Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
MARCO SPAUMER: 'Ek is as kind gemolesteer'
Marco Spaumer.

“Sit die boek neer; staan op en kom weg van daardie bed, daardie goddelose kamer, en maak ’n moerse geraas!”

Ek is as kind gemolesteer. En die persoon wat dit aan my gedoen het, het my probeer stilmaak met ’n boek en gevra ek moet net mooi stilsit en lees. Ek wens ek het daardie aand die dak gelig. Eerlikwaar. Maar die krag daarvoor het eers 23 jaar later in ’n sielkundige se spreekkamer opgedaag: Ek wou hardop hê daardie seuntjie-ek moes so dapper wees soos ek wat nou hier skryf. En sedertdien was daar al soveel oomblikke waar ek ’n geraas wou maak, maar wanneer jy eers gesê word om te verdwyn as moeilike goed gebeur, raak jou stem stil.

Ek het ook die afgelope jaar dele van my begin stilmaak; ek het gedagtes wat saak maak en dié wat minder belangrik is, verdoof. My woorde het hul grense leer ken en my vermoë om ander vas te hou, om ander te dra, het verklein. Ek het weer die boek opgetel en mense toegelaat om my onsigbaar te maak. Ek het skoonveld geraak nog voordat die verhouding beëindig is, toe die kar afgeskryf is, toe God stil geraak het, toe die lewe uitmekaar wou val. Ek het selfs skuiling gesoek elke keer wanneer iemand ’n foto wou neem. Ek het alles hanteer deur dit nie te hanteer nie.

Só het ek myself oortuig dat om die deur toe te maak en verlof te neem, goeie selfsorg is; in my hoekie was ek veilig terwyl ander die kamer dapper en moedig verlaat het.

’n Lewe sonder verdowing

Die waarheid is: Niemand wen wanneer jy jouself redigeer nie. Om jou waarheid stemloos weg te bêre baat niemand nie. En die realiteit is dat ek die afgelope jaar baie tyd aan redigering bestee het, om seker te maak my woorde maak sin en verwar niemand nie.

Al het ek geweet, soos ek nou weer weet, dat ek oor hierdie ruim landskap in my beskik vir al die spanninge van die lewe en om gevaarlik nader te staan vir daardie lelike, onbeheerbare dinge.

MARCO SKRYF OOK: My geloofsreis na waar die hele ek welkom is

Ek het ’n agterdeur gesoek wat my sou lei na my eintlike lewe – ’n lewe sonder verdowing of ondeurdagtheid. Ek het daarna gesmag om weer skeppend te raak en om geheel halfklaar voor myself en ander te staan.

Toe doen ek die volgende: Ek maak ’n afspraak by die sielkundige, ek lê my siel bloot, maak lysies, tel die foon op en reik uit na mense, ek sê hardop “Nee” totdat my ledemate begin lewe kry en ek stap ure aaneen om uiteindelik by hierdie artikel tot ruste te kom.

Ek maak seker my stem word gehoor

Daar is steeds dae dat moeilike goed gebeur en dan bevind ek my weer in die hande van, nee, in die greep van, alkohol, kos, pornografie of sosiale media.

Enigiets om my liggaam van sy ervaringe te verdoof en vir myself te lieg oor hierdie moeilike goed my nie verdien nie en dat ek mag verdwyn. Maar dan sou ek die tienduisende wat ons voorafgegaan het ’n groot onguns bewys. Die tienduisende wat óók gesukkel het, die tienduisende pelgrims wat dieselfde reis as ek moes aanpak.

Niemand wen wanneer jy jouself redigeer nie.

So nou bly ek.

Ek slaan my tent op in die middel van moeilike goed wat gebeur, leun teenaan die ongemaklikheid waarmee ek nou graag stoei. Ek maak seker my stem word gehoor, dat my liggaam na gekyk word en ek laat die hele wêreld toe om my donker hoekies te besoek – ’n klomp flitse maak my donker ligter.

Staan op vir jouself

Jou doel dan, leser, is eenvoudig: Vind weer jou stem. Gaan grawe dit uit onder al die “bewaar net die vrede”-gevalle, die “byt op jou tande”-oomblikke, die “nes jy wil”-antwoorde.

Maak dit jou missie om jou stem weer sy platform te gee, laat daardie diep, innerlike gekreun toe om weer woorde te raak. En skryf dan. Staan op vir jouself. Sê nee. Deel jou hart en gedagtes en maak seker jou storie kry ook ’n plekmatjie aan tafel.

Ek wil ook hê jy moet hierbuite wees – ’n gesonde, teenwoordige weergawe van jou, waar jou woede moerse sag is en jy in staat is om die boek neer te sit, uit die kamer waarin moeilike goed gebeur kan vlug en jy jouself uit volle bors kan wees.

  • Marco Spaumer (25) is 'n akteur en gasskrywer vir Die Student. Hy is tans in die kykNET-sepie Suidooster te sien. Hy het musiekteater aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) studeer en het groot geword "bietjie all over" van Limpopo tot Gauteng en ook in die Vrystaat. "My kinderjare lê so deur die land versprei."
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.