Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Liewe Marciel, hoe vertrou ek weer ná seerkry?

Liewe Marciel
Marciel Hopkins is nie net ’n model en die splinternuwe aanbieder van Boer soek ’n vrou nie. Sy is ook ’n lewensafrigteren gaan een keer per maand ’n student met raad help.

Het jy iets op die hart waarmee Marciel dalk kan help? Stuur jou vraag per e-pos na diestudent@netwerk24.com. Dit sal anoniem aan Marciel gestuur word en anoniem gepubliseer word.

VRAAG:

Hoe vertrou jy weer iemand as ’n geliefde jou al in die verlede seergemaak (verneuk, afgekraak, leuens vertel) het?

ANTWOORD:

Teleurstelling en seerkry is ongelukkig deel van die lewe en dis nie iets wat ons werklik kan vryspring nie. Ek glo ons kan uit ons foute leer, maar jy gaan wel met ’n paar stampe en stote deur die lewe gaan.

Jy verwys na iemand wat jou verneuk, vir jou jok en wat jou afkraak. Dit klink na iemand wat jou emosioneel afgebreek en gemanipuleer het, wat beteken jy was in ’n toksiese verhouding.

My wens vir jou is om iemand te ontmoet wat jou op die hande dra en wat jou die ervaring van ’n gesonde verhouding herdefinieer.

Om iemand in die toekoms te kan vertrou, moet ’n mens eers vergewe. As jy ’n wrok in jou hart hou teen iemand, gaan jy nooit werklik kan aanbeweeg nie. Om iemand te haat, beteken om steeds gevoelens vir hom/haar te hê, wat in die proses jou energie dreineer.

Om iemand te kan vergewe, moet jy baie eerlik wees oor jou eie emosies en wat presies jy voel. Praat met ’n goeie vriendin of familielid, of skryf jou emosies neer: Solank jy nie jou emosies opkrop nie; jy moet uiting daaraan gee.

LEES OOK: Liewe Marciel, hoe kan ek my angs verminder?

Om weer te vertrou gaan nie maklik wees nie, maar dit is nodig as jy ’n gesonde verhouding met iemand wil kweek. Dit is belangrik om deur ’n rouproses te gaan en om uiting te gee aan jou emosies, soos bo genoem, maar dan moet ’n mens ook uit die slagoffermentaliteit kom. Om die persoon wat jou seergemaak het te vergewe is nie vir sy/haar beswil nie, maar vir joune! Dit sal jou in staat stel om te kan aanbeweeg.

As jy dan iemand in die toekoms ontmoet van wie jy hou en wat jy graag beter wil leer ken, is dit belangrik om nie mure om jou hart te bou nie. As jy niks van jouself wil deel nie, kan die ander persoon nie sien wie jy is nie.

Dit is hoekom vergifnis so belangrik is, om daardie mure af te breek! Ons samelewing kyk neer op weerloosheid, maar dit is een van die sterkste emosies wat ons as mense aanmekaar bind. Wees eerlik met die persoon wat jy beter leer ken en sê vir hom/haar dat jy voorheen baie seergekry het en dat dit hierdie keer vir jou moeiliker is om oop te maak; maar jy probeer jou bes. Hy/sy moet asseblief die proses respekteer en jou genoeg tyd gee om deur die uitdagings te werk. Die verhouding word dan van die begin af op ’n grondslag van eerlikheid en gesonde grense gebou.

LEES OOK: Liewe Marciel, ek is in die verlede verneuk. Hoe vertrou ek iemand weer?

Laat dan die verlede waar dit hoort en fokus op die goeie kwaliteite van die nuwe verhouding.

Dit help nie jy vergelyk die nuwe persoon in jou lewe met wat die vorige persoon aan jou gedoen het nie. Ons moet lewe en in die hede besluite neem!

Ek glo jy het geleer uit die vorige verhouding om waarskuwingsligte raak te sien wanneer hulle daar is, en dat jy so ver as wat jy kan iemand sal vermy wat jou dalk weer gaan afkraak of verneuk.

Een van die gelukkigste oomblikke in jou lewe is wanneer jy die moed het om dinge waaraan jy niks kan doen nie te aanvaar.

Ek wens jou alle geluk en ’n gesonde verhouding toe!

  • Marciel Hopkins is 'n model, life coach, motiveringspreker en 'n gasskrywer vir Die Student. Sy het drama aan die Universiteit Stellenbosch studeer en het in Franschhoek en die Paarl groot geword.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
Meer oor:  Marciel Hopkins  |  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.