Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Millenniërs: 'Ons is ’n generasie wat vryheid bo alles stel'
Arleen Stone
Arleen Stone

Verhoudings is nooit maklik nie. Voeg jou verlede, ouers, ras, gemeenskap, maatskaplike stand, (on)geloof, hoop én beroepsdrome by hierdie ingewikkelde resep, en jy het die verskynsel wat deesdae tweeledig as skelwoord gebruik word: millenniër.

Nog nooit was die kommunikasiegaping tussen generasies, tussen ouers en hul kinders, so sigbaar en omstrede soos vandag nie.

Die ouer garde skud dikwels hul koppe vir die “kinders van vandag” met hul vreemde modegiere, gedrag, selfoonverslawing en veral hul ongewone verhoudingskeuses.

Die appel het weliswaar op ’n ander planeet geval, maar selde vra mense “hoekom” voordat hulle uitspraak lewer.

Vryheid bo alles verhewe

In ’n samelewing wat uiteindelik begin timmer aan byna gegote geslagstandaarde en wat gayhuwelike en gay predikante begin aanvaar, asook ’n poging aanwend om oor die rassemuur te kyk, en sukkel om die gevolge van generasies se besoedeling en aardverwarming te pak, hoe kan daar van ons verwag word om die “voorgeskrewe” stappe van die lewe te volg?

Die terrein is anders, die spelers is anders en die reëls is lankal by die venster uitgegooi.

Die ouer garde skud dikwels hul koppe vir die “kinders van vandag” met hul vreemde modegiere, gedrag, selfoonverslawing en veral hul ongewone verhoudingskeuses.

Weg is die 1-2-3-stappe van werk, trou en kinders kry en lewenslank gelukkig saam met dieselfde persoon in ’n verhouding bly.

Dit word vervang deur egskeidings, internetafsprake en Tinder. Werk word bo die huwelik verkies, mense bly saam en besluit doelbewus om nie voort te plant nie, want ons is ’n Grondwet-generasie: ’n Generasie wat vryheid bo alles stel.

Te veel keuses?

Vryheid is heel moontlik die grootste geskenk wat ons ouers en grootouers vir ons nagelaat het.

Vryheid van spraak, vryheid van keuse, vryheid van godsdiens, oortuiging en mening, vryheid van assosiasie, en vryheid van bedryf, beroep en professie.

Die vryheid wat baie van hulle nooit self gehad het nie.

Tog, as ons op daardie einste vryheid aanspraak maak en dit trots van ’n berg af, of op Instagram verkondig, word millenniërs met klippe bestook: onsedelik, ondeurdag, obskuur, ongewoon.

Vryheid is heel moontlik die grootste geskenk wat ons ouers en grootouers vir ons nagelaat het.

Hoewel die term “millenniër” nes “Baby Boomers”, “Generasie X” en “Generasie Z” gebruik word om persone wat binne ’n sekere tydperk gebore is te beskryf, word dit dikwels as ’n stereotipiese versamelnaam gebruik vir enigiemand wat nie dieselfde norme en standaarde as hul voorgangers handhaaf nie.

Dit het nie verniet die klankbaan van rebelse millenniërs sedert die tagtigerjare, die begin van die millenniërera (tot baie mense se skok) tot en met my jeugjare in 2000 geïnspireer nie:

“So was ek gelepelvoer,/

’n spieëlbeeld van ons ouers,” deur Foto na Dans in Soldaatvolk (2007).

Fokofpolisiekar sing in Tygerberg Vliegtuig (2003)

"Lees net mooi en volg dan/

al die instruksies wat hul vir ons gee/

Werk, trou en kinders kry/

en moontlik dan aan depressie ly/

Iemand moet vra hoekom"

En Die Tuindwergies in “Kopskudkinders” (2010):

“So onophoudelik volgens die stamboom opreg

maar tog so bewustelik onseker of is al die voorskrifte reg.”

Te midde van hierdie rebellie, staan millenniërs steeds bekend as die sneeuvlokkie-generasie: Die sagte, weerlose jeug met te veel opinies en te dun velle. Die ek-behepte-jeug met hul body positivity- en Me Too-bewegings, LGBTQI-trots, ADHD-medisyne en sielkundige probleme.

Maar om hierdie “fooitog”-generasie te verstaan, moet ouers egter verstaan uit watter generasies ons gespruit het.

Generasies wat probleme met oorloë en geweld aangepak het, maatskaplike kwessies met stigmas en stereotipes versmoor het en dié wat anders as hulle is, met wette en Berlynse mure platgevee het.

