Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Matrikulant vertel: 'My doofheid. My toevlug'
A vector cartoon illustration.

Elke mens het ’n toevlug. Miskien ’n plek, soms iemand of partymaal ’n gevoel, waarheen hulle kan ontsnap as die wêreld teen hulle werk.

My toevlug is my gestremdheid.

My doofheid is kompleks. Dis ongemaklik vir sommige mense, vir ander is dit fassinerend. Ek is in die horende wêreld met geen dowe vriende om my nie, maar tog sukkel ek soms om by te bly. Ek is in ’n hoofstroomskool, omdat ek kogleêre inplantings het en die klas kan volg, maar terselfdertyd kan ek pouses soms glad nie bydra tot die gesprekke nie, want ek het geen idee waaroor daar gepraat word nie.

Wanneer ek nuwe mense ontmoet, is my eerste instink om my doofheid vir so lank as moontlik vir myself te hou. Dit is nie oor ek skaam is nie, maar ek het al ervaar dat mense dan eerder my gehoorgestremdheid sien, pleks van net ’n gewone 18-jarige meisie.

Die afgelope tyd het ek begin wonder wie sou Rentia Meyer gewees het as sy nie doof was nie? Sou elke onderwyser steeds haar naam geken het? Sou my portuurgroep ook te sleg voel om iets kru vir my te sê, omdat hulle nie ’n “gestremