Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
‘Mnr. Ramaphosa, dankie dat u die klippe uit die modder krap’
Linkie Bessinger
Linkie Bessinger.

Beste Cyril,

Ek kan op my vingers en tone tel hoeveel keer ek al met pen in die hand voor my skryfboek kom sit het . . .

Elke keer net om “Beste Cyril” in ’n verskillende handskrif te skryf – u sal nie glo hoeveel verskillende handskrifte ek kon skep nie . . .

Glo my, dit is definitief nie as gevolg van ’n gebrek aan woorde nie, maar dalk eerder ’n oorvloed. Miljoene gedagtes en stories wat so aan mekaar vasgevleg is dat ek skoon sukkel om hulle van mekaar te skei.

Die waarheid is wel dat ek vir u eintlik ’n hele boek wil skryf.

’n Boek propvol stories, drome en voorstelle.

Ek dink al vir ’n geruime tyd aan hierdie boek-droom van my. Ek’t daaraan gedink toe ek moeg geleer was vir die eksamen, ek dink daaraan elke keer as ons sonder krag sit.

Ek dink daaraan as ek my koffie drink in die oggend of as ek saam met my familie braai in die aand . . . Maar ek dink veral daaraan as ek in die middae gaan stap. Toe onthou ek eendag dat u self ook ’n kranige stapper is en nou nooi ek u sommer saam. Kan u ’n tydjie afstaan om saam met my te kom stap? Moenie bekommerd wees nie, ek gaan nie u ore vol klagtes prop nie, ek wil sommer net met u gesels.

Dit hoef nie so moeilik te wees nie

Ons spring sommer hier van my ouerhuis af weg. Ons bly al 22 jaar in ’n mengelmoes van ’n plaas-en-kusdorpie-gemeenskap aan die voet van die Wildekus. Al kuier ek die afgelope vier jaar net vakansies hier, sal dit altyd my huis wees.

Hier groet ou Piet, die buurtwag-man, almal elke oggend met ’n vriendelike glimlag en neem glad nie aanstoot as ons party oggende nie teruggroet nie. “Party dae waai die lewe ons maar mos haastig rond, dan moet ons net seker maak ons hou ons eie koers,” is sy antwoord toe ek hom eendag vra of dit hom nie ontstel nie.

Oor ons reënboognasie hang ’n donker wolk en ek wens ons kan net van die ding ontslae raak.

Hier het Faith, Vennie en Gladys sonder sukses probeer om my Xhosa te leer sodat ek lekker saam met hul kinders kon speel. Ons het wel vinnig uitgevind dat ons goed klaarkom, taalgaping of te nie, en dat geen taal ’n ma se woede sal kan sus as jy van kop tot tone vol modder is ná ’n kleilatgeveg nie.

Nooit het ek toe besef dat wanneer ons ouer word, die kleilatgevegte se modder meer en meer vol klippe raak nie, dat taalgapings regtig ’n ernstige probleem is en dat die lewe se gejaag nie meer die hoofrede is dat niemand mekaar vriendelik kan groet nie.

Oor ons reënboognasie hang ’n donker wolk en ek wens ons kan net van die ding ontslae raak. Ek besef ook dat dit dalk nie so maklik gedaan is nie, maar dink darem nie dit hoef so moeilik te wees soos wat ons dit vir onsself maak nie.

Ek het boekdele te sê

Ek wil so ver gaan as om ons land se parlement met ’n Springbok-wedstryd te vergelyk. Die hele volk het oor elke slegte ding wat op daai veld gebeur boekdele te sê, maar nie een van ons was werklik daar, het self gespeel nie.

As dit goed gaan, is die positiwiteit ook maar skraal, half ’n trotse binnensmondse gelukwensing. Dit het half vir almal lekker geraak as dit sleg gaan, want dan kan ons die slagoffer speel.

Ons waardeer nie meer die tye waarin daar goeie goed gebeur nie, want dan kan ons nie meer ons woede in ’n Facebook-inskrywing uitdruk nie.

Ons kla oor alles sleg in die land, maar nie een van ons sit in die parlement met die verantwoordelikheid om met 20 mense wat om ons stry ’n besluit te neem wat die hele land raak nie.

Ons almal sien net een deel van die storie en ons het oor die jare so ongeduldig geraak dat ons instinktief reageer.

Ons kla oor alles sleg in die land, maar nie een van ons sit in die parlement met die verantwoordelikheid om met 20 mense wat om ons stry ’n besluit te neem wat die hele land raak nie.

Soms moet ons net asemhaal en besef: Dalk haal Rassie vir Kolisi af om ’n meer belowende speler vir die toekoms ’n speelkans te gee. Langtermynbesluitneming teenoor korttermynreaksies.

Mnr. Ramaphosa, ons kla, ons skel en ons trek sommer landuit. Die modder wat gegooi word, is vol klippe, maar dankie dat u ten spyte van dit alles die klippe uit die modder uit krap, dit afspoel en die beste land vir ons daarmee bou wat u moontlik kan.

Dankie dat daar altyd op die een of ander manier ’n holte vir my stappende voete in hierdie land sal wees . . . ’n vastrapplek, ’n tuiste. Dankie dat u besef dat hoe donker die wolk ook al mag wees, dit net een sonstraal sal neem om die reënboog weer te laat verskyn.

Ek is nou klaar gestap en gesels, ek volg u nou graag op die pad wat u vir hierdie land uitlê.

Stapgroete,

Linkie Bessinger

  • Linkie (22) studeer BA Joernalistiek en Taalpraktyk aan die Universiteit van die Vrystaat (Kovsies). Sy kom oorspronklik van die Wildekus net buite Oos-Londen, waar sy skool gegaan het.
  • Hierdie brief is 'n inskrywing vir Die Student se Beste Cyril... kompetisie.
Meer oor:  Die Student  |  Bestecyrildiestudent  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.