Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Mentorskap in die tyd van millenniërs
Marciel Hopkins
Marciel Hopkins

Ek sit hier en skryf op ’n vliegtuig op pad na Johannesburg. Baie skrywers doen glo hul beste werk op dié manier, want daar is geen internet of familie-afleidings nie.

Vandag wil ek skryf oor mentorskap, iets wat my werklik inspireer en wat ’n verskil in soveel mense se lewens kan maak.

Ons lewe in ’n tyd waar die millenniërs wil weet watter verskil hul beroep maak en watter bydrae hul bestaan tot die mensdom sal maak in hul tyd hier op aarde. Ek sien dit by soveel van my lewensafrigting-kliënte wat sukkel om werkstevredenheid te ervaar, “want wat beteken die werk wat ek elke dag van nege tot vyf doen”?

Dis wonderlik om te droom dat jy ’n liefdadigheidsorganisasie gaan stig wat die wêreld gaan verander of ’n bekende motiveringspreker gaan word, maar baie van ons het ongelukkig nie die geld om net by ons “day job” te bedank en humanitêre werk in Afrika te gaan doen nie.

So hoe gemaak om ’n bydrae te lewer in jou nabye omgewing waar jy dalk daagliks net met syfers werk en wonder hoe jy ’n verskil in iemand anders se lewe gaan kan maak?

Ek het as klein meisietjie daarvan gedroom om ’n model te word en het Tanya van Graan vreeslik bewonder.

Ek glo mentorskap is die antwoord.

My pa is al 33 jaar lank in die wynbedryf. Hy het al 65 parshulpe gehad wat by hom gewerk het. Hy kry tot vandag toe e-posse en boodskappe waarin hulle hom bedank vir die ongelooflike invloed wat hy op hul lewe gemaak het deur sy geesdrif vir mense en wynmaak.

Laat die mooi uitkring

Ek het as klein meisietjie daarvan gedroom om ’n model te word en het Tanya van Graan vreeslik bewonder.

Toe ek in 2015 na Johannesburg moes vlieg as ’n finalis in die Mej. Suid-Afrika-kompetisie, het ek toevallig in haar vasgeloop. Ek kon dit nie glo toe sy ná die tyd vir my ’n boodskap stuur om my sterkte toe te wens vir die kompetisie nie!

LEES MEER: ROLENE SKRYF: Hoe kies ek die regte mentor?

Toe ek haar daarna vra om te gaan koffie drink, was sy meer as gewillig en ek het al soveel by haar geleer in die laaste vier jaar. As ek enige raad nodig het oor die modelbedryf, is sy die eerste mens wat ek bel en sy kan my met soveel liefde, wysheid en insig adviseer.

Soms hoef die uitkring-effek van ons dade nie aardskuddend te wees nie. Dit kan klein en waardevol wees vir ’n enkele individu wie se lewe jy vir altyd kan verander of beïnvloed. Ek kan nie noodwendig ’n mentor vir Tanya wees nie, want sy weet alles wat ek nog moet leer. Maar ek kan vir ander jong vroue ’n mentor wees waar daar leiding en insig nodig is. “Paying it forward” – dit lees net só mooi in Engels.

Groei deur ander te help

As ons net ons oë oopmaak, sal daar altyd iemand binne jou bereik wees wat jou leiding of hulp nodig het. Dalk is dit die meisie in die koshuis wat nie vriende het nie, of die vrou by die werk wat elke dag haar middagete alleen by haar lessenaar sit en eet.

Mentorskap kos jou niks en jy sal altyd net soveel daaruit leer as die ander persoon.

Mentorskap kos jou niks en jy sal altyd net soveel daaruit leer as die ander persoon.

Ons lewe in ’n tyd waarin almal belangrik wil wees en hul stem laat geld. As jy werklik ’n rolmodel en ’n leier wil wees van ons generasie, begin optree as ’n mentor wat die behoeftes van ander raaksien. Dit sal jou baie verder bring as wat ’n tonnelvisie-fokus op jou eie sukses en vooruitgang ooit sal regkry.

  • Marciel Hopkins (25) is 'n model, life coach, motiveringspreker en 'n gasskrywer vir Die Student. Sy het drama aan die Universiteit Stellenbosch studeer en het in Franschhoek en die Paarl groot geword.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees nog meningstukke hier.
  • Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
  • Volg Die Student op Instagram!
Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.