SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Die Student
Millenniërs: Ons is nie almal ondankbaar, selfbehep nie
Dominique Fuchs

Liewe ouer generasie, ons is nie almal so nie.

Ondankbaar, oningelig, selfgesentreerd. ’n Paar woorde wat die ouer garde gebruik om Generasie Y te omskryf.

Generasie Y is geneig om behep te wees met sosiale media en hul beeld. Filters word op foto’s geplaas en onvleiende liggaamsdele word uitge-crop. Millenniërs is totaal selfbehep.

Ek kyk nou die dag per ongeluk na Brendan Peyper se “Klim jou Everest”. Die liedjie handel oor hoe mense hul Everest moet uitklim. Ek weet egter nie hoe sy bultende spiere my gaan help om my persoonlike uitdagings te oorkom nie. Sy Everest is só uitdagend dat hy dit aandurf soos ’n model op ’n loopplank in jeans en met ’n kaal bolyf. Wat ’n inspirasie! (Of nie.)

Party millenniërs sien egter deur die oppervlakkigheid van die alledaagse lewe en gee nie werklik om oor die beeld wat hulle na die wêreld uitdra nie.

Wiele is wiele

Ons het geleer dat ons die beste, die mooiste én die slimste is. Dit het gelei tot ’n air of entitlement – die ingesteldheid dat sekere dinge ons vanselfsprekend toekom. Die ouer garde het geweet hoe hard hulle moes werk om sukses te bereik.

My ma-hulle het hul tennistekkies keer op keer vasgegom wanneer die sole lostrek. As jou tekkies deesdae net durf om nie spierwit te wees nie, is dit weg met hulle en die nuwe duur Adidas-tekkies word vinnig-vinnig aangeskaf. Maar party van ons waiter wel tussen klasse en oor naweke om nie so op ons ouers se nekke te lê nie.

Tog ry my broer in Potch rond met my ma se stokou Honda, wat elke tweede week ’n probleem optower, sonder om te kla. Wiele is wiele.

Ek vergaap my aan studente se duur karre en snotkop-matrieks wat soos pronkperde in die nuut-uit-die-boks Polo’s ry. Tog ry my broer in Potch rond met my ma se stokou Honda, wat elke tweede week ’n probleem optower, sonder om te kla. Wiele is wiele.

Vorige generasies het net ’n paar kledingstukke en besittings gehad. ’n Goeie leerbaadjie en -stewels, een of twee Sondaguitrustings en dan is als piekfyn. Een of twee keer per jaar sou ouers vir hul kinders na die naaste groot dorp neem en dan kan ’n nuwe rok of baadjie uitgekies word.

Vandag se generasie wil net hê en hê. Altyd op soek na die nuutste en die beste. Nooit tevrede nie. Daar is altyd iets om te begeer. ’n Nuwe paar Zara-jeans of funky Vans. Party van ons koop egter ons klere by tweedehandse winkels of kry hand-me-downs van familielede.

Jong mense wil agterstevoor begin

Toe my ouma getroud is, het sy en my oupa begin met slegs ’n bed en twee tamatiekissies wat as bedkassies gedien het. Met min was hulle tevrede. Die jong mense van vandag wil agterstevoor begin met ’n uitspattige troue, luukse wittebrood en weeklikse inkopies by Woolies. Sommige millenniërs trou wel voor die landdros sonder enige ophef.

LEES OOK: Gee ons millenniërs ’n kans

Wat het geword van stokperdjies? Ons praat van ons pa’s wat bonsai-koors het, maar ons vingers is allesbehalwe groen. Ons versamel nie posseëls nie, maar verkies om ure te mors aan series kyk.

Om jou Insta-blad op hoogte te hou is mos ’n heeltydse en veeleisende stokperdjie. Tog het talle millenniërs geen ooghare vir sosiale media nie en dink dis ’n absolute mors van tyd. Hulle bestee liewers hul tyd om ’n nuwe taal aan te leer of om belangrike letterkundige werke te lees.

Goeie maniere skaarser as hoendertande

Generasie Y is oop oor wie hulle is – hul seksualiteit. Gay, lesbies en al die ander LGBTI+-vorme. Everything goes in Stellenbosch. Kyk net flieks soos Kanarie en jy sal besef dat dinge nie te lank gelede nie heeltemal anders was. Tog is talle millenniërs sensitief oor hul generasie se totale oopheid en nog eng in hul denke oor seksualiteit.

In Generasie Y is goeie maniere en afgerondheid ook skaarser as hoendertande.

Kort-kort snork iemand tydens klastyd in plaas daarvan om hul neus te blaas. Ek moet net die impuls weerstaan om sneesdoekies te begin uitdeel. In wedlope spuit drawwers hul neusgate een vir een leeg en ek gril tot in my kleintoontjie.

Jy kry tog dapper millenniërs wat sal terugstaan dat ’n vrou eerste by ’n deur inloop met die hoop dat sy nie ’n feminis is en hom gaan uitskel nie.

Verder sou ’n mens sweer party mense delf vir goud in hul oorgate. Mense sluk mekaar heel in en ons lyk soos ’n spul seekoeie van al die oopmond gaap. Jy kry tog dapper millenniërs wat sal terugstaan dat ’n vrou eerste by ’n deur inloop met die hoop dat sy nie ’n feminis is en hom gaan uitskel nie.

Dit is onmoontlik om almal in ’n generasie oor dieselfde kam te skeer. Ons is almal beslis nie dieselfde nie. Ons Generasie Y is nie eens in sync met mekaar nie, so dis verstaanbaar dat julle ons nie altyd begryp nie.

Liewe ouer generasie, as jul weer na ons kyk, sien die unieke mens agter die millenniër-etiket raak.

  • Dominique Fuchs (19) studeer BA Geesteswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Hierdie meningstuk is 'n inskrywing vir Die Student se rubriek-kompetisie, waar studente aan lesers moet verduidelik wat hulle nie van die jonger generasie verstaan nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
  • Volg Die Student op Instagram!
Meer oor:  Diestudentgenerasies  |  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.