Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Kom ons praat oor die plattelander in die vertrek
Skets: Fred Mouton

Om ’n plattelander te wees, is dikwels soos om ’n verskrikte wilde dier, verbysterde ruimtewese of die onderwerp van ’n natuurdokumentêr te wees.

Stilte op die stel, moenie die plattelander afskrik nie! Is meneer Attenborough gereed vir die stemopname? Reg so. Kamera, stilte, aksie.

Die kollig is op jou en almal wag vir die oomblik wanneer hulle ’n gedeelte van jou optrede of spraak kan uitwys as “plattelands”, met ’n woeste, aalwynbitter-nasmaak en deeglike klem op “plát”.

’n Mens besef nie volkome dat jy ’n plattelander is totdat jy behoorlik met die stedelike spesie in kontak gekom het nie – hulle wat selde ’n voet uit hul natuurlike betonoerwoud sit en nie sonder die daaglikse wegneemkoffie kan klaarkom nie. Ek meen, waarmee anders gaan ons dan nou die oseane besoedel?

Volgens hulle maak die feit dat jy in ’n dorp sonder ’n Woolworths, McDonalds of die een of ander oliebol-kettingwinkel grootgeword het, jou ’n Bear Grylls wat die dorre vlaktes moes troef om oorlewing.

Jou daaglikse brood kom van die graan wat jou pa op sy plaas moes oes uit die grond wat hy met donkies en ploegskare omgeploeg het.

Die feit dat my wortels in die Noord-Kaap lê, voorsien my wel gereeld van ’n goeie geselskap-afskoppertjie, want stedelinge vind dit skynbaar net so interessant om met ’n plattelander te gesels as om ’n National Geographic-dokumentêr te kyk.

Daarop kom die botter wat jou ma met bloedsweet in die karring moes maak en in die koudste hoekie van die spens bewaar het, want Eskom het nog nie die platteland getref nie. Wi-Fi blykbaar ook nie, aldus ’n Kapenaar wat eendag voor my in Springbok se KFC homself hofnar gehou het. Ek verbeel my die roomys het daarna effens bitterder gesmaak.

Op die dorp is daar mos net een watergat waar die manne oor ’n paar biere selfs harder skinder as die gepermde tannies by die salon. Die dorp se skindersentrale staan nooit stil nie en as jy nie weet wat drie huise verder aangaan nie, word jy beslis as agter die tyd beskou.

Daar praat die mense ook net Engels as die koningin, die pous of ’n brag-gat-neef met sy brag-gat-vrou in hul slap, brag-gat-motor van die stad kom kuier. Selfs dan is dit slegs ter wille van selfverdediging, want as jou Engelse onderwyser nie eens Engels kon praat nie, word jy maar aan jou eie lot oorgelaat.

Op die platteland speel die kinders nog karretjies, bak modderkoekies of gaan klim die klipkoppies uit en die ouers soek na enige verskoning om ’n kerkbasaar te reël of ’n boekklub te stig.

My wortels

Die feit dat my wortels in die Noord-Kaap lê, voorsien my wel gereeld van ’n goeie geselskap-afskoppertjie, want stedelinge vind dit skynbaar net so interessant om met ’n plattelander te gesels as om ’n National Geographic-dokumentêr te kyk.

En hoewel die platteland dikwels as een groot, onherbergsame hoop klippe, stof en ’n leliker woord vir niks beskryf word, bly dit vir stedelinge byna die interessantste kenmerk van ’n plattelander te wees.

Waar is jou aksent? Hoekom praat jy so plat? Hoe oud was jy toe jy jou eerste bok geskiet het? Almal op die platteland is sekerlik ’n bietjie rassisties? Kan jy ooit in die stad bestuur? Ek sal nooit drie ure na die naaste groot dorp kan ry nie. Jy kan seker goed sokkie, nè?

En hoewel ek, met ’n glimlag en ’n slot op my deur, die Kaap deesdae huis noem, sal ek my kinderjare op die platteland vir niks verruil nie. Nie vir vuil winkelsentrums of peperduur pretparke nie.

Met al hierdie vrae en aanmerkings kan ek nog vrede maak, maar moet nooit die fout maak om die platteland voor ’n plattelander af te jak nie. Plattelanders is nie verniet bekend vir taalgebruik wat ’n kerkraadslid se snorhare sal laat rys nie.

Tog praat ek Afrikaans, nes enige ander Afrikaanssprekende. Ek het eers behoorlik leer bestuur toe ek 16 jaar oud was, met my ma se motor en nie ’n vaalwit Izuzu-bakkie met tralies en skape agterop nie. Ek het nog nooit iets geskiet nie, wil ook nie en ek het ook nooit kaalvoet skool toe gestap nie.

Maar soos plattelandse kinders die kennissentrums van die land najaag om tersiêre onderrig, meng hulle al hoe meer met die stadsjapies en hul maniere. As jy dan nou jouself in Rome bevind, is daar seker geen ander uitweg nie.

En hoewel ek, met ’n glimlag en ’n slot op my deur, die Kaap deesdae huis noem, sal ek my kinderjare op die platteland vir niks verruil nie. Nie vir vuil winkelsentrums of peperduur pretparke nie.

Arleen Stone.

Ek sien myself nou as ’n hibried wat albei habitatte kan navigeer. Ek weet hoe om botter te maak, wors te stop, ’n koei te melk, met ’n langloopgeweer te skiet en hoe om myself sonder die internet besig te hou. Ek weet wel ook hoe om kitskos by ’n drive-through te bestel, op Engels nogal, hoe om ’n Uber te kry en hoe om die kaart van ’n inkopiesentrum te lees. Ek kan ook in my bloedrooi karretjie met die NC-nommerplaat soos ’n besete padvark in die N1-verkeer ry, selfs al reën dit.

Soos die meeste gebore plattelanders wat hulself deesdae in ’n stad bevind, voel ek heel trots op my gedeelde burgerskap. ’n Nuwe spesie leef dalk al vir jare onder ons neuse. ’n Spesie wat enige terrein met selfvertroue en die nodige vaardighede vir oorlewing kan trotseer.

So, meneer Attenborough, u word hartlik uitgenooi om hierdie spesie te kom besigtig. Ek dink selfs ’n man van u kaliber sal dit interessant vind.

O, die spesie se naam? Ag, noem my sommer Civitas rusticanus, die stedelike plattelander.

  • Arleen Stone (21) studeer joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch en kom oorspronklik van Springbok in die Noord-Kaap.

Meer oor:  Noord-Kaap  |  Stellenbosch  |  Menings  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.