Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Theresa en Hillary: Moenie vroue oor die glaskrans stoot nie
Mart-Marié Serfontein
Mart-Marié Serfontein

Die glass cliff is ’n verskynsel wat vir die eerste keer in 2004 deur die navorsers Michelle Ryan en Alexander Haslam van die Universiteit van Exeter in Engeland beskryf is.

Dit is ’n metafoor wat afgelei is van die sogenaamde “glasplafon” wat baie vroue keer om “bo” uit te kom – dit kan enige plek wees, maar dit verwys gewoonlik na topposte in ondernemings of in die politiek.

Die glass cliff of “glaskrans” beskryf gevalle waar spesifiek ’n vrou ingebring word om aan stuur van sake te wees as ’n onderneming (of land) deur ’n moeilike tyd gaan.

Daar is oorweldigende bewyse dat vroue wat in dié krisistye ingebring word, dikwels daarin misluk om hul mandaat uit te voer. Hulle kom nie die mas op nie en die onderneming sink of die parlement kry dit nie reg om ’n Brexit-ooreenkoms goed te keur nie.

Sy kan nie, want sy is ’n vrou

Twee dinge gebeur dan. Die eerste een voorspelbaar, en die tweede een eintlik ook, maar dit laat my steeds walg: Die vrou word natuurlik kwalik geneem en daar word gesê dit is haar skuld.

Dit maak sin dat mense dit sê. Sy was dan aan die stuur van sake en onder haar leierskap het dinge nie uitgewerk nie. Máár mense gaan dan verder en sê dinge het nie uitgewerk het nie omdat sy ’n vrou is.

Daar is oorweldigende bewyse dat vroue wat in dié krisistye ingebring word, dikwels daarin misluk om hul mandaat uit te voer.

Sy kon nie die werk doen nie omdat sy ’n vrou is. En dít is verkeerd.

Ek is seker almal kan met my saamstem, artikel klaar.

If only.

Hierdie artikel gaan nie oor die glaskrans nie. Daar is baie ander mense wat baie beter navorsing as ek gedoen het en baie beter artikels geskryf het. Lees hulle s’n.

Hierdie artikel gaan oor die feit dat ons steeds vandag in ons samelewing die verskynsel het waar mense (mans en vroue) ander vroue daarvan beskuldig dat hulle onbevoegd is om ’n sekere taak te verrig omdat hulle biologies ’n vrou is.

Patriargale stelsel

Dink net ’n bietjie terug: Hillary Clinton gedurende die 2016-presidentsverkiesingsveldtog in Amerika, Theresa May die afgelope drie jaar. Selfs op tuisbodem: Ferial Haffajee word gereeld gekritiseer (Hallo Julius) – om nie eens van Helen Zille te praat nie. Die lys gaan aan.

Sy kon nie die werk doen nie omdat sy ’n vrou is. En dít is verkeerd.

Ek glo hierdie tipe denkwyse heers steeds in ons samelewing omdat ons steeds aan ’n diepgesetelde patriargale stelsel onderhewig is – en ons besef dit die helfte van die tyd nie eens nie. My voorbeeld van die glaskrans is bloot ’n manifestasie hiervan.

Êrens, diep in ons onderbewussyn, bevraagteken ons steeds vroue se vermoë om werk te doen wat mans tradisioneel (dus, vir die afgelope 2000 jaar) doen.

Daar is mos inherente dinge wat vroue goed doen en ander wat mans goed doen. Kom ons ontstel liewer nie die wêreldorde nie!

Skeer almal oor dieselfde kam

Hierdie manier van dink kan nie ons samelewing vorentoe neem nie.

Hou op om ’n vrou se emosies en hormone en “tyd van die maand” en moederlike instinkte kwalik te neem vir alles wat sy doen. Almal het emosies en hormone en ons almal behoort genoeg selfbeheersing te hê om in alle situasies ons emosies opsy te sit en ’n oorwoë besluit te neem.

LEES OOK: Vrouemaand: Hoekom is ons bang om ons stemme te laat hoor?

Hiermee sê ek nie dat vroue onaantasbaar is en nooit op die vingers getik mag word as hulle verkeerde besluite neem of net gewoon nie hul werk kan doen nie. Maar dan moet ons die korrekte rede vir hul onkunde vasstel en identifiseer: Hulle is nie gekwalifiseerd om hul pos te hou nie of al die ander redes wat geopper word wanneer ’n man droogmaak.

Ons strewe in Suid-Afrika na ’n gelyke samelewing, so kom ons skeer almal oor dieselfde kam, sonder vooroordeel.

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.