Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Koronavirus: Is xenofobie dan ook aansteeklik?
Karla Kloete
Karla Kloete

Ons het almal al daardie goedvoel-nuusstories gesien: ’n Man dra ’n brandmaer hond deur kolkende vloedwaters tot veiligheid.

Kyk! Hierdie vreemdeling het haar nier geskenk vir ’n weeskind in nood.

Dalk is hierdie stories bedoel om ’n bietjie variasie te bring tussen al die moord, dood en politiek. Die kat met wiele vir agterbene hou jou aandag net lank genoeg voordat jy van kanaal verander.

Staan saam deur swaarkry

In tye van swaarkry sit mense hul verskille eenkant en ons staan saam. In hierdie donkerste oomblikke sien ons die beste van die mensdom. Clichés, ja, maar clichés wat ek dink ons almal graag wil glo.

In hierdie donkerste oomblikke sien ons die beste van die mensdom.

Ek wens ek kon hierdie nuusstories vertroostend om my vou, maar tragedie bring ongelukkig nie die beste in almal na vore nie.

Die koronavirus wat in China uitgebreek het, het die dodetal en infeksiekoers van die Ears-virus Sondagoggend verbygesteek.

Die reaksie op hierdie uitbreking?

Wrede en rassistiese aanmerkings aanlyn, xenofobie teenoor mense van China en diskriminasie en geweld wêreldwyd, selfs in plekke waar die virus nog nie uitgebreek het nie.

Maatreëls en voorsorg om die groeiende pandemie te bekamp is beslis verstaanbaar, maar dit was glad nie die oorheersende tema nie.

Ek was geskok om die minste te sê. Ek dink ook glad nie dat my verbasing ongegrond nie.

Is dit so onredelik van my om te verwag dat ons dood en tragedie met ’n bietjie empatie benader? Is ek blind? Is ek naïef? Of is mense net so wreed en oningelig?

Ek kan dit nie verstaan nie.

Distansieer jy jouself?

In tye van krisis en in dae vol vrees is dit sekerlik maklik om ’n groot vet lyn te trek tussen “ons” en “hulle.” Die alomteenwoordige en altyd bedreigende “hulle” van wie almal praat maar wat ek nog nooit teëgekom het nie.

In tye van krisis en in dae vol vrees is dit sekerlik maklik om ’n groot vet lyn te trek tussen “ons” en “hulle.”

Sover dit my aangaan is die meeste mense wat ek ontmoet net mense, en andersheid verdwyn gewoonlik met die eerste “hallo”.

Dalk is dit ons diepgesetelde instink om ons te distansieer van ander se teëspoed. As jy daar anderkant swaarkry beteken dit ek en myne is dan veilig anderkant die lyn?

Dalk is mense net wreed en hul vrees net ’n verskoning. Dalk is ons gedoem tot ’n valse digotomie van “ek” en “die ander”.

Dalk sal rassisme altyd koning kraai wanneer daar geen aanspreeklikheid is vir enige twiet nie.

Xenofobie en Rassisme

Met ’n handjievol gerugte van die virus in Suid-Afrika kan ek net wonder hoe vinnig xenofobie en rassisme teenoor Chinese Suid-Afrikaners ook hier gaan posvat.

’n Virus ken nie velkleur nie, jy en jou buurman is ’n ewe lekker broeiplek, ongeag die omhulsel. Pandemies ken nie grense nie; buitelander of burger, ons of hulle.

LEES OOK: 'Rassisme is nog aanvaarbaar om die braai'

Trek gerus jou lyne maar die enigste lyn wat saakmaak is die dun strepie tussen lewe en dood waaroor ons almal eendag moet trap.

Die enigste manier om hierdie pandemie te oorwin is deur internasionale samewerking, deursigtigheid deur China se regering en die wil om ander te help.

Ek kan ongelukkig nie vir die Wêreldgesondheidsorganisasie of die Verenigde Nasies voorskryf nie. Ek dink ook nie pres. Xi Jinping gaan my e-posse binnekort beantwoord nie, maar ons kan almal kies hoe ons op hierdie tragedie gaan reageer.

Gaan ons as ’n land saamstaan en omgee vir ander? Gaan ons toelaat dat stereotipes, aggressie en agterdog enige soort empatie oorwin?

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.