Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
'Minimum loon sal armoede vererger'
Martin van Staden.
Martin van Staden.

Ek het onlangs deelgeneem aan ’n radiodebat met Matthew Parks, parlementêre verteenwoordiger van die vakverbond Cosatu, oor die nuwe Wet op die Minimum Loon.

Parks, Cosatu en ander vakbonde voer aan dat die minimum loon ’n progressiewe beleid is wat arm werkers help om ’n hoër lewenstandaard te bekom.

My argument was die teenoorgestelde: Die minimum loon is ’n rampspoedige beleid wat die kwesbaarste Suid-Afrikaners tot ’n leeftyd van armoede gaan verdoem. As ons vir armes omgee, moet die minimum loon teengestaan word.

Dis emosioneel van aard

Die probleem met die diskoers oor die minimum loon is dat dit byna heeltemal emosioneel is.

Inderdaad, Parks en die onderhoudvoerder het om elke draai die ekonomiese argumente geïgnoreer en, in stede daarvan, emosionele argumente voorgesit.

Die onderhoudvoerder het aanhou probeer uitwys dat persone wat nie deur ’n minimum loon “beskerm” word nie, deur werkgewers uitgebuit sal word. En Parks het in ’n stadium gesê my argumente is “rightwing” en “reactionary”.

LEES OOK: Ons word van kleins af geleer huil is ’n teken van swakheid

Die vakbonde se standpunt is dat diegene wat die minimum loon teenstaan, slegs wil verseker dat groot sakeondernemings toegang tot goedkoop arbeid het, en dat daardie arbeiders dan aan “loon-slawerny” ly.

Maar die argument teen die minimum loon is eenvoudig en, myns insiens, onbetwisbaar: Die minimum loon maak die prys van arbeid van die mees ongeskoolde, mees ongeletterde en mees onervare onder ons totaal en al onbekostigbaar, veral vir klein ondernemings.

My voorbeeld

Hier is ’n hipotetiese voorbeeld: Voordat die minimum loon in werking getree het, het mnr. Sewapa vir mev. Vebaza as ’n assistent in diens geneem.

Hulle het ooreengekom dat Vebaza vir R2 500 per maand gaan werk. Dit is nie baie geld nie, maar Sewapa besit ’n klein township-winkel en kan doodeenvoudig nie meer as R2 500 aan werknemers bestee nie.

Hy sal self die assistent se werk doen indien hy meer moet betaal. Vebaza is heeltemal tevrede met hierdie ooreenkoms omdat sy nie matriek het nie, geen ander werkgeleenthede het nie, en sy vir haar gesin moet sorg.

LEES OOK: Millenniërs: 'Ons wil nie groot word nie'

R2 500 is bitter min geld, maar sonder dit sal sy by die huis sit en geen kos kan bekostig nie.

Sy sal ook geen ervaring opdoen wat haar kan help om ’n beter werk in die toekoms te kry nie.

Nou is die minimum loon op R3 500 per maand vasgestel. Mnr. Sewapa gaan dit eenvoudig nie betaal nie.

Hy kan self die assistent se werk doen – dit beteken hy moet ’n uur later huis toe gaan, maar ’n uur van sy tyd is minder vir hom werd as die R1 000 ekstra wat die regering hom probeer dwing om te betaal.

Hy kan self die assistent se werk doen – dit beteken hy moet ’n uur later huis toe gaan, maar ’n uur van sy tyd is minder vir hom werd as die R1 000 ekstra wat die regering hom probeer dwing om te betaal.

Hy het sy kinders in ’n nuwe privaatskool in die township gesit, en as hy Vebaza die R3 500 betaal, sal hy dit nie meer kan bekostig nie.

Dus dank hy Vebaza af, en sy, wat ongeskoold en onervare is, kry nêrens werk vir R3 500 nie, want niemand het R3 500 om te bestee aan iemand wat nie vaardighede het nie.

Dit het niks met kommer oor die armes te make nie

Al kerm professore, joernaliste en vakbondleiers op hul hardste dat Suid-Afrikaners harteloos is omdat hulle nie werkgeleenthede links en regs uitdeel nie, gaan dit niks verander nie.

