Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
‘Likes’ en ‘followers’: Verloor ons ons mensekennis?

Die samelewing is behep met 'likes' en 'follows'.


My oupa sê altyd tong in die kies vir ons: “Small things amuse small minds”.

Dít wanneer hy sy uitkyk oor sosiale media met ons deel. In ’n sekere mate stem ek volkome saam met my oupa en die vele ander mense se mening oor jong mense se beheptheid met Facebook, Twitter en Instagram.

Ek kan seker nie veel sê oor die beheptheid van jong mense met sosiale media nie, want ek gebruik dit daagliks self.

Ek glo die meeste van julle gaan met my saamstem as ek sê sosiale media is ons ontsnapping uit die chaos wat ons deesdae “normaal” moet noem.

Dit hou ons op datum met die jongste gebeure en nuus en laat ons toe om te sien waarmee ons vriende en familie (wat ons nie mag besoek nie) hulself besig hou.

My enigste bekommernis is dat hierdie platforms besig is om ons heeltemal uit voeling met alles om ons te maak.

Dit is soos ’n brander wat ons meesleur en stadig laat verdrink.

Ja, al hierdie platforms het menige voordele, maar vir vandag se jong mense gaan dit eerder oor die aantal “likes” en “followers” wat hulle het.

My susters het hierdie inperkingstyd gebruik om te sien wie die meeste TikTok-volgelinge kan kry in ’n spesifieke tydperk. Dit klink dalk na ’n interessante tydverdryf, maar net totdat jy besef hulle het as gevolg hiervan vir byna ’n week lank nie geslaap nie.

Divan Eloff Foto: Verskaf

My vriende is ’n ander voorbeeld. Vir hulle gaan dit die meeste van die tyd oor hoeveel mense hul plasings “like”.

Ons het totaal verslaaf geraak aan die aandag wat ons plasings op hierdie platforms geniet. Dit is soos ’n dwelm waaraan ons almal onbewustelik, maar vrywillig, verslaaf raak.

Die meeste van ons is vandag te bang om met mense van aangesig tot aangesig te praat. Oogkontak is slegs gereserveer vir die selfie-kamera op jou foon. Vriende is digitaal en verhoudings bestaan uit eenvoudige WhatsApp-boodskappe.

Aan die anderkant van die spektrum word die brander van sosiale media eerder as ’n tsoenami beskou.

Dit beïnvloed nie meer net jong mense nie, maar ook ouer mense. Almal sal vandag eerder op een van die platforms tyd saam met vreemdelinge deurbring as om met mekaar te sit en gesels.

My ouma vertel ons baie van hoe hulle in die verlede saam met vriendinne gekuier het.

Deesdae is my ouma net soos duisende ander tannies daagliks op Facebook met hul “goeiemôre”-foto’s wat hulle van Pinterest steel.

Hierdie platforms het ons hele lewe oorgeneem. Ons plaas foto’s daarop, deel ons gedagtes en emosies daarop en kan selfs ons menings oor menige onderwerp lug.

Maar dit is asof ons dit geniet wanneer ons aandag kry deur die “likes” en die “comments”. Dit gaan lankal nie meer oor om kontak met ou vriende te behou of om te sien wat die familie aanvang nie.

Miskien is dit verkeerd om te redeneer dat ons onsself moet distansieer van sosiale media, dat die strewe na “likes” en “followers” verkeerd is. Veral as dit die fondasie van hierdie eeu is, maar dit is nie nodig dat ons ons basiese mensekennis verloor nie.

Ek dink dit is belangrik om ’n gesonde balans te handhaaf tussen hoeveel tyd ons op sosiale media bestee en die tyd wat ons bestee om die wêreld om ons te leer ken.

“Likes” en “followers” gaan die wêreld om jou laat verbygaan. Dit help nie jy leef om ’n aktiewe “feed” te behou, maar jy laat die mense, avonture en kosbare oomblikke verby jou gaan nie.

  • Divan Eloff studeer sielkunde en geesteswetenskappe by die Noordwes-Universiteit. Hy kom oorspronklik van Riebeeckstad in die Vrystaat
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie. 
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier. 
  • Volg ons op Instagram en Facebook

Meer oor:  Studente  |  Mening  |  Suid-Afrika  |  Die Student
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.