Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Maak met jou probleme soos MacGyver sou
Emile Muller

Newton se Derde Wet stel die volgende voor: “Elke aksie het ’n gelyke en teenoorgestelde reaksie.”

Dit beteken eenvoudig die magte wat die eerste voorwerp beïnvloed, is presies dieselfde as die magte wat die tweede voorwerp beïnvloed.

Dit is dalk waar in fisiese wetenskap, maar in die wêreld daarbuite speel ons met ander reëls.

Die lewe is nie regverdig nie. Jy kan dalk hard werk, nie gaan kuier nie en steeds vaar jy sleg met daai vraestel.

Ná jou klas werk jy dalk vir sakgeld en êrens kla iemand dat jy nie jou werk doen nie, terwyl die res van jou vriende en familie weet hoe min jy saam met hulle kan sit en kuier oor die naweek. Die ergste is om saam met iemand in ’n groepsprojek te wees wat nie sy of haar kant bring nie.

Wat staan ’n mens te doen in so ’n geval? Die bekende antwoord is “gaan maar aan” of “probeer weer”.

Wat gebeur as jy nie net kan aangaan nie? Kom ons gaan terug na die voorbeeld van die student wat beskuldig is dat hy nie sy werk doen nie.

Die lewe is soms onregverdig... Foto ter illustras
Die lewe is soms onregverdig... Foto ter illustrasie. Foto: Tim Gouw/Unsplash

In die geval kan jy nie “weer probeer” nie. As jy in so ’n geval skuldig is, moet jy dit net erken en vrede maak met die situasie, maar as jy reg is oor jou saak, dan moet ’n mens die probleem eers probeer oplos. Dit geld natuurlik die persoon wat kla ook. Maar as die een wat beskuldig, volhou met sy argument, is dit tyd om ruggraat te wys en vir jouself op te staan.

In dié geval behoort die waarheid uiteindelik uit te kom, maar die feit dat jy deur die proses moes gaan om jouself onskuldig te bewys, is klaar ’n las. Met sommige laste moet ’n mens ongelukkig vrede maak want, soos ons reeds weet, is die lewe nie regverdig nie. Sulke goed gebeur.

Dit hou verband met die vraag: “Waarom gebeur slegte dinge met goeie mense?”

Dit is moeilik om te beantwoord en dit moet uit ’n ander oogpunt benader word.

Ek kyk na die vraag uit die punt van geloof, want waarheen draai jy in moeilike tye? Die algemene antwoord sal wees vriende en familie, maar ook na jou geloof.

Jou geloof is jou rots en dit is wat in moeilike tye getoets word. Hou jy vas aan daai rots of is hy net te glad vir jou?

Jou geloof is jou rots... Foto ter illustrasie. Fo
Jou geloof is jou rots... Foto ter illustrasie. Foto: Winggo Tse/Unsplash

Op die skerm van jou TV of tablet is daar altyd iemand wat die probleem kom oplos vir iemand wat swaarkry.

Die held in die reeks wat ek nou onlangs weer begin kyk het, se naam is MacGyver. Ek praat van die ou een van die jare 80. Vra jou ouers, hulle sal die Richard Dean Anderson-weergawe goed ken.

MacGyver se gawe was sy kennis.

MacGyver se talent was nie mik met ’n haelgeweer en skiet deur die probleem soos baie van die ander TV-programme in daai dae nie. Dink maar aan die A-Team. Nee, MacGyver se gawe was sy kennis. Hy kon enige probleem oplos met wetenskap en ’n klein rooi Switserse weermagmes.

Hy sou gereeld ’n probleem oplos met niks meer nie as lemoensap en batterysuur. Dit het hy op ’n slag gebruik om foto’s (toe dit nog op film geneem was) te ontwikkel in die middel van ’n woud.

Ek sê hoegenaamd nie jy moet batterysuur gebruik om jou probleme op te los nie (moet dit nie by die huis probeer doen nie!) Wat ek wel sê, is dat ’n mens moet logies dink in situasies van groot druk.

MacGyver was almal se held in die 80s.
MacGyver was almal se held in die 80s.

Wat MacGyver altyd eers gedoen het wanneer hy op ’n probleem afkom, is om asem te haal en die situasie te evalueer. Nadat hy die situasie bekyk het, was dit tyd om sy rooi mes uit te ruk en te begin werk aan die oplossing.

Die oplossing was soms baie eenvoudig.

Op ’n keer bevind MacGyver hom in die rowwe deel van die dorp op soek na ’n tiener. Hy moes die tiener kry om te getuig voor ’n verhoor daardie dag maar, om die seun se vertroue te wen, moes MacGyver hom eers in ’n pot snoeker wen. Dit is waar MacGyver toe vir die seun leer van Newton se derde Wet.

Soos hy bal ná bal inslaan en die wet verduidelik aan die seun, leer hy vir ons ook ’n les. Die les is dat ons self die reaksie op ’n daad beheer. Die afleiding wat ’n mens kan maak, is as iemand iets aan jou doen, moet jy op ’n rasionele manier en proporsioneel reageer, want as jy dit nie doen nie, kan jy dalk ’n slegte situasie net slegter maak.

In sommige omstandighede is dit ook goed om glad nie te reageer nie.

In kort, haal eers asem en dink logies sodat jy rasioneel kan reageer vir ’n manier om die probleem op te los.

Dan beweeg jy aan, want môre is nog ’n dag en dit help nie jy dink terug aan die slegte van die verlede nie.

  • Emile Muller is ’n vierdejaarstudent wat forensiese rekeningkunde en vir ’n geoktrooieerde rekenmeester aan die Noordwes-Universiteit studeer.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier!
  • Volg ons op Facebook en Instagram!

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF? Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video:

Meer oor:  Stemme  |  Suid-Afrika  |  Die Student
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.