Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Manspreading: Wye woede en die manlike ridder

Verbeel jou jy sit op Kaapse mooiweerdag lekker wydsbeen gesprei in jou sitplek op ’n MyCiti- of Golden Arrow-bus en skielik kom sit ’n vrou huiwerig langs jou. Sy kyk jou vurig aan asof sy woedend is vir jou, maar jy weet nie wat aan die gang is nie...

Wees bly dit is net ’n gluur uit die hel.

In Europa gooi ’n vrou sommer ’n bleikmiddel of water oor mans se wydgespreide bene en tussen-in, soos wat dit onlangs op sosiale media gesien is.

‘Manspreading’

Met die koms van sosiale media het die term manspreading ontstaan vir wanneer ’n man in openbare vervoer so wydsbeen uitsprei. In verskeie Europese lande het vroue nou begin om met water of ’n bleikmiddel rond te loop sodat hulle dit kan uitgooi oor ’n man as hulle hom so vang sit.

LEES OOKVrou spuit mans op trein as hulle wydsbeen sit.

Die term is in 2013 gebore in ’n anti-manspreading-veldtog op Tumblr en is in Augustus 2015 vir die eerste keer in die Oxford-woordeboek opgeneem.

Ek wil nie reageer op die fisieke manifestering van die vroue se aksies nie.

Hoewel hulle sekerlik nie noodwendig langs ons wil sit nie, word die bleikmiddel en water eintlik ingespan om mans bewus te maak van dié toksiese (manlike) gedragsetiket wat deur die patriargale bloed in ons are bruis.

Of jy nou geslagsbevoorregting ken of ontken, jy sal nooit weer ’n “onskuldige slagoffer” wees van vroue wat hul doopswater (soos ek dit skertsend wil benaam) uitgooi oor jou manlike erfporsie tussen die lieste nie.

Hoewel hulle sekerlik nie noodwendig langs ons wil sit nie, word die bleikmiddel en water eintlik ingespan om mans bewus te maak van dié toksiese (manlike) gedragsetiket wat deur die patriargale bloed in ons are bruis.

Dis ’n feit dat die feministiese en vroulike (r)ev(w)olusie tans opgang maak in elke aspekte in die samelewing. En so moet dit ook wees. Mans kan nou uiteindelik ook ’n aandeel hê in hoe ons almal saam leef in ons onderskeie kulture, gelowe en lande.

Mense in Westerse lande het al jare ’n bewustheid van manspreading en probeer om dit te vermy, maar by ons in Suid-Afrika is dit lewend en sigbaar . . . By die braai, sokkie, jol, kerk, kroeg, werkplek, skool, klas, koffiewinkel, ensovoorts.

Net so skuldig

Ek moet bieg (en nou kan julle maar sê ek projekteer my skuldgevoelens) dat ek my al skuldig gemaak het daaraan. Ek het al ’n gedeelte opgeneem van die sitplek van ’n ouer vrou wat langs my kom sit in die MyCiti-bus. Eers ná baie liggaamsbewegings van haar kant af om haar regmatige plek in te neem, het ek besef dat ek byna die helfte van haar ruimte oorgeneem met my wye bene in my sitplek.

Nie eens die Milan Kundera-boek wat my aandag op daardie tydstip vasgevang het, kan as ’n geldige verskoning dien nie. Ek het gewonder hoeveel ander kere ek dit al gedoen het. (Die skaamte, skuld en ontnugtering verdien al die aandag wat dit kry, want retrospeksie en selfkritiek kan net help om jou te verbeter.)

STEM: Pla dit jou as mans wydsbeen in die openbaar sit?

Ek was nog altyd gekant teen vooropgestelde en sogenaamd “aanvaarbare” geslagsgedrag wat van kleins af by ons ingedril word om seuns en meisies te laat dink die menslike kondisie hang af van die bepaalde gebruik en manifestering van ons onderskeie geslagsorgane en anatomie.

Juis daardie retoriek word gebruik as verskoning om andere wat hulle nie daaraan onderwerp nie, te verwerp, verneder, mishandel en uit te stoot na die buitenste ruimtes van ons samelewing.