Alle ekonomiese transaksies is gegrond op waarde-subjektiwiteit.

Dit beteken dat die waarde wat individue in ’n ding (arbeid, verbruikersprodukte, tyd, ens.) plaas, geheel en al afhang van hul eie subjektiewe prioriteite, voorkeure, gevoelens, en gedagtes. Niemand kan gedwing word om iets as meer waardevol te beskou as wat hulle subjektief dink dit is nie.

LEES OOK: 'Ongelykheid het niks met armoede te doen nie'

Die meeste mense sal sê dat ’n stuk goud “objektief” meer waardevol as ’n bottel water is.

Maar as jy vir die afgelope drie dae in die woestyn gestrand is en iemand bied jou óf ’n stuk goud óf ’n bottel water aan, gaan jy die bottel water vat.

Dit is omdat die water subjektief, vir jou, meer waardevol as die goud is. Daar is geen ding met “objektiewe waarde” nie – alle waarde bestaan slegs in die individuele persoon se gedagtes.

Marxiste soos diegene in Cosatu sê die teenoorgestelde: Waarde word deur arbeid bereken.

Dit is hoekom, in die geval van die minimum loon, Marxiste vir die regering vra om hul arbeidsteorie af te dwing. Volgens die Marxiste is die waarde van ongeskoolde, onervare, arbeid minstens R3 500 werd.

Dié is die sogenaamde arbeidsteorie van waarde: Volgens die teorie word die waarde van, byvoorbeeld, ’n stoel, bereken deur die tyd en moeite wat die stoelmaker bestee het aan sy werk.

Dus, indien ’n stoelmaker ’n week aan ’n spesifieke stoel gewerk het, maar daardie stoel val uitmekaar uit, is daardie stoel nog steeds meer waardevol as ’n stewige stoel wat slegs in tien minute deur ’n masjien in China gemaak is.

Dit is alles goed en wel, maar geen persoon gaan dié “duursame”, stukkende stoel koop pleks van die “waardelose” maar stewige stoel nie.

LEES OOK: As jy enigiets in die Grondwet kon verander, wat sou dit wees?

Dit is hoekom, in die geval van die minimum loon, Marxiste vir die regering vra om hul arbeidsteorie af te dwing.

Volgens die Marxiste is die waarde van ongeskoolde, onervare, arbeid minstens R3 500 werd.

Vir hulle maak dit nie saak wat individuele kopers van arbeid – werkgewers – daarvan dink nie.

Hierdie geloof in die arbeidsteorie is ideologies en het niks met kommer oor die armes te make nie.

Passie en emosies gaan armes nie help nie

Dié stand van sake is waarom die minimum loon werkloosheid gaan vererger.

Vir baie werkgewers is die arbeid wat hulle van hul werknemers kry, nie R3 500 per maand werd nie.

Hulle kan self die werk doen, of hulle kan liewers iemand wat wel ervare is, R6 000 per maand betaal om ook ander werk te doen.

Die mees onervare persone – veral armes – word dus in ’n onmoontlike situasie geplaas waar die “beskermings” wat die regering namens hulle (maar eintlik namens die ideologie van vakbondleiers) in gestel het, hulle juis tot permanente armoede verdoem.

LEES OOK: Praat só saam oor jongste begroting

Selfs al word hulle entrepreneurs en vestig hul eie kleinondernemings, kan hulle onmoontlik werknemers aanstel, omdat hulle nie binne ’n paar weke R3 500 daarvoor sal hê nie.

Ons emosies en passie alleen gaan nie die armes help nie. Ons moet realisties wees en seker maak dat ons “oplossings” vir armoede wel deur behoorlike ekonomiese beginsels ondersteun word.

Armoede in Suid-Afrika duur voort as gevolg van goedbedoelende openbare beleid wat ongelukkig geen grondslag in die menslike werklikheid het nie. Die minimum loon is net één so ’n beleid – en moet teengestaan word.

  • Martin van Staden (24) is besig met sy LLM aan die Universiteit van Pretoria. Hy kom oorspronklik van Vereeniging, maar het hoofsaaklik in Pretoria groot geword.
  • Wonder jy hoe studente se koppe werk? Lees meer meningstukke hier.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Volg Die Student op Instagram!

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.