Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Moenie jou emosies en omgee inperk nie
William SezoeFoto: Verskaf

Dit is pikdonker in die kamer waar ek sit en skryf of altans tik aan dié stuk.

Nee, darem nie weens beurtkrag nie. Ek verkies dit om saans in die donkerte te sit en werk – dan kry ek die meeste van die goed wat ek moet doen klaar.

Ek was besig om ’n bietjie navorsing te doen toe ek net vir ’n oomblik ophou, stil raak en agteroor sit en dink.

En toe begin ek tjank, die trane het letterlik net begin vloei soos die water wat deur die sluise van die Vaaldam stort!

En soveel goed begin skielik deur my kop hardloop. My siel, hart en liggaam voel ’n swaarte en donkerte wat neersak. Ek besef toe dat iets nie reg met my is nie. Ek kan letterlik voel hoe my skouers hang en die vel onder my oë soos sakkies melk hang.

Weet julle, ek besef toe dat ek in die laaste tyd myself afgeskeep het; fisiek en emosioneel. Ek het meer tyd bestee om deadlines te bereik, terwyl my emosionele welstand se deadlines nie eens in ag geneem is nie.

Ek het letterlik maande laas my gedagtes neergepen, al weet ek om te skryf is vir my terapeuties, omdat ek met depressie leef.

Ek het ongelukkig net nie die tyd gehad om weer iets te skryf nie. Of ek was bloot net te emosioneel moeg om dit te doen.

So baie keer vergeet ons van onsself in die proses om ander mense gelukkig te maak; tevrede te stel. Maar in die proses maak ons onsself seer, en baie van ons verloor onsself daardeur.

Ons skeep onsself af in die proses van besig-wees.
Ons skeep onsself af in die proses van besig-wees. Foto: Marc Olivier

Dis so belangrik om eers seker te maak dat jy oukei is voordat jy enigiets anders doen. Want as jy nie oukei is nie, hoe gaan jy verseker jy doen ’n sekere taak of wat ook al na die beste van jou vermoë?

Dit kom ook by my op dat ’n mens soms aan jouself moet erken dat jy sukkel – ek sê altyd dit is oukei om met jouself te praat, dis terapeuties. Vir sommige mense sal dit seker baie mal klink, maar dit help om soms net jou emosies, pyn, gedagtes en denke met jouself te deel. Dis deel van verwerking en heling.

Natuurlik is dit ook belangrik om ook met iemand anders te praat. Iemand wat jy kan vertrou, iemand wat jou kan omarm en sê alles gaan oukei wees. Dit kan natuurlik ook God wees met wie jy dit deel. Dit help net om die goed waarmee jy sukkel, te deel. Dis letterlik asof ’n groot stuk van die berg wat jou skouers so laat hang, van jou lyf afrol.

Vind iets wat jou kan help om emosies of historiese gebeurtenisse in jou lewe te verwerk. Skryf is vir my een van die oplossings, maar daar is ook ander.

Stap is van die beste vorms van terapie. Foto: Jes
Stap is van die beste vorms van terapie. Foto: Jessica Pamp/Unsplash


Ek het onlangs begin stap en probeer om daagliks ten minste 10 000 treë te stap – dit doen my verskriklik goed, want vir ’n uur neem ek net afstand van die wêreld en sy onnodige lawaai. Ek bevind myself in die natuur; die wind wat deur my hare waai, en die son wat op my voorkop skyn en maak dat my olierige vel blink, die bome wat waai en swaai, die voëls wat spring en vlieg en dans en wat nog. Dít gee my nuwe hoop en insig vir die lewe. Nuwe krag om weer ’n nuwe dag te kan aanpak – al is dit ook hoe moeilik!

En waardeer tog die klein dinge in die lewe.

En waardeer tog die klein dinge in die lewe. Dit help regtig ’n mens om net bietjie anders te kyk na dinge rondom ons. Veral in die tye waarin ons ons bevind, is dit so broodnodig om net te besef wat jy het en hoe ver jy in die lewe gevorder het. Dat jy nog gesond en aan dié kant van die lewe is.

Ja, baie van ons moes vriende en familie aan die dood afstaan, veral weens die virus in die laaste tyd, maar alles gebeur met ’n rede. Ons moet net aanhou en voortbou. Glo dat dinge beter gaan raak.

Daar wees vir mekaar en help waar ons kan. In dié tyd het ons mekaar nodiger as ooit. En onthou om gereeld net op te check op jou vriende en familie. Al is dit net ’n WhatsApp-boodskap om te vra hoe gaan dit.

Ek noem dit omdat ek die ander dag op een van my vriende opgecheck het en op dié laat weet sy dat sy tans in ’n psigiatriese hospitaal is vir die hoeveelste keer ná soveel maande.

Dit het my gebreek, maar ook laat besef ons moet meer daar wees vir mekaar!

  • William Sezoe is ’n onderwysstudent in sy vierde jaar aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Suid-Afrika  |  Menings  |  Die Student
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.