behoefte aan verantwoordbaarheid in die Kerk. Interessant genoeg word godsdienstige groeperinge (soos die NG Kerk en Metodistekerk) steeds beskou as betroubare instellings in die gemeenskap. 

Die vraag is dus of ’n regsproses die regte meganisme vir sodanige verantwoordbaarheid is. Of anders gestel, behoort kerke deur die hof verhoor te word om te beslis oor diskriminerende praktyke?

Hofsake kan godsdiensvryheid versterk

Na my mening is daar drie redes vir waarom sulke hofsake godsdiensvryheid, soos vervat in die Grondwet, kan versterk.

Die Christelike geloof is gebou op die aanname dat mense deur God geskape is en daarom waarde het. Hoewel dit ’n godsdienstige aanspraak is, is daar ’n soortgelyke gedagte in ons Grondwet (art. 1) en dit word duidelik uiteengesit in die Handves van Menseregte (hoofstuk 2). Juis daarom behoort dit nie verbasend te wees nie dat dieselfde dokument diskriminasie op grond van iemand se seksuele oriëntasie in art. 9 verbied nie.

Gegewe dié wetlike raamwerk word van kerke verwag – daar is selfs ’n verpligting – om hul godsdiens binne dié struktuur te uit te oefen. As dit nie gedoen word nie, is dit ongetwyfeld ’n skending van die Grondwet. Selfs belangriker as dit; ’n gelowige gemeenskap kan dit beskou as die verraad van die mees fundamentele aanspraak; die menswaardigheid van minderhede soos lesbiërs, gays, biseksuele mense, transgender-mense en diegene wat hulself identifiseer as interseks. 

Ons eie landsgeskiedenis gee ’n goeie aanduiding van die mag van godsdiens. Laat ons nooit vergeet nie dat die teologie ’n belangrike rol gespeel het in wat later wettige apartheid sou word.

As ’n demokratiese gemeenskap moet ons duidelik wees daaroor dat teologie altyd gerig word deur die geskiedenis. Daarom kan ’n Kerk nie oortuigings voorstaan asof apartheid, kolonialisme en Naziïsme nooit daar was nie. Ons eie landsgeskiedenis gee ’n goeie aanduiding van die mag van godsdiens. Laat ons nooit vergeet nie dat die teologie ’n belangrike rol gespeel het in wat later wettige apartheid sou word.

Gegewe dié realiteit moet die Kerk oor die algemeen selfondersoek doen oor of hy sy godsdiens outentiek interpreteer. Dit is veral interessant rakende die NG Kerk. In 2015 het sy algemene sinode ’n monumentale besluit geneem wat die dialoog oor seksualiteit heeltemal verander het – deur ’n standpunt in te neem dat seksuele minderhede erken en omarm sal word. Dié besluit is natuurlik in 2016 herroep – en dit is dan die grondslag vir die saak in Augustus. 

Daar is in die laaste tyd heelwat gepraat oor die planne van die kommissie vir die bevordering en beskerming van die regte van kulturele, godsdienste en taalgemeenskappe (CRL) om godsdiens in die land te reguleer. Heelwat kritiek is daaroor uitgespreek, wat noodsaaklik is. 

Tog is dit nodig om dieper daarna te kyk. Waarom voel die Kerk dat hy die reg het om hom uit te spreek oor alle instellings, maar hy verwerp dan enige kritiek teen homself?

Dit is my mening dat dit alles te doen kan hê met sy stryd met sy eie eerlikheid.

Ashwin Afrikanus Thyssen.

As die Kerk eerlik was, sou die waardigheid van alle mense ’n prioriteit gewees het. As die Kerk eerlik was, sou ons ’n teologie gehad het wat erkenning gee aan die geskiedenis. As die Kerk eerlik was, sou ons geworstel het met die alledaagse manier waarop seksisme gepleeg word. As die Kerk eerlik was, sou dit onnodig wees om regsaksie as die enigste opsie te oorweeg om verantwoordbaarheid teweeg te bring.

Suid-Afrika is nog ’n nasie wat aan groeipyne ly. Een van daardie pyne is om sin te maak van die rol wat godsdiens in die gemeenskap behoort te speel. Vir diegene in kerklike kringe kan dit baie onsekerheid inhou. 

Hoe dit ook al sy, kerke, alle kerke, moet die waardigheid van seksuele minderhede sonder enige voorwaarde erken. Kerke moet histories bewus raak. Kerke moet eerlik wees. Hulle moet inderdaad uit die kas van verontmenslikte oneerlikheid klim om uiteindelik ’n verantwoordbare kerk te wees.

  • Ashwin Afrikanus Thyssen (22) is ’n finalejaar teologiestudent aan die Universiteit Stellenbosch. Hy kom van Eersterivier.
  • Hierdie meningstuk is oorspronklik in Engels geskryf. Om die oorspronklik weergawe te lees, klik hier.

Meer oor:  Menings  |  Ng Kerk  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.