Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Korona: 3 wenke om fopnuus te vermy
Inge du Plessis
Inge du Plessis

Die koronavirus is die onderwerp van die meeste Suid-Afrikaners se gesprekke vandat die eerste geval in Suid-Afrika op 5 Maart aangekondig is.

Hierdie pandemie het ongelukkig ’n ander virus ook laat vlamvat . . . Hierdie virus kan jou geen fisieke skade laat opdoen nie en dit kan jou – gelukkig – nie laat doodgaan nie. Dit val jou logiese denkwyse aan, veroorsaak histerie en paranoia en laat toiletpapier en blikkieskos van die rakke af vlieg. Hierdie virus is fopnuus!

Twee naweke nadat die eerste geval in Suid-Afrika aangemeld is, speel my ouma vir my ’n voicenote wat haar vriendin vir haar op WhatsApp gestuur het. Hierdie vriendin het dit van ’n vriendin af gekry wat dit van iemand gekry het wat die persoon ken wat op dié voicenote praat… of só lui die kettingboodskap.

Op die voicenote praat ’n dame vir nege minute. Dié is, blykbaar, ’n Afrikaanse dokter in Italië, ’n kenner van die koronavirus en sommer iemand met eksklusiewe informasie oor die Suid-Afrikaanse media, die 700+ Suid-Afrikaanse koronavirus-gevalle en natuurlik die 1 000 sterftes in Nigerië. Maar ons moet haar glo, want die Suid-Afrikaanse media “belieg” ons, hoor!

Dit is baie belangrik om, juis in ’n tyd wat daar baie onsekerheid in die wêreld is, staat te maak op betroubare bronne vir informasie. Én die Suid-Afrikaanse media is een!

As ’n joernalistiekstudent word ons gereeld gewaarsku teen fopnuus. My dosent maak altyd vir Donald Trump na: Hy gooi sy vinger in die lug en dan kom Trump se aksent wat sê: “FAKE NEWS!”

En dit is presies wat daardie “dokter” versprei het. Vir al wat ons weet, kan sy dalk iemand in ’n aftreeoord hier in Suid-Afrika wees met ’n vendetta teen die media, miskien is dit iemand wat al van 1994 af voorberei vir die einde van die wêreld, miskien is dit jou afgetrede geografie-onderwyseres . . . Niemand weet regtig nie!

Dit is baie belangrik om, juis in ’n tyd wat daar baie onsekerheid in die wêreld is, staat te maak op betroubare bronne vir informasie. Én die Suid-Afrikaanse media is een!

Die Suid-Afrikaanse media is in die 31ste plek op 2019 se Wêreldpersvryheid-ranglys. Dit is hoër as die Verenigde Koninkryk, wat 33ste op die ranglys is, Italië wat 43ste op die lys is én Amerika wat in die 48ste plek is. Dit beteken bloot dat die media onafhanklik van die regering en derde partye funksioneer.

Wat ons ook gedurig vergeet, is dat die media ’n besigheid is. As daar informasie weerhou word van die publiek, en ’n mediaorganisasie kry snuf in die neus daarvan, sal hulle dit wil publiseer om meer verkope te kry! Dis ’n hoogs kompeterende beroep en die media is veronderstel om die waghond van die publiek te wees wat hulle op hoogte hou van alles wat hulle direk kan affekteer.

Hier is drie basiese wenke wat jou kan help om fopnuus te vermy:

1. Kyk na die link waarop jy jou informasie gekry het.

Baie keer verander mense net een letter uit ’n oorspronklike webtuiste se adres en dan kan news24.com sommer mews24.com word. As dit enige iets soos coronawillkillall.co.za is, weet sommer dat hulle jou wil verlei.

2. Moenie boodskappe wat oor WhatsApp gestuur word glo nie.

In hierdie tyd ken mense sommer die minister van gesondheid se kinders se juffrou en enige iemand kan sommer ’n dokter in Italië wees. Moenie net enige ding glo nie. Betwyfel alles én google dit. As dit nie een van die top-nuusstories is nie, is dit heel waarskynlik glad nie nuus nie.

3. Kry al jou informasie van betroubare bronne.

Die Netwerk24-app publiseer gereeld die nuutste informasie wat oor Covid-19 in Suid-Afrika beskikbaar is, laai dit af en bly op hoogte. Die nasionale departement van gesondheid het ook ’n WhatsApp-nommer: 0600 123 456. Stuur net “hi” aan hierdie nommer en volg dan die stappe om nog betroubare informasie te kry.

Dink asseblief twee keer voor jy enige informasie oor Covid-19 aanstuur. Maak seker dat jy dit van ’n betroubare bron af gekry het, en moenie net iets aanstuur of glo omdat almal anders dit aanstuur en glo nie.

Bly kalm, bly veilig, kry akkurate informasie en was jou hande. Ons is almal saam in hierdie situasie en kan almal saam hier uitkom – sonder histerie, paranoia en fopnuus!

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.