Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Liewe Eerstejaar, pak die bul by die horings!

Universiteit kan vir baie mense vreeslik oorweldigend wees.

Die realiteit van jy wat in die “grootmenswêreld” invaar word al hoe meer ’n werklikheid. En ja, “grootmens” is in aanhalingstekens om verskeie redes.

Dis ’n groot aanpassing om uit die huis te trek en dan op jou eie of in ’n koshuis in te trek.

Jean-Mare MareeFoto: Verskaf

Skielik is Mamma nie daar om klere agter jou op te tel en te was nie en Pappa braai nie elke Vrydag steaks nie. Die lekker bord kos wat elke aand op die tafel vir jou staan en wag, is ook ’n droom wat lankal vergete is teen die tyd dat jy by die universiteit opdaag.

Ag! Ek gaan nou ook nie die duisendste persoon wees wat jou gaan herinner dat Covid-19 steeds ’n ding is nie en dat jy asseblief jou hande moet ontsmet nie. Ek’s doodseker al die plakkate oor Suid-Afrika heen herinner jou genoeg daaraan.

Liewe Eerstejaar, hierdie is werklik jóú tyd!

Vergeet maar van die stories wat Oom Jan jou vertel het van “die goeie ou dae” toe hy nog geswot het, want daardie dae is, nes sy jeug, lankal verby. Terselfdertyd kan jy ook al die laataand uitgaan-stories wat jou ouer sussie of broer jou vertel het, uit jou geheue ban.

Universiteit is waar jy self die pen optel en jou eie storie begin skryf, so om vas te klou aan iemand anders se realiteit gaan nie jou universiteitslewe beter maak nie. Dit gaan jou konstant laat voel asof jy iets mis. Maak hierdie jou tyd om jouself te vind en ook terselfdertyd jou soort mense en dit wat jy uit die lewe wil hê.

Dan gaan jy onthou “herre maak sterre” en jouself nog ’n kans gee om beter te doen.

Jy gaan nog so baie foute maak, so asseblief moenie te hard wees op jouself nie. Jy gaan nie vir elke toets bo 60% kry nie en party toetse gaan jou so sleg laat voel dat jy gaan wens die aarde kan jou net insluk.

Dan gaan jy onthou “herre maak sterre” en jouself nog ’n kans gee om beter te doen.

Jy gaan jouself so ’n bietjie verloor en dan jouself totaal en al vind op maniere wat jy nooit verwag het nie. Jy gaan jou hart verloor en jy gaan die liefde so verwens dat jou ouers sou skaamkry, en dan gaan jy jou prinses of jou ridder op die wit perd vind op die plek waar jy dit die minste verwag.

Een ding wat jy moet onthou, liewe Eerstejaar, is dat die mense wat op kampus werk, ons almal se vriende is en ons moet hulle met die grootste respek hanteer.

Dit sluit elke Doktor, Professor, Meneer, Mevrou en elke liewe skoonmaker en hekwag in. Op universiteit groet jy hulle elke keer wanneer hulle verby jou stap. Hierdie mense hanteer jy soos wat jy jou eie ouers en oupa en ouma hanteer – met die wêreld se respek en vriendelikheid. Hulle gaan jou grootste aanwins wees tydens jou tyd op kampus.

Die werklikheid van wat dit is om student te wees,
Die werklikheid van wat dit is om student te wees, begin nou insink, skryf Jean-Mare Maree. Foto: Unsplash

Moet terselfdertyd nie vergeet dat jy wel op universiteit is om ’n graad te verwerf nie en dat jy minstens so ’n bietjie akademies moet verkeer.

Moet nooit take en leer vir toetse los vir Woensdag- tot Saterdagaande nie – jy gaan dit berou! Tydens hierdie tydperk van die week is die studente aan die gang en gaan jy êrens in die strik trap en van óf ’n toets of ’n taak vergeet.

Liewe Eerstejaar, om ’n student te wees is werklik een van die beste tye van jou lewe en ’n mens geniet elke bietjie sleg net soveel soos jy elke bietjie goed geniet. Moenie van jou ouers en al jou ander familielede vergeet tydens hierdie lekker tyd in jou lewe nie. Maak Sondae net voor kerk tyd om vinnig-vinnig jou ouers te bel en seker te maak hulle weet jy’t nog ’n week alleen oorleef.

Kies dus jou vriende en die mense waarmee jy jouself omring verskriklik mooi.

Vriende is veral in hierdie tydperk van jou lewe belangrik. Die vriende wat jy kies om saam met jou hierdie paadjie te stap kan óf bydra tot jou sukses óf jou verhoed om die sukses waartoe jy in staat is te bereik.

Kies dus jou vriende en die mense waarmee jy jouself omring verskriklik mooi.

As jy deel kan vorm van enige aktiwiteite op kampus (koshuis-verband of nie), raak betrokke. Deur jouself buite die boksie te plaas van jou hoërskool-persona gaan jy werklik jouself leer ken en dinge ontdek wat jy nooit gedink het jy van gaan hou nie.

Liewe Eerstejaar, moenie dat Covid-19 jou terughou om hierdie eenkeer-in-’n-leeftyd-geleentheid met albei hande aan te gryp nie. Hierdie is jou tyd en wat jy daarmee maak, gaan en kan net van jou afhang. Pak die bul by die horings en gaan met self vertroue in hierdie nuwe fase van jou lewe in.

  • Jean-Mare Maree studeer BA Sielkunde met arbeidsverhoudinge aan die Noordwes-Universiteit.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Volg ons op Instagram en Facebook!

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF? 

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video: 

Meer oor:  Mening  |  2021  |  Suid-Afrika  |  Die Student
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.