Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Kan 'n graad nie maar met 'n werk kom nie?
Karen Truter
Karen Truter

Dit is alles goed en wel. Desember deel die universiteit weer duisende sertifikate uit met “degree” in mooi goue letters daarop geskryf. Jare se geswoeg en sweet, en al wat jy kry, is ’n papier in ’n pragtige kartonrolletjie waarop daar geskryf staan dat jy wragtig suksesvol geslaag het. Indirek sê dit eintlik dat jou ouers toe nou nie al hul geld gemors het nie.

Ek is baie trots op hierdie goue papiertjie, maar daar moet ’n waarskuwing daarmee saamkom van dít wat nou op jou wag. Die groot werk soek!

Ek het die fynskrif misgelees

Kon daar nie maar ’n werk saam met die goue papiertjie gekom het nie? Of kon iemand my nie ten minste voorberei het op die lang pad van onderhoude wat ek gaan moet stap nie?

Ek het definitief die fynskrif gemis, ek is seker iewers staan daar: “Soek werk op eie risiko!”

Kon daar nie maar ’n werk saam met die goue papiertjie gekom het nie?

Dalk is ek ’n bietjie te kieskeurig, maar teen die tyd dat ek ’n kontrak onderteken en amptelik nie meer werkloos is nie, sal ek amper professioneel onderhoude kan voer. Ek wonder of ek dit op my CV kan byvoeg?

Die detail tel

Ek moet erken, ek begin eintlik die onderhoude geniet. Ek het al in soveel van die goed gesit, dat ek al ’n suksesvolle onderhoud met myself kan voer.

“Vertel ons asseblief meer van jouself”, waarna dit vir my voel asof ek elke keer ’n bietjie minder detail in my storie het.

In my eerste onderhoud het ek by die hospitaal in Bloemfontein begin, in die tweede onderhoud by my geliefde kleuterskool, Woel-en-Werskaf, en in die derde onderhoud het ek sommer weggespring met my hoërskooljare.

Elke keer as ek by nuwe mense instap, moet ek myself herinner dat dit die detail is wat tel.

Al die vrae

Een voordeel van al hierdie vrae, is dat ek myself al hoe beter leer ken. Ek kan amper elke liewe keer aan ’n nuwe sterk en swak punt dink. Ek wonder partykeer of ek net die “beste” swak punte moet opnoem. Of moet ek sommer begin by dit wat eerste in my kop opkom?

My raad: Probeer maar bly by die swak punte wat nie te sleg op papier lyk nie.

My raad: Probeer maar bly by die swak punte wat nie te sleg op papier lyk nie. Moet asseblief nie uitwys dat jy nie van Maandae hou en eintlik elke week ’n langnaweek wil vat nie. Jou voornemende werkgewer wil dit beslis nie hoor nie.

Ietsie sterkers

Nog iets wat my elke keer opval, is die tee en koffie wat hulle aanbied. Ek verstaan almal probeer seker net ordentlik wees (en ek waardeer dit opreg), maar ek het al ’n hele paar keer gewonder of dit ongeskik gaan wees om te vra vir “ietsie” sterkers.

Moenie sleg dink nie, ek bedoel iets soos ’n dubbel-espresso! Nou wil ek elke keer giggel as dié vraag opduik.

LEES OOK: Woonstel soek nie vir sissies nie

So halfpad deur my soektog na die perfekte werk, het my suster my herinner dat sy tien punte vir ’n suksesvolle werkonderhoud in lewensoriëntering geleer het. Punt no. 8 sê dat jy altyd pen en papier byderhand moet hê. Ek moes toe my tegniek aanpas en my dagboek gaan nou maar elke keer saam.

Ek moet sê, dit laat ’n mens nogal belangrik lyk (of eerder voel). Pak maar jou dagboek en jou pen in, net dalk kry jy kans om die volgende onderhoud te skeduleer.

Dis eintlik lekker

Nou die taalkwessie. My Engels is seker nie só sleg nie, maar wanneer ’n onderhoud in Engels is, sak my moed amper klaar tot in my skoene. Ek wonder of ek volgende keer kan vra of hulle die tyd wat uitgesit is vir die onderhoud kan verdubbel? Onthou nou, ek moet dink in Afrikaans en dit dan na Engels vertaal. Dit mag dalk lank vat en ek wil nie graag die volgende kandidaat laat wag terwyl ek werk aan my beste Afrikaanse-Engels nie.

Dit klink nou dalk of ek opsien na al hierdie onderhoude. Om eerlik te wees, ek doen nie meer nie. Aan die heel begin van die nuwe lewenservaring was dit stresvol, maar dit raak al hoe makliker.

Aan die heel begin van die nuwe lewenservaring was dit stresvol, maar dit raak al hoe makliker.

Soos hulle gekom en gegaan het, het ek besef dat dit eintlik ’n baie groot voorreg en geleentheid is. Ek meen, waar anders kry jy kans om vir iemand te vertel hoe slim jy nou eintlik is? Dis ’n lekker geleentheid om ’n bietjie al daardie goed wat jy net vir jou ma en pa vertel uit te pluk en dit in detail te bespreek.

Niks berei jou voor nie

Ek dink steeds dit sal goed wees as die universiteit jou net so ’n bietjie hierop kan voorberei. Die tydperk tussen graad vang en begin werk is nie vir sissies nie. Ek wonder of ’n vak soos onderhoud 911 dalk sal help? Jy sal seker opstelle oor jouself moet skryf, maar enigiets is beter as niks.

Hulle sê mos “practise makes perfect”. Ná die hoeveelste onsuksesvolle onderhoud weet ek dit!

Niks in die lewe berei ’n mens voor op hierdie werk-soek-eskapade nie.

Hier is my raad: Byt vas, want werk soek, is nie vir sissies nie. Jy sal jou man moet staan. Gaan vir soveel as moontlik oefenrondes, en oefen die vrae wat jy weet jy gaan kry voor die spieël. Iewers sal die regte geleentheid opduik, maar tot dan sal jy moet vasstaan.

Niks in die lewe berei ’n mens voor op hierdie werk-soek-eskapade nie.

  • Karen Truter (24) het 'n meestersgraad in landbou aan die Universiteit Stellenbosch voltooi. Sy kom oorspronklik van Potchefstroom.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Volg Die Student op Instagram!

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.