Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
'Los Orania se mense uit, hulle pla niemand'
Colette Combrink.
Colette Combrink.

As iets op die plaas gesteel word of enige ander onnodige steurende ding gebeur, sê my pa graag hy verstaan nie hoe mense ander mense se lewe aspris ongemaklik maak nie.

“Man, ek het mos nou niemand gepla nie. Los my net in vrede,” sal hy sê.

Ek het nooit ’n goeie antwoord as my pa dit sê nie, want om te verduidelik hoekom mense verkies om ander te verontrief vir hul eie gewin, is nie iets wat ek kan verklaar nie en nog minder waarvoor ek werklik antwoorde gaan hê.

Dit is by my pa wat ek geleer het om my bes te doen om mense nie te verontrief nie. Dit gaan saam met respek vir jou medemens en net basiese maniere.

As dit kom by politiek en die respekteer van mekaar se kulture in ons land met ’n oorweldigende mengelmoes kulture, voel ek eenders. Niemand se kultuur hoef verdruk of verbied te word nie, tensy dit ander mense verontrief. Daarby moet ons verder mooi dink oor die woord “verontrief”, want my gerief en jou gerief kan twee baie verskillende dinge wees. Maar hoe ek dit basies en in breë verstaan, is dat niemand anders se lewe in gevaar gestel word nie en iemand anders nie verdruk word nie.

In en uit die dorpie gewaai

Ek het onlangs ’n bietjie gaan kuier in Orania, een van die mees omstrede gemeenskappe sedert 1991. Ek het by die dorp ingery en probeer om al my vooropgestelde idees oor die mense in my broeksak te steek om ’n nugter en volledige beeld van die dorp te vorm. Die retoriek rondom Orania is dikwels baie ver van positief af en daar word woorde soos “rassisme” en “moderne apartheid” gebruik om die dorp te beskryf.

Maar ek was verras.

Ek het geweet ek is op die platteland toe ’n oom in ’n Hilux, seker so 20 km voor die dorp vriendelik oor sy stuurwiel vir my waai asof ons ou vriende is.

Ek het geweet ek is op die platteland toe ’n oom in ’n Hilux, seker so 20 km voor die dorp vriendelik oor sy stuurwiel vir my waai asof ons ou vriende is. En die volgende voertuig en die volgende voertuig en die volgende voertuig het dit aanhou doen. En hulle het my ook uiteindelik ná ’n paar dae gaaf uit die dorp uit gewaai.

Alles is Afrikaans. Alles is skoon en mense is meestal baie gaaf. Die dorp funksioneer grootliks op sonkrag en hul water kom van die Oranjerivier af. Op elke hoek is ’n vullisblik vir herwinning.

Maar dis ver van die res van die samelewing af. Báie ver, eintlik. Sodra jy dink jy gaan van die aarde af ry en angstig begin kyk waar die naaste plaashuis is, vir ingeval jy ’n pap band op die grondpaaie kry, dan ry jy nog so klein bietjie aan. En en as jy dan links draai, sit die dorpie in al sy rus en vrede aan die oewer van die Oranjerivier.

LEES MEER: 'Moenie my sommer ’n goeie Christen noem nie'

Ja, dit is ’n dorp met net Afrikaners – ’n baie spesifieke groep mense wat saamgesnoer is nie net weens hulle velkleur nie, maar deur hul waardes, hul geloof, en hul kulturele gebruike. Daar is selfs ’n beeld van ’n koeksister op die dorp. Daar is ook mense oor ’n wye spektrum, soos die biblioteektannie met wie ek kon gesels oor kontemporêre kuns en André P. Brink en Eben Venter se meer uitdagende boeke. En dan is daar mense wat baie meer konserwatief lees, praat en leef.

Gun elke mens sy mening

Soos die grappie oor twee Afrikaners wat op ’n strand uitspoel en die volgende dag is daar twee politieke partye en drie kerke, is dit hier ook die geval.

Ek kon 11 kerke tel op die dorp met sy byna 2 000 inwoners. Daar is ook ander probleme. Soos daar altyd probleme is. Die klimaat is absolute uiterstes – in die winter vries jy dood en in die somer vat die son dooierus. Daar is armoede. En ek stem nie noodwendig met almal se sienings saam nie, maar dit maak hul opinies nie minderwaardig nie en dit neem vir seker nie weg van hul menswees nie.

En jy gaan natuurlik nie alles in die OK kry wat jou hart begeer nie, maar die mense lyk in die algemeen gelukkiger as wat ek verwag het.

En jy gaan natuurlik nie alles in die OK kry wat jou hart begeer nie, maar die mense lyk in die algemeen gelukkiger as wat ek verwag het.

En hulle pla niemand nie.

Dié dorpie is veels te ver van enige ander mense af, daar is dus niemand om te pla nie. Die dorp groei, met mense wat hier wil wees. Met mense wat die administrasie, munisipale pligte en finansiële las van die omgewing van die regering se skouers afhaal. Dis doodeenvoudig mense wat in vrede hul ding wil doen – of dit koffie maak, of kuns maak of boer of enigiets anders is.

Orania is nie veronderstel om so omstrede te wees nie, want die idee van die dorp is nie verkeerd nie. Niemand se grond of huise is van hulle weggevat om die plek te stig nie, dis bloot mense wat afhanklik van die regering wil ontwikkel, en trots is op hul kultuur – en daarvoor, dink ek, behoort ons al die respek in die wêreld te hê.

Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.