Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Liefde bly liefde, selfs in 2020

Kyla Janse van Rensburg
Kyla Janse van Rensburg

Vanoggend toe ek op kampus kom, het dinge anders gevoel. Ek bedoel, dit is Vrydag, maar selfs op ’n Vrydag is studente nie só gelukkig oor ’n 07:30-klas nie.

Halfpad deur die klas het ek besef hoekom almal so jolig is, toe ’n paar manne die dosent in die middel van haar sin onderbreek om “All of Me” vir een van hul meisies – as sy nie was nie, is sy nou – te sing en haar met rose en sjokolade te bederf.

Die dosent, wat tot aan die einde van die klas niks gesê het oor die voorval nie, het haar klas beëindig met ’n liederlike: “I Hate Valentine’s Day”.

Van moeg en oorlaai na positief

As jy nog nie kon aflei nie, dit was onlangs Valentynsdag en as dit nie vir hierdie manne met die stemme en die blomme was nie, het ek amper die dag ingegaan sonder om vir my kêrel iets spesiaals te doen.

Die oomblik toe ek besef watter dag dit is, het my hele houding “toevallig” verander van moeg en oorlaai na vriendelik en positief. Liefde was oral in sig, selfs al het jy nie ’n valentyn om die dag mee saam te vier nie.

Liefde was oral in sig, selfs al het jy nie ’n valentyn om die dag mee saam te vier nie.

Die res van my klasse is op eenderse maniere ontwrig, en het glimlagte op almal (selfs die ander dosente) se gesig gesit. Verder het almal gelukkig voorgekom op kampus, met stalletjies wat goedkoop geskenkies verkoop, mense wat verniet blomme weggee aan vreemdelinge en oral was ’n gesing en dans.

Al die paartjies het hande vasgehou en koffie saam gedrink en al die enkellopendes het by mede-enkellopendes uitgekom. Niemand wou die een kat wees wat nie sy room gekry het nie.

Al die paartjies het hande vasgehou en koffie saam gedrink en al die enkellopendes het by mede-enkellopendes uitgekom.

Selfs al is jy een van daardie mense wat met my 07:30-dosent saamstem, is dié dag steeds ’n geleentheid wat nie ongesiens verby kan gaan nie. Jy gaan steeds die aand uit en vier jul gedeelde afkeer van die dag saam met vriende by die een of ander “I Hate V-day”-partytjie.

Nadat my bui verander het en ek Valentynsdag saam met my kêrel en vriende kon geniet, kon ek ’n bietjie introspeksie doen.

Lyk liefde anders in 2020?

My antwoord op die vraag sal daarom wees: Nee, liefde lyk nie anders in 2020 nie, dit lyk nog presies dieselfde as altyd. Sien, liefde kan jou vriend wees, soos vir die manne met die stemme en die blomme of dit kan jou vyand wees, soos vir die dosent wat die einste manne met haar skootrekenaar wou gooi. Of liefde kan verby jou loop omdat jy vasgevang is in roetine en negatiwiteit, soos wat ek was.

LEES OOK: Dít is wat die liefde moet wees

Ja, liefde kan enigeen van hierdie rolle vertolk, maar liefde bly liefde. Dit lyk nie anders as laasweek, verlede maand, laasjaar of selfs die afgelope dekade nie.

Wat wel anders kan lyk, is jy (net soos toe ek besef het dat dit Valentynsdag is). Dwing liefde om anders na jóu te kyk vanjaar. Maak liefde jou verliefde in 2020.

  • Kyla Jansen van Vuuren (20) studeer BCom rekeningkundige wetenskap aan die Universiteit van Pretoria. Sy kom oorspronklik van Uitenhage in die Oos-Kaap.
  • Hierdie meningstuk is deel van ’n kompetisie op Die Student waar studente gevra word: Lyk die liefde anders in 2020? Klik hier om die ander meningstukke te lees.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Volg ons op Instagram en Facebook!
  • Ons stuur elke Vrydag ‘n nuusbrief uit met die drie gewildste meningstukke van die week. Klik hier en teken in vir die Stemme-nuusbrief.
Meer oor:  Liefdediestudent  |  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.