Generasies wat homoseksualiteit soos ’n grillerige gogga ter dood veroordeel het. Generasies wat psigiese gesondheid as ’n skynsiekte en ’n swakheid gesien het. Generasies wat hul dogters grootgemaak het om te glo dat ’n huwelik en kinders die enigste manier is hoe sy gelukkig en waardevol sal kan wees.

Generasies wat met elke egskeiding die heiligheid van die huwelik verdun het.

LEES OOK: As liefde 'n lokval word

Generasies wat gesinsgeweld, seksuele mishandeling en middelmisbruik onder die mat van skaamte ingevee het sodat die bure en die dominee tog net nie moet sien nie.

Met dit as hul fondament, word millenniërs groot in ’n wêreld van tegnologie, sosiale media, virtuele verhoudings en kuberskelmpies, terreuraanvalle, aanvalle in skole, dwelms in die skoolgange, studieskuld en rekordbrekende werkloosheidsyfers, piepklein salarisse en astronomiese huispryse, gemengde verhoudings en rassistiese familielede.

Moet ons nie oor dieselfde kam skeer nie

Vandag het jong mense van diverse, maatskaplike kringe baie meer interaksie met mekaar danksy die internet, meer inklusiewe skole en universiteite en die reg om met ’n persoon van enige ras, geloof of kultuur nie net vriende te wees nie, maar selfs ’n verhouding te hê.

Vir die eerste keer in ’n baie lang tyd moet die jeug hul diverse agtergronde, oortuigings en moontlik teenstrydige beroepsambisies probeer balanseer om saam kop bo water te hou in korrupte lande met peperduur lewenskoste.

Ondanks al hierdie dinge maak talle ouers steeds die fout om millenniërs oor dieselfde kam te skeer.

Hoewel ons in hierdie mensgemaakte borrel geprop is, mag my opinie hemelsbreed van enige ander millenniër s’n verskil en dit is góéd so.

Vir die eerste keer in ’n baie lang tyd moet die jeug hul diverse agtergronde, oortuigings en moontlik teenstrydige beroepsambisies probeer balanseer om saam kop bo water te hou in korrupte lande met peperduur lewenskoste.

Baie van ons wil avontuurlustig wees, die wêreld sien en nie saam met iemand op ’n stoep sit en grys word nie. Ander wil die “volle pakket” hê – werk, trou, ’n huis in die voorstede met kinders en ’n hond wat mekaar rondjaag.

Ongelukkig besef baie millenniërpaartjies te laat dat hulle eintlik aan teenoorgestelde pole sit.

Daar is ook van ons wat albei wil hê en dit weinig reg kry om die balans te handhaaf, of dit nou te danke is aan familie- of maatskaplike druk, moeilike ekonomiese omstandighede of persoonlike ambisies en oortuigings of nie.

Ons wil ’n stem hê

’n Kernkonsep van ons generasie is die onlesbare behoefte daaraan om ’n sê, ’n stem in ons eie lewe te hê, en met daardie stem vra ons nie vir aanvaarding vir ons lewenskeuses nie, slegs vir begrip. En as ons dít ook nie kan kry nie, sal ons daarsonder kan klaarkom:

"Ek het al lankal vrede gemaak/

Ek het deel van al daai kinders geraak/

vir wie jy so gemaklik in die verby-stap jou kop voor kan skud/

af al jou wysheid en kom kyk ons ligte skyn soveel helderder in die donker as jou betaalde elektrisi-/

teit/Tyd

geld seep en sigarette/

is aan ons kant werklik min/

maar ons sal nogsteeds jou volk se loflied/

meer op noot kan sing/

Ons moet meer kopskud-kinders bring/

Ons kan mekaar ’n bietjie later aan die slaap sing liefling/

maar vir eers moet ons twee net deurnag/

Om die wêreld te kan wys dat die skim soos ek en jy die lig sal bring/

en dat ons wel laaste sal lag.” – Die Tuindwergies, Kopskudkinders (2010)

’n Generasie van liefde, aanvaarding

Ek is ’n millenniër met al haar tipiese millenniërfoute en ek het al lankal daarmee vrede gemaak.

Ek weet ek is deel van “al daai kinders” met hul selfoonverslawing, selfbeheptheid en ontradisionele gewoontes, maar ek kan met trots sê dat ek aan ’n generasie van liefde, empatie en aanvaarding behoort.

In hierdie onheilspellende wêreld vol monsters en wonderwerke sukkel elkeen van ons eenvoudig om die lewe te navigeer, liefde en aanvaarding te vind en dalk, net miskien, aan die einde van dit alles, gelukkig uit die lewe uit te stap.

  • Arleen Stone (21) het pas haar honneurs in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch voltooi en kom oorspronklik van Springbok in die Noord-Kaap.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Volg Die Student op Instgram!
Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.