Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Kan ons eerder 'n kollektiewe erfenis bou?
Mercy Kannemeyer

Erfenismaand. As ’n 23-jarige in die nuwe Suid-Afrika het ek gewik en weeg oor ’n invalshoek vir hierdie onderwerp. Ek het ’n paar van my millenniërvriende gevra om my te help dink, want hoe dink ’n mens na oor ’n maand wat so ’n kleurryke verlede het?

Benewens die kleurrykheid, weet ek ook dat verskillende Suid-Afrikaners die maand verskillend sal ervaar en dat ’n verskeidenheid gevoelens jeens hierdie maand gekoester word. En dit is goed, want om vir mekaar ruimte te gun om ons verskille uit te leef en daarmee saam van mekaar te leer, kan ’n verrykende ervaring wees.

Erfenis vorm deel van identiteit. Wie jy is, is in ’n sekere mate gegrond op waar jy vandaan kom. Aanvegbare stelling? Gun my die geleentheid om dit uit te klaar.

Daar is sekere dinge wat jy nie kan vryspring wanneer daar van jou identiteit en erfenis gepraat word nie. Die teenargument is dat ons vrye teuels het om te identifiseer met wie en wat ons wil, en niemand hoef toe te laat dat hul verlede hul hede enigsins beïnvloed nie.

Ek het ’n bruin* vel en dis ’n feit soos ’n koei. Wat ek met my bruinheid maak en hoe ek dit as deel van my erfenis sien, moet egter heeltemal my eie besluit wees.

  • Ek gebruik die term “bruin” om na myself te verwys en gebruik dit dus nie uit onkunde nie. Ek verstaan dat daar ander mense is wat met ander terme na hulself verwys.

Ek was onlangs deel van die FW de Klerk-stigting se gesprek oor bruin identiteit in die kontemporêre Suid-Afrika. Van die vrae wat deel van die gesprek gevorm het, was:

  • Hoe lyk die strukture van bruin identiteit in die kontemporêre Suid-Afrika?
  • In watter mate vorm Afrikaans deel van bruin identiteit?
  • Kan identiteite verander en hoe figureer dit in die bruin gemeenskap?
  • En, sal ’n kollektiewe Suid-Afrikaanse identiteit help om ’n meer samehorige Suid-Afrikaanse identiteit te skep?

Dit is baie moeilik om die strukture van bruin identiteit te beskryf omdat daar nie net een manier van bruinwees bestaan nie. Daar is verskillende mense wat verskillend identifiseer, nes met Afrikanerskap waar daar wit mense is wat nie met die term Afrikaner identifiseer nie. Daar is wel skakels wat ons aan mekaar bind, waarvan taal seker een van die grootste bindende faktore van identiteit is.

In ’n taalsensitiewe land soos Suid-Afrika waar ons dikwels verby mekaar praat à la die toring van Babel, moet ons ook kan erken hoe taal deel van ons erfenis vorm.

In ’n taalsensitiewe land soos Suid-Afrika waar ons dikwels verby mekaar praat à la die toring van Babel, moet ons ook kan erken hoe taal deel van ons erfenis vorm.

Afrikaans, ingewikkelde verlede en al, is een van die sentrale dele van my menswees. Die onderdrukkende aard van Afrikaans wat in die verlede deur ’n menigte Suid-Afrikaners ervaar is, het gesorg vir die verdeeldheid wat vandag nog in sommige kontekste ervaar word.

Die gebruik van Afrikaans is ook vir ’n deel van ons land se mense bevrydend en bemagtigend, maar dit maak natuurlik nie die uitsluitende gebruik daarvan ongedaan nie.

Hier waar ek tans in my lewe is, stel ek belang daarin om te weet hoe ons as ’n nasie aan ’n kollektiewe erfenis kan bou. Ons burgerskap bind ons ongetwyfeld aan mekaar, dis vanselfsprekend, maar ons moet waak teen die Kumbaya-idee dat die een ding wat ons gemeen het, ons ewe skielik gelyk maak.

Daar lê vir ons werk voor om die skeiding tussen ras en klas te vernou.

Daar lê vir ons werk voor om die skeiding tussen ras en klas te vernou. Die kultuuraktivis Willa Boezak het onlangs by die Vriende van Afrikaans se Ommietafel-gesprek oor soortgelyke kwessies gesels. Hy het genoem ten einde te help bou aan Suid-Afrika, moet elkeen van ons eers ’n klein Suid-Afrika in ons eie huis bou. Versoening begin in ons hart.

Hoewel ons deurgaans oor ons erfenis moet nadink, lê daar tog waarde daarin om te gaan stilstaan en vir ’n dag of ’n maand ons land en sy mense se verlede in oënskou te neem.

Tussendeur die geraas van ons alledaagse bestaan, is daar nie altyd genoeg tyd om oor ons en ons landgenote se herkoms te besin nie. Laat ons aanhou om van mekaar te leer en ons diversiteit aan te gryp, want daarin lê ons pot goud.

  • Mercy Kannemeyer (23) is tans besig met 'n meestersgraad in drama en teaterstudie aan die Universiteit. Sy het in Port Elizabeth skoolgegaan en kom oorspronklik van Mosselbaai. "Ek woon egter nou al so lank in Stellenbosch, ek sien myself as 'n Stellenbosser," voeg sy by.
Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening  |  Erfenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.