Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Marciel: 'Ek is nie 'n oornagsukses nie'
Marciel Hopkins
Marciel Hopkins

Ek ervaar altyd gemengde gevoelens wanneer ek oorsee vlieg, ook nou soos ek op my lang vlug na New York sit. So opwindend soos wat dit is om te reis, is dit ook vrek moeilik om jou geliefdes en veilige ruimte agter te laat.

Vir elke “ja” in die lewe sê jy ook “nee” vir iets anders. In my geval sê ek tans ja vir ’n nuwe avontuur en om met my modelwerk ’n groot kans in New York te waag.

In die proses sê ek nee vir gehaltetyd saam met my kêrel, babakatjies en somer in Suid-Afrika. Maar dit is hoe die leer na sukses lyk, jy moet kanse waag en opofferings kan maak vir wat jy wil hê.

Sukses verg bloed, sweet en trane

Ek het ’n tydjie gelede hierdie quote gelees wat my ’n bietjie laat dink het: “You glow differently when you’re chasing your dreams.”

Baie waar, want jy glow meestal omdat jy besig is om in sweet uit te slaan van al jou harde werk. Dit is nie romanties om groot drome na te jaag nie, inteendeel, dit vereis bloed, sweet en trane.

Sukses is nie ’n leer wat jy reguit boontoe klim nie.

Vir julle as studente, waar ek slegs ’n paar jaar gelede was, wil ek my eerlike ervarings deel: Sukses is nie ’n leer wat jy reguit boontoe klim nie.

Daar is baie nee’s, onsekerhede en uitdagings soos jy klim. En as millenniërs, ek inkluis, wil ons dinge vinniger sien gebeur. Ons soek dadelik reaksie op ons aksies; wat ek insit, moet ek uitkry. Ai, dit sou wonderlik wees as dit so was!

Sukses kom nie oornag

Dit neem tien jaar om ’n oornagsukses te wees, soos hulle sê. Donnalee Roberts het so mooi oor haar eerste filmrol in die Sarie gesê: “Ek het tien jaar gewag vir hierdie break.”

LEES OOK: Mentorskap in die tyd van millenniërs

Ek en Tracey Lange gesels verlede week en sy vertel hoe iemand in die musiekbedryf onlangs ’n prys ontvang het vir beste nuweling van die jaar. Dit nadat hy al 12 jaar in die bedryf is! Gee vir die man ’n reuse-applous vir sy deursettingsvermoë, want ons almal kan by hom leer.

Doen net elke dag iets kleins

Ek glo daaraan om elke dag iets te doen wat jou nader sal bring aan waar jy graag wil wees, maak nie saak hoe groot of klein dit is nie.

’n Kort deeltjie uit my eie lewe kan van bogenoemde getuig: Dit is 2017 en ek kry ’n e-pos op ’n Saterdagoggend wat sê ek moet na ’n casting in die stad gaan (toe woon ek nog in die Paarl).

Ek is glad nie gemotiveerd om te gaan nie, want ek moet middagete op ’n wynplaas saam met my vriendinne prysgee wat ons al lankal gereël het. Maar ek klim in my kar en ek doen my klein deeltjie vir die dag om my nader te bring aan waar ek eendag wil wees.

Opoffering is ’n werklikheid

As ek daardie dag nie stad toe gery het en bereid was om ’n opoffering te maak nie, was ek nie vandag die nuwe aanbieder van Boer soek ’n vrou nie. Ek het nie die werk gekry waarvoor ek gaan cast het nie, maar Amalia Uys, wat ook by die casting was, het my vertel hulle is besig om oudisies vir die nuwe aanbieder te doen en stel my toe voor aan die vervaardiger.

LEES OOK: Studente is 'denkers, dromers en digters'

So kry ek toe nie die pos in 2017 soos ek graag wou nie. Nee’s en kronkelpaadjies julle, dit is ’n realiteit! Maar toe kontak hulle my weer in 2019 om ’n oudisie te doen en ek kry toe wraggies die pos.

Die terugvoering was: “Jy is nou volwasse en gereed.” Ek dink ook dit was daai glow. Nie die romantiese glow waarna hulle in daardie aanhaling verwys nie. Die glow van iemand wat al baie nee’s gehoor het in die modebedryf en wat opofferinge vir haar loopbaan moes maak.

Sy tydsberekening is perfek

Ek wil jou vra om meer geduld met jouself te hê en om jouself nie aan die wêreld se standaarde vir sukses te meet nie. Jy kan nooit jou lewensreis met iemand anders s’n vergelyk nie, jy kan slegs doen wat goed en reg is vir jou.

God se tydsberekening is altyd perfek, so hou moed!

Sosiale media en ons maklike toegang tot die internet het almal se sukses so vergroot dat dit oorweldigend kan wees. Solank jy elke dag iets doen wat jou nader aan jou drome bring, is jy besig om daardie leer na sukses te klim. God se tydsberekening is altyd perfek, so hou moed!

  • Marciel Hopkins (25) is 'n model, life coach, motiveringspreker en 'n gasskrywer vir Die Student. Sy het drama aan die Universiteit Stellenbosch studeer en het in Franschhoek en die Paarl groot geword.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Volg ons op Instagram en Facebook!
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Ons stuur elke Vrydag ‘n nuusbrief uit met die drie gewildste meningstukke van die week. Klik hier en teken in vir die Stemme-nuusbrief.
Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.