Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Mnr. De Klerk: Woorde kan breek of bou
Sherlin Barends
Sherlin Barends

Ek was 15 jaar oud en in gr. 9 toe ek vir die eerste keer Suid-Afrika se landsgrense oorgesteek het. Net-net te jonk om wettig ’n bier in Duitsland te geniet!

Ons skooltoergroepie het uit slegs 15 leerlinge en twee onderwysers bestaan. Juffrou Borraine en meneer Barnes het nie net pligsgetrou oor ons toesig gehou nie, maar hulle het ook seker gemaak dat ons genoeg oor die Europese land se sosiale gebruike en geskiedenis leer.

Voordat enigeen van ons ’n voet in Berlyn, Hamburg of enige ander Duitse stad sit, word ons onder meer oor die volgende ingelig:

1. Duitsers smul graag aan wors, brood en hul wêreldbekende bier.

2. Hulle hou van orde en is nooit laat nie. Dié reël geld ook vir hul openbare vervoerstelsel: Busse en treine is altyd betyds.

3. Nes Suid-Afrika het Duitsland ’n donker geskiedenis.

Oor die volgende twee weke tree ek in gesprek met talle Duitse landsburgers. Hulle is goed ingelig oor hul geskiedenis en ek is veral beïndruk met die sensitiwiteit waarmee hulle oor hul land se verlede praat.

Adolf Hitler en sy Nazi-aanhangers het geglo dat hulle deel is van ’n superras: ’n verhewe Duitse volk.

Die Joodse volksmoord (1941-1945) was verantwoordelik vir die dood van sowat ses miljoen Europese Jode tydens die Tweede Wêreldoorlog. Adolf Hitler en sy Nazi-aanhangers het geglo dat hulle deel is van ’n superras: ’n verhewe Duitse volk.

Die krag van woorde

Hoewel die skokkende gebeure meer as 70 jaar gelede plaasgevind het, leer ek gou dit word steeds as onsensitief beskou om oor die onderwerp te praat in die teenwoordigheid van Duitsers wat jy nie goed ken nie.

Dit is ook onwettig vir Duitse ouers om hul kinders Adolf Hitler te doop. Verder kan mense wat Nazi-memorabilia in Duitsland dra of die Hitler-saluut gee, tot tronkstraf gevonnis word.

Woorde het betekenis. Woorde het krag.

Ek sê nie Duitsland en die Duitsers is perfek nie. Die land is ook beslis nie vry van rassisme nie. Tog kan ons regering ’n paar notas maak en Suid Afrikaners kan by die Duitsers leer hoe om met meer insig en sensitiwiteit oor ons eie land se verlede te praat.

Woorde het betekenis. Woorde het krag.

In 1966 het die Verenigde Nasies (VN) se Algemene Vergadering apartheid as ‘n misdaad teen die mensdom bestempel. Tog het die voormalige president en Nobelpryswenner FW de Klerk dit onlangs in ‘n onderhoud duidelik gemaak dat hy nie ten volle daarmee saamstem nie.

Ons fondament is nog broos

Liewe mnr. De Klerk: Why are we still debating the UN’s ruling more than 50 years after the fact? If apartheid wasn’t a crime against humanity, how would you define it?

Ek sidder om te dink hoeveel ander Suid-Afrikaners nes hy dink. Lees maar gerus die kommentaar op Facebook, De Klerk is beslis nie alleen nie!

LEES OOK: Dís wat vergifnis regtig is

Die werklikheid van ons Reënboognasie is dat toe die ou, apartheids-“driekleur” by ‘n internasionale toets tussen die Springbokke en die All Blacks gesien is, nie almal ontsteld was nie. Baie het aanhou sê, “dis net ‘n vlag,” waar ander daarna as ‘n gelukbringer verwys het wat die Bokke help wen het.

Daar is nog mense wat dink die word “k*ff*r” is “net ‘n woord”. Daar is mense wat glo die geveg teen rassisme is ‘n mors van tyd en dat hulpbronne eerder gebruik moet word om korrupsie en werkloosheid te bekamp - asof dit die een of die ander moet wees.

“Get over it” is drie woorde wat gereeld gebruik word deur dié wat glo apartheid het 25 jaar gelede geëindig en daarom moet ons eerder nie daaroor praat nie. Ons moet ophou om die huidige Suid-Afrika as 'n nalatenskap van apartheid te sien – wat dit wel is.

Hoe kan ons werklik begin bou as ons nie eerlik is oor hoe broos ons fondament eintlik is nie?

Woorde het betekenis. Woorde het krag: Hulle kan breek of bou.

Hoe kan ons werklik begin bou as ons nie eerlik is oor hoe broos ons fondament eintlik is nie? Dis makliker om aan die droom van ’n reënboognasie te klou as om aan die realiteit daarvan te werk.

  • Sherlin Barends is ’n radio- en televisiepersoonlikheid en is deel van Kfm 94.5 se ontbytprogram Kfm Mornings. Sy woon in Kaapstad, maar sê Idasvallei in Stellenbosch sal altyd haar tuiste wees.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Volg ons op Instagram en Facebook!
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Ons stuur elke Vrydag ‘n nuusbrief uit met die drie gewildste meningstukke van die week. Klik hier en teken in vir die Stemme-nuusbrief.
Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.