Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
'Mamma, ek soek 'n ekstra geldjie'
’n Ma se liefde is onwrikbaar vir haar kinders.

Vanoggend hol ek die winkels in. Ek hol nie gewoonlik nie, maar soms dink ek my onderbewussyn paai my om laat te wees sodat ek bietjie aan die hol kom vir weeklikse inspanning. Ek wat hol lyk bietjie meer soos iemand wat ongemaklik vinnig loop om by die badkamer uit te kom as iemand wat naellope doen, maar dis wat my fisiese kapasiteit my toelaat om te doen en my onderbewussyn is tevrede tot ek weer laat is.

Ek is verbouereerd op soek na ’n geskenk voor die verjaardagete om twaalfuur. Dis Sondag ná kerk en daar is tannies so volop soos Namakwalandblomme in September. Maar, minder aangenaam! Tipies ek – weet al ’n maand en ’n half van die ete, maar los die geskenksoekery vir ’n uur en ’n half voor die pynlike vriendin wat altyd betyds is en eerste by die ete opdaag.

Toe wil ek sommer ook nog gou iewers fotostate laat maak, my klavierboek koop by die musiekwinkel (ek neem nog heeltyd my stukke met die selfoon af vir die kere wat ek in elk geval nooit oefen nie), nóg ’n geskenk koop vir ’n vriendin wat Woensdag verjaar en brandstof ingooi.

O ja, en my tandepasta is op en ek kort ’n paar kruideniersware vir die week. Al hierdie items moet nou gekoop word op die oggend van die 19de Augustus waar my bankbalans skaars die tandepasta alleen kon bekostig. Ek is ’n student en ook goed verstrooid – vooruit beplan is vir my ’n uitheemse konsep!

My ma-bank

Ek bel toe vir ma-bank en vertel haar van my krisis. Van die geskenke, die klavierboek, brandstof, fotostate, kruideniersware en tandepasta en ook die dringendheid daarvan. Ek moet amper gaan aansit vir ’n ete waarvoor ek nie kan betaal nie en ek vertel haar ook van die tannies. Neem vanselfsprekend aan sy sal my jammer kry en ietsie inbetaal. Wat toe die geval was. Ek ervaar innerlike blydskap toe die boodskap op my selfoon deurkom van moeder se inbetaling (en vergeet byna om vir haar ’n kortaf dankie-boodskap te tik).

By die laaste winkel uit, hardloop ek kar toe en koes vir drie veldblomme met trollies. Ek sal dit maklik nog betyds maak vir die ete. By die kar besef ek, ek het nie ’n geskenkpakkie gekoop nie. Ek verpes die goed! Dis ’n vieslike uitgawe en die aarde het dit nie nodig nie, maar ek het geen alternatief in my haas nie.

Hardloop terug na die winkelsentrum en in by die eerste beste winkel wat dit moontlik kan aanhou. Dis ’n winkel wat binnenshuise versierings en benodigdhede verkoop. Geskenkpakkies ook (dank vader!).

Die rooi matjie

Dis toe ek met die geskenkpakkie by die betaalpunt staan toe ek die twee mense wat wil betaal gewaar. ’n Mooi versorgde vrou met gemaklike, maar netjiese, klere aan. Kort, uitgeblaasde, blonde hare wat by haar ouderdom pas. Middel 50’s. En ’n heelwat jonger man (haar seun dalk?). Kort geskeerde donker hare. Kortbroek. Plakkies. Gholf-hemp. Minder stylvol, maar niks is darem khaki nie. Seker pas 30 geword.

Hulle koop beddegoed en handdoeke. Alles in tydlose grys. “Seun (bevestig toe my vermoede), wil jy nie maar ’n matjie vir langs jou bed ook vat nie? Ek weet dis nie nóú belangrik nie, maar dis nie lekker om in die winter uit jou bed uit te klim op ’n koue vloer nie,” vra-sê sy en loop terug na die beddegoedafdeling nog voordat hy kon antwoord. Minder as ’n minuut later kom sy terug en sit ’n bloedrooi bedmatjie op die toonbank neer en betaal. Vir alles.

Dit was ek en my ma wat voor my afgespeel het. Die stemtoon – die teerheid daarin. Die bekommerde, moederlike blik wat wil weet dat haar seun oukei gaan wees in die nuwe plek waarvoor hulle al die huisgoed koop. Die besliste omdraai om die matjie te gaan haal, want eintlik was dit nie ’n vraag aan hom nie. Sy het hardop gedink. Die besorgdheid dat hy alles het om te leef (nie net te oorleef nie) sodra sy hom klaar gehelp het om die nuwe duvet oor te trek en in haar kar klim. En die vinnige huiwering toe sy in die beursie kyk en die kaart met ’n effe geforseerde, maar oortuigende glimlag aan die kassier oorhandig. Sy sal pap en water eet solank haar seun ’n rooi matjie langs sy bed het sodat sy voete nie in die winteroggende koud kry nie.

Sybrand B. Harris.
Sy sal sukkel sodat ek nie hoef nie

Ek het amper bewoë geraak in daardie paar minute wat ek hulle skelm staan en bekyk het, want ek het toe eers besef dat my ma ook vir my ’n rooi matjie se geld inbetaal vanoggend. Koop maar die klavierboek, dis nie nou belangrik nie, maar dis nie lekker om by jou les op te daag sonder een nie. Koop maar ’n geskenk, dis nie nou belangrik nie, maar dis nie lekker om leë hande by die verjaarsdagpartytjie op te daag nie. Gooi maar jou kar vol, dis nie nou belangrik nie, maar dis nie lekker om heeltyd te wonder hoe ver jy nog met die onder-kwart-tenk brandstof kan ry nie. Ek betaal vir jou so ’n bietjie ekstra in vir die res van die maand, dis nie lekker om te sukkel nie. Sy weet, want soms sukkel sy sodat ek nie hoef nie.

’n Ma se liefde is onwrikbaar vir haar kinders. Ek het dit vandag weereens besef en om te dink ek het dit amper vandag (weereens) as sommerso aanvaar.

Dankie vir die rooimatjiegeld, Ma. Ek weet dit was nie nou belangrik nie.

  • Sybrand B. Harris (23) is ‘n vyfdejaar veeartsenykunde student aan die Universiteit van Pretoria se Onderstepoort-kampus.  Hy is gebore in die bosvelddorpie, Louis Trichardt, en het aan die Hoërskool Ermelo gematrikuleer.  Hy is ook 'n ambassadeur vir Afrikaans.com.
Meer oor:  Pretoria  |  Menings  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.