Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
'Moet die Bachelor régtig elke meisie soen om sy sielsgenoot te vind?'
Corine Raath
Corine Raath

In die 21ste eeu is ons liefde soos ons kos: vinnig, vals en vervangbaar. Of altans, dis hoe dit wil voorkom. Maar lyk liefde regtig anders in 2020?

Hoeveel keer het jy nie al gehoor dat liefde ’n werkwoord is nie? (Die taalkundige in my kreun elke keer wanneer ek dit hoor, maar nietemin.) Die punt is: Ons assosieer sekere gedrag met liefde en dít is waar liefde verander het.

Liefde is tegnies gesproke ’n abstrakte selfstandige naamwoord. Met ander woorde, dis iets wat nie getel kan word nie – dit is tog ’n emosie. Die woord abstrak impliseer ook dat dit veranderlik is en hierdie eienskappe maak dit geweldig moeilik om te besluit waaraan jy liefde kan meet.

Moet die Bachelor régtig elke meisie soen om te sien of sy sy sielsgenoot is?

Een van die redes hoekom ons so verward is, is oor die verskeurdheid tussen hoe die liefde in die media uitgebeeld word en hoe dit in die praktyk is. Hier sit jong mense (en ander) en kyk na ’n program soos Love Island waar die deelnemers onder die skyn van liefde veg vir ’n massiewe kontantprys.

Intussen loop almal heeldag in hulle kleinste swemklere en met ingespuite lippe rond en vertel vir mekaar dit “gaan nie oor die uiterlike nie”. As dit nie die toppunt van oppervlakkigheid is nie, dan weet ek nie.

Ek sê nie dis nie goeie vermaak nie, maar dis beslis nie ware liefde nie. Moet die Bachelor régtig elke meisie soen om te sien of sy sy sielsgenoot is?

Ek sê nie dat alle liefdesprogramme so is nie, maar dis tog opvallend hoe baie deelnemers pertinent sê dat hulle daar is “vir die regte redes”.

Liefde op sosiale media

Selfs op platforms soos Tinder moet jy eers deur al die hordes visse in die aanlyn see worstel voordat jy miskien iemand oulik kan vang wat nie net op soek is na ’n “lekker tyd” nie.

Op Instagram is jy weer net verlief indien jy die wêreld vol saam met jou liefie reis. Jy moet ’n uitspattige troue hê en altyd perfek lyk. Baie mense spog ook graag met hoe baie drama hul verhouding al oorleef het en hoe hulle gereeld soos ’n getroude paartjie baklei.

Op Instagram is jy weer net verlief indien jy die wêreld vol saam met jou liefie reis.

Maar dis nie realisties nie. Ek is dalk verkeerd, maar is die hele idee van ’n huwelik nie juis mense wat mekaar aanvul en kan saamwerk nie? Natuurlik is konflik onvermydelik, maar konstant moet dit beslis ook nie wees nie.

Dit veroorsaak onsekerheid

Dis hierdie tipe persepsies wat maak dat mense in gesonde verhoudings sit en wonder of hulle nie te vervelig is nie. Deesdae kan ons nie eens ’n twee uur lange fliek kyk sonder om ’n pouse te wil neem nie, so hoe wil ons ’n langtermynverhouding oorleef?

Dis hierdie tipe persepsies wat maak dat mense in gesonde verhoudings sit en wonder of hulle nie te vervelig is nie.

Ek gaan jou nou ’n geheim vertel: ’n Ware verhouding is vervelig. Ongelukkig is stabiliteit egter nie so goed vir bemarking soos ’n rollercoaster-romanse nie. Ons soek instant gratification.

Die high van iemand nuut verlei of weer baklei en opmaak of om die aantreklikste persoon langs jou sy te hê, al het julle niks vir mekaar te sê nie.

Waar laat dit ons?

In skynverhoudings waar ons alles doen wat van moderne liefde verwag word: die fancy dates, duur presente en Instagram-plasings waar jy hulle daagliks ophemel.

Op die ou einde voel jy steeds leeg, want hierdie “uiterlike liefde” is nie dit waarna jy regtig op soek was nie. Dit beteken nie dat ons nie nog steeds soek na opregte liefde nie, dis net dat dit soveel moeiliker is om aan jou eie standaarde eerder as aan sosiale media se standaarde te voldoen.

LEES OOK: Dít is wat die liefde moet wees

Die fout met vandag se liefde het dalk nooit by ons as mense gelê nie, maar eerder by die omgewing waarin ons rondbeweeg. Liefde as emosie het nie verander nie, maar dit waaraan ons dit meet, het – en dit laat ons generasie eensamer as ooit.

  • Corine Raath studeer BA Wiskunde en Geesteswetenskap aan die Noordwes-Universiteit. Sy kom oorspronklik van Bellville in die Kaap.
  • Hierdie meningstuk is deel van ’n kompetisie op Die Student waar studente gevra word: Lyk die liefde anders in 2020? Klik hier om die ander meningstukke te lees.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Volg ons op  Instagram en Facebook!
  • Ons stuur elke Vrydag ‘n nuusbrief uit met die drie gewildste meningstukke van die week. Klik hier en teken in vir die Stemme-nuusbrief.
Meer oor:  Liefdediestudent  |  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.