Dit gaan oor meer as net om ’n deur oop te hou of om vroue voor jou te laat instap . . .

In vandag se tyd kan jy nie meer wegskram van die belangrike vraagstukke waarmee die mensdom worstel nie. Dis ’n moeilike stryd en danksy die internet kan ons dit ’n naam gee, versprei, uitwys en op ons eie verskillende manier(e) uitleef.

As man is dit maklik om net bewus te wees van vroue en hul teenwoordigheid in ruimtes asook die invloed wat ons het op mekaar.

Vergeet die ridderskap- en helde-kompleks waarin ons soms dink dié manlikheid moet manifesteer. Dit gaan oor meer as net om ’n deur oop te hou of om vroue voor jou te laat instap . . . Dit is hoe jy vroue respekteer en hulle in staat stel om hul bestaansreg uit te leef sonder om dit te koppel aan hoe dit ’n aanwins, versterking of verheerliking van die manlike rol is.

As jy nie ag slaan op die vroulike psige wat al eeue lank gebuk gaan onder die gewig van ’n patriargale stelsel wat steeds deel van ons is nie, laat jy nie net jouself in die steek nie, maar jy verbeur die kans om deel te wees van die proses om die lewe vir almal (seuns en meisies) beter te maak.

Teenkanting

Ook die persoonlikheidsaspek is betrokke by hoe mense daagliks met mekaar kommunikeer en dit het ’n invloed op iets soos manspreading. Sommige vroue sal dit nie noodwendig as aanstootlik beskou nie en sommige mans sal nie eens probeer om die geslagsretoriek en ideologie te ontleed nie. Elke voorval sal ook anders hanteer word afhangend van die omstandighede.

Mans kan glo dit word aan hulle gedoen deur vroue wat ook maar plekke oorvat of hulle soms nie wil toelaat om langs hulle te sit nie.

Daar is ook die opmerkings dat vroue hulself moet bevry sonder die gekoppelde verwantskap en verhouding tot mans en manlikheid. Daaroor kan ure lank gedebatteer word, maar my ondersoek oor manspreading is juis uit die perspektief wat volgens definisie en eendimensionele manifestering op internet-video’s aandag kry, en tog iets kan verbeeld van ons eie situasies.

Wat kan ons doen?

Herschelle Benjamin

Afhangend van omstandighede is dié stuk ’n poging om ’n bewustheid aan te wakker by mans – oud en jonk. Ja, ons moet selfs ons pa’s inlig en hulle daarop wys hoe die wêreld verander. Of hulle dit wil gebruik, verstaan of wil toepas, is hul keuse.

As ons egter meer bewus kan wees daarvan dat dinge soos liggaamstaal, stemgebruik, intonasie en handgebare wel ’n rol speel in ons gedeelde ruimte en lewenservarings, sal ons nie soveel plofbare situasies beleef wat uiteindelik die sosiale media haal nie.

Vroue hoef nie meer stil te bly as hulle meen mans ondermyn of intimideer hulle deur klein manifesterings in fisiekheid en woorde nie. En mans kan ook nie meer die vroulike (r)e(w)vulosie afmaak as onbenullig, onvanpas en iets waaraan hulle hulself nie wil onderwerp nie.

Die minste wat almal kan doen, is om met bewustheid, integriteit, eerlikheid en bedagsaamheid te probeer om ’n goeie mens te wees. En dit moenie net op die bus en in die openbaar gebeur nie, maar ook in ons huise.

Ek wil so fanaties (en altyd bietjie naïef) wees om te droom dat sulke goed van kleins af aangeleer kan word. Kom ons leer dit aan sonder om te dink ons is politiek korrek of avo-cool-millenials en verleer die oeroue dogmas wat soos brandfakkels in ons gloei.

“My woorde het nie die krag

om bose magte tot ’n val te bring nie

my woorde kan bloot sing . . .” hoor ek Vincent Oliphant se gedig in die nasmaak van my eie ontnugtering.

  • Herschelle Benjamin (22) is besig met 'n meestersgraad in drama en teaterstudies aan die Universiteit Stellenbosch. Hy is oorspronklik van Piketberg en is tans 'n intern by Netwerk24 se kunsredaksie.
Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.