Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Marciel Hopkins: Sukses is alles net ’n kwessie van tyd

Marciel Hopkins
Marciel Hopkins

Ek het op my ouers se 50ste herdenking vir hulle dankie gesê vir al die kere dat hulle vir my nee gesê het, want ek het die heel meeste daaruit geleer (al was tiener-Marciel hoé kwaad of hartseer daaroor).

Ek het op 16 gevra vir ’n naeltjiering en op 18 vir ’n tatoe; my pa het albei kere net sy kop geskud en gesê: “Nié terwyl jy onder my dak bly nie.”

In retrospek sou ek nie met my tatoe aan die Mej. Suid-Afrika-kompetisie kon deelneem toe ek 22 was nie. In daardie jaar was hulle nog baie streng daaroor.

Dankie Pappa!

As millenniërs is ons ’n generasie van “instant gratification”: Ek sien dit nie as iets negatief nie, dit moet net reg bestuur word. Ons hou daarvan dat dinge vinnig gebeur en verwag dat dit wat jy insit, jy dádelik gaan uitkry.

Die helfte daarvan is waar: Ek glo dat harde werk en lang ure áltyd beloon sal word, dalk net nie so vinnig soos wat jy gehoop het dit gaan gebeur nie.

As jou 2020-drome heeltemal op sy kop gedraai is, moet jy jou perspektief verander.

Een van die groot redes hoekom ek ingeskryf het vir Mej. Suid-Afrika was om my selfvertroue ’n hupstoot te gee en die langtermyndroom was nog altyd om ’n TV-aanbieder te wees. Dit is hoekom ek drama studeer het en baie oudisies gedoen het (wat ek nooit gekry het nie). Ek het Mej. Suid-Afrika as ’n voet in die deur van die vermaaklikheidsbedryf gesien en met sterre in my oë verwag dat geleenthede ná die kompetisie sou instroom. Toe nou nie . . . Jy is vinnig vergete as top 12-finalis, almal fokus net op die wenner. Ek het gedink al my bloed, sweet, trane en die 14 kg wat ek in vier maande verloor het, was heeltemal verniet (want dinge het nie vinnig genoeg na my sin gebeur nie).

Wel hier is ek nou, vier jaar later en ek is ’n TV-aanbieder. Dit het net baie geduld, nóg harde werk en ’n hele paar jaar se “ompaaie” geverg om te kom waar ek graag wou wees.

Dikwels maak die lewe deure in jou gesig toe en jy voel of daar nie meer vir jou hoop is nie. 2020 het baie van ons op moedverloor se vlakte gelaat. Ek het nie geweet watter kant toe nadat ek 11 maande van my lewe gewy het aan die Mej. Suid-Afrika-droom nie, alhoewel ek eintlik in ’n baie belangrike groeifase van my lewe en loopbaan was. Ek moes deur onsekerheid, hartseer en teleurstelling gaan om te groei in wie ek vandag is.

Jy kan dit dalk nie nou sien nie, maar ek glo dat 2020 ’n belangrike fondament in ons elkeen se lewens sal lê.

As jou 2020-drome heeltemal op sy kop gedraai is, moet jy jou perspektief verander en dit sien as ’n saai-seisoen in jou lewe. Wat moet jy nou leer, waardeur moet jy werk en waarop moet jy regtig fokus om in jou volgende seisoen weer die vrugte te kan pluk?

Liewe student, vanjaar is nie maklik of regverdig nie (wat ’n metafoor van die lewe self is). Ek kan wel daarvan getuig dat die moeilikste en donkerste tye in my lewe, wanneer ek regtig gesukkel het om die lig aan die einde van die tonnel te sien, dié heel belangrikste tye van my lewe was.

Jy kan dit dalk nie nou sien nie, maar ek glo dat 2020 ’n belangrike fondament in ons elkeen se lewens sal lê. Ons gaan meer veerkragtig, kreatief en oopkop hieruit stap om te kan gatskop in die volgende paar maande en jare wat voor ons lê. En ek bedoel jare, want daar sal nooit iets wees soos oornagsukses nie.

Hou moed, bly gefokus en doen élke dag iets klein wat jou nader aan jou drome gaan bring. Dit is net ’n kwessie van tyd.

  • Marciel Hopkins is 'n model, life coach, motiveringspreker en 'n gasskrywer vir Die Student. Sy het drama aan die Universiteit Stellenbosch studeer en het in Franschhoek en die Paarl groot geword.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Volg ons op Instagram en Facebook.

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?

Jy kan R10 000 wen!

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.