Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Kom ons bid saam vir ons land
Joshwin Sampson
Joshwin Sampson

“Ons kinders is ons grootste skat. Hulle is ons toekoms. Diegene wat hulle misbruik, skeur aan die weefsel van ons samelewing en verswak ons nasie” is die wyse woorde van oudpresident Nelson Mandela.

Die posisie waarin Suid-Afrika hom bevind is één wat ’n wrang smaak in almal se mond laat. Korrupsie, rassisme, misdaad, werkloosheid en talle ander ongewenste elemente en wanpraktyke is aan die orde van die dag.

Baie mense sukkel om in die behoeftes van hul afhanklikes te voorsien, en trek altyd aan die kortste ent weens die slaggate in die bestuur van die regering. Hulle word blootgestel aan ’n bestaan wat dikwels aanleiding gee tot optredes wat teenstrydig is met die wet.

Desperaatheid

Dit kom alles neer op desperaatheid! Desperaatheid om kos op die tafel te sit; desperaatheid om toegang tot gratis effektiewe mediese sorg te verkry en desperaatheid om geregtigheid te laat geskied deur die wet in eie hande te neem wanneer die wet slagoffers faal. Baie is vasgevang in ’n kringloop van desperaatheid en is vanweë hul frustrasies gekondisioneerd om te glo dat dit die enigste uitweg is om na hul eie belange om te sien.

Wat die situasie vererger is die skokkende statistieke van baie Suid-Afrikaners wat onder die broodlyn lewe en afhanklik is van staatstoelae.

Wat die situasie vererger is die skokkende statistieke van baie Suid-Afrikaners wat onder die broodlyn lewe en afhanklik is van staatstoelae. As ’n persoon wat self voorheen van ’n staatstoelaag geleef het weens maatskaplike omstandighede, kan ek getuig dat dit glad nie genoeg is om elke uitgawe te dek en in elke behoefte te voorsien nie. Ten spyte van die minimale bedrag wat maandeliks ontvang word, bring dit ook ’n gemaklikheidsgevoel by mense wat uiteraard problematies kan wees.

Ons moet aanhou droom

Dus is die Suid-Afrika wat ek bitter graag oor 20 jaar wil sien ’n Suid-Afrika is waar elke landsburger met deernis, respek en waardigheid behandel word - ongeag hul ras, klas, geslag óf selfs kultuur. ’n Suid-Afrika waar almal effektiewe toegang het tot basiese noodsaaklikhede en ’n Suid-Afrika waar die misdaadstatistieke ’n drastiese afname toon.

Ja, dit mag dalk blyk asof my drome vir ons land ’n bietjie onrealisties is, maar as ons nie drome het waarnatoe ons werk nie, is alles tevergeefs.

LEES MEER: Ai tog, die selfbejammering!

Ten spyte van al die chaos waarin ons land gedompel is, is daar óók positiewe stories wat dikwels die nuus haal. Soos die petroljoggie, Nkosikho, wat ’n gestrande motoris ’n R100 gegee het om petrol in haar motor te gooi toe sy haar beursie by die huis vergeet het of die vrou wat op Twitter gegaan en gevra het vir R10 se elektrisiteit en sommer met vele meer geseën was. Dis daardie klein onbaatsugtige dade wat ’n glimlag op my gesig sit en my laat glo dat daar hoop is. Hoop vir ’n beter toekoms vir ons ALMAL.

Hoop vir ’n beter toekoms vir ons ALMAL.

So graag as wat elke Suid-Afrikaner daadwerklike pogings moet aanwend om te verseker dat Suid-Afrika ’n rooskleurige toekoms het, moet die jeugdiges die leiding neem. Hulle is immers die leiers van môre. Anders as hul voorouers moet hulle verby ras en klas kyk en eerder hande vat met anderskleuriges en saam ’n plan bewimpel oor hóé hulle die situasie waarin Suid-Afrika hom bevind kan verbeter.

Jeugdag

Die geskiedenis van Jeugdag is ’n puik voorbeeld van jeugdiges wat opgestaan het vir hul regte en teen ’n regering in opstand gekom het. Hierdie geskiedkundige gebeurtenis moet die jeug van vandag aanspoor om genoeg bravade bymekaar te skraap om weer eens vir hul regte te veg en hul stemme te laat hoor. Verandering kan nie teweeg gebring word as mense verdeeld is nie. Alleen kry ons min gedoen, maar saam vermag ons baie.

Verandering kan nie teweeg gebring word as mense verdeeld is nie. Alleen kry ons min gedoen, maar saam vermag ons baie.

Die onus rus óók op politieke leiers om jeugdiges toe te rus met die nodige vaardighede om veranderinge in hul gemeenskappe teweeg te bring. Dit sluit alle jeugdiges in – bruin, swart, wit, Indiër of Asiër. Almal verdien ’n regverdige kans.

Ten spyte van al die onrus in ons land moet ons altyd probeer om ’n positiewe gesindheid te hê. Oud en jonk kan saamwerk om te verseker dat Suid-Afrika ’n beter plek gemaak word vir alle landsburgers. Veral jong mense moet die geleentheid gebied word om hul nuwe idees en inisiatiewe in werking te stel.

LEES OOK: 'Ek droom van 'n SA sonder plaasmoorde'

Suid-Afrika is ’n tuiste vir almal wat daarin leef. As ons nie gaan saamwerk om te verseker dat ons nageslagte ’n toekoms in hierdie land gaan hê nie, dan is alles tevergeefs. Dus los ek julle met die volgende vraag: “Ek droom en bid vir ’n beter Suid-Afrika, doen julle?”

  • Joshwin Sampson (21) studeer BA Kommunikasiekunde en spesialiseer in Media Studies en Joernalistiek aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy is oorspronklik van George in die Suid-Kaap.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Hierdie meningstuk is deel van Die Student se rubriek-kompetisie waar ons vir studente gevra het om te skryf oor die Suid-Afrika wat hulle oor 20 jaar wil sien en hoe die jeug kan help om by dié droom uit te kom. Die kompetisie is in samewerking met die Universiteit Stellenbosch aangebied ter viering van Jeugdag.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
  • Volg ons op Instagram!

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Diestudentjeugdag  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.