Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Matrieks: 'Wees bereid om te kruip voor jy hardloop'
Brendan Coetzee
Brendan Coetzee

Klas van 2019 – hierdie stuk is vir julle.

Jy probeer jouself tans balanseer tussen skoolverlater en ’n nuwe lid van die grootmenswêreld. Dit is ’n vreemde plek om te wees, amper soos ’n Stormers-ondersteuner op Loftus wanneer die Bulle en die Leeus speel. Jy is opgewonde om hier te wees, maar jy weet nie regtig waar jy inpas nie.

Moenie bevrees wees nie, want jy is nie alleen nie.

Moenie bevrees wees nie, want jy is nie alleen nie.

Twaalf jaar lank het jy gewerk en gespeel, jy het begin as ’n bang sewejarige met jou eerste stel tande (kyk mooi na jou tweede stel, want die derde stel is duur) en kaal voete wat die dou van die gras af gehardloop het. Jy het dit oorleef.

Jy het gevorder deur die skoolstelsel, die trappe geklim (ek sou sê die hysbak, maar beurtkrag maak dinge moeilik) en voor jy jou oë kon uitvee, was jy weer heel onder in die voedselketting as ’n deurmekaar, lomp en half aan die slaap junior in die hoërskool.

LEES OOK: Die grootmenslewe is toe minder lekker

Om matriek deur te kom, was in daardie stadium die minste van jou bekommernisse – om so gou as moontlik in te pas by die groep cooler as Koos Kombuis was heel moontlik jou eerste en belangrikste prioriteit.

Jy was sorgvry en die wêreld was aan jou voete, want jy het in die oomblik geleef. Jy het gekies om te leef en alles in te neem, die goed en die sleg, die oorwinnings en die nederlae. Maar die belangrikste van alles – jy het dit oorleef en my boodskap aan jou is dat jy die grootmenswêreld jou eie kan maak as jy bereid is om nooit jou passie vir die lewe te verloor nie.

Stook die vuur wat in jou brand

My raad aan jou, jong mens, is dat jy nooit jou passie moet verloor nie, al skop die lewe jou verskeie kere terwyl jy lê. Jy weet presies wat die vuur in jou laat brand soos ’n sitkamerkaggel in die middel van die winter.

Of dit nou ’n spesifieke kursus aan ’n universiteit is of om jou eie onderneming te begin – doen dit, maar doen dit voluit. Wees lief vir die lewe wat jy het en maak elke oomblik iets wat vir ewig deel van jou goeie herinneringe sal bly.

Werk hard en streef daarna om altyd eerlik met jouself te wees oor hoekom jy doen wat jou gelukkig maak.

My raad aan jou, jong mens, is dat jy nooit jou passie moet verloor nie, al skop die lewe jou verskeie kere terwyl jy lê.

Wees ’n jong mens met integriteit en moenie val vir die “fake it till you make it”-klug nie. Doen die regte dinge, selfs wanneer niemand kyk nie, want die beloning is soet, al kom dit nie dadelik oor jou pad nie.

Elke oomblik, of jy nou wen of verloor, het ’n doel in jou lewe. Dit berei jou voor vir die mens wat jy besig is om te word.

Glo in jouself, jong mens, selfs wanneer ’n swak hand aan jou uitgedeel word. Speel die kaarte tot die beste van jou vermoë en hê geloof soos ons boere in die middel van die droogte. Wees bereid om eers te kruip voor jy wil hardloop want die uitdagings gaan vinniger kom as ’n Cheslin Kolbe-systap verby ’n vlieënde Engelsman.

Wees ’n goeie mens

’n Belangrike les wat ek nou nog leer, is dat jy altyd bereid moet wees om ’n student van die lewe te bly. Wees oopkop om te leer by almal wat oor jou pad kom. Nie almal gaan altyd met jou saamstem nie en jy gaan dikwels kop stamp in jou soeke na sukses.

Gebruik jou gesonde verstand en vul jou gedagtes met dinge wat saak maak – streef daarna om ’n goeie mens te wees in ’n wêreld wat jou aanmoedig om op ander te trap om te kry wat jy wil hê. Om ’n goeie hart te hê en ander te respekteer, sal nooit uit die mode raak nie.

Om ’n goeie hart te hê en ander te respekteer, sal nooit uit die mode raak nie.

Omring jou met ’n gesonde ondersteuningsnetwerk en bestee tyd saam mense wat steeds vir jou hande klap wanneer jou drome voor hulle s’n koers kry. Wees dankbaar teenoor diegene wat ’n hand uitsteek wanneer jy struikel en val en koester die oomblikke dat jy opreg net jouself kan wees.

My wens vir jou, jong mens, is dat jy God se goedheid en genade sal ervaar op jou reis, soos wat ek Hom elke dag ervaar. Hy is die Een wat ons gebring het tot waar ons nou is. Leef in dankbaarheid en gaan uit in die wêreld met ’n passie om ’n verskil te maak en om die beste van elke oomblik te maak.

Mag die woorde van die prokureur Niel Cloete van Die Groot Ontbyt vir jou net soveel beteken soos wat dit vir my het: “Voor jy moed verloor, besef net dat ’n mens soms moet verloor.”

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.