Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Mediese student oor Covid-19: 'Daar is nou geen plek vir selfsug'
Anandi de Wit
Anandi de Wit

Douvoordag jaag die skril geskreeu van die wekker jou uit die vere. Selfs al het jy te kort geslaap om eens te kon droom, spring jy uit die bed en deur die stort.

Daar is nie tyd om te “snooze” nie – dit kan dalk net beteken dat jy sluimer op ’n lewe.

Reisbekerkoffie en energiestafie in die hand, trek jy die deur saggies agter jou toe om nie die huismense wakker te maak nie.

Op pad werk toe in die verkeer (wat om 05:00 reeds in kettings geknoop is), probeer jy om effense struktuur aan die dag te gee: saalrondes, admin, rye pasiënte wat al van dagbreek hul beurt afwag, en ’n interne en eksterne stryd: watter pasiënte verdien ons tyd die meeste en watter pasiënte gaan sonder ons uiterse skaars hulpbronne huis toe gestuur word?

Elke dag is 'n verassing!

In der waarheid is die dag een groot verrassing vir jou – enigiets kan enige tyd gebeur en jy moet gereed wees. Jou denke en dade moet kristalhelder en beslis bly in die warboel van krisis en konsternasie wat jou in die gesig staar.

Dikwels word jy gevra waarom jy besluit het om te werk in die gebroke stelsel met sy “viervuldige gesondheidslas” van oordraagbare en nie-oordraagbare siektes, moeder- en kindergesondheid, trauma en geweld.

Jou denke en dade moet kristalhelder en beslis bly in die warboel van krisis en konsternasie wat jou in die gesig staar.

Suid-Afrika is die MIV/vigshoofstad van die wêreld. Mediese studente wêreldwyd stroom na ons om ondervinding in ons nood- en trauma-eenhede op te doen.

Aan die ander kant van die spektrum van uiterstes is ons een van die mees vetsugtige nasies ter wêreld, met ’n lys van lewenstylsiektes wat daarop volg.

Daar is geen hoeveelheid geld in die wêreld wat die daaglikse stryd kan regverdig nie. Dit is ’n roeping.

LEES OOK: Dokter (24) vertel oor Covid-19: 'Ek het reeds my testament opgestel'

Laataand kom jy tuis, groet jou gesin, maak aandete, help met huiswerk en take en sus die kinders aan die slaap.

Uiteindelik, net ’n paar uur voordat jy weer moet gehoor gee aan die wekker, plons jy op die rusbank neer met ’n glas rooiwyn in die hand. Skakel die televisie aan. Kyk die opname van die hospitaalsepie en kry stilletjies lag oor die intriges en eenvoud in die kamma-hospitaal.

Dan is dit tyd vir die nuus. Tyd om in te haal op die dag se gebeure buite die wêreld van die werklike hospitaal.

Dit neem ’n paar sekondes om te besef jou lewe was tot nou toe hemels vergeleke met wat wag.

Plaas hul eie lewens in gevaar

Ek kan myself nie indink hoe vreesbevange elke gesondheidswerker in die land moes gewees het toe die nuus breek dat die gevreesde Covid-19 die land binnegedring het nie. Voor enigiemand anders het hulle geweet ons is nie voorbereid nie – maak nie saak watter maatreëls ons teen watter tempo instel nie.

Dat die duisende – nee, miljoene – swak immuunsisteme en gruwelike tekort aan voorraad, beddens en hande doodeenvoudig nie opgewasse is om die onsigbare vyand af te weer nie.

Tog was daar nie ’n sekonde van huiwering van ons helde se kant af nie.

Dag ná dag offer hulle hul tyd – hul lewens –op. Dag ná dag word hulle blootgestel aan die virus, vreesbevange dat hulle dit aan hul geliefdes kan oordra. Al troos is dat hulle hul geliefdes nie veel sien nie. Dag en nag werk hulle sodat óns veilig kan wees.

Óns wat enige kans en verskoning vind om uit die huis te kom. Óns wat ’n veer voel vir die skof van 72 uur.

“Hoekom kan jy nie net verlof neem tot die ergste oorgewaai het nie?”

“Jy is swanger – waarom stel jy jouself en jou ongebore baba in gevaar, ten koste van ander?”

“Hoekom werk jy langer skofte as wat jy verplig is?”

“Is dit werklik die moeite werd?”

“Waarom is dit jou verantwoordelikheid?”

Dit is maar ’n paar vrae wat familielede en vriende wat desperaat is om hul geliefdes te beskerm, aan gesondheidswerkers vra.

As mediese student het ek een antwoord: gesondheidswerkers lê die eed van Hippokrates af en nie die eed van Hippokrities nie. In ’n tyd soos dié, is daar geen plek vir selfsug en skynheiligheid nie.

Saam met die roeping kom ’n besorgdheid wat diep tot op die been sny. Angs vir elke lewe in die gedrang. ’n Enorme, onbeskryflike pligsbesef: doen geen leed en help waar jy kan.

Elke dokter, verpleër, paramedikus – elke gesondheidswerker wat elke dag hul pantserpakke van N95-maskers, lateks-handskoene en scrubs aantrek: Ons is trots op julle. In hierdie onsekere, onvoorspelbare, afgryslike tyd, is julle ons hoop.

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

WIL JY R5000 WEN?

Skryf in vir Die Student se rubriek-kompetisie! Kyk die video vir al die details.

IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?

Jy kan R10 000 wen!

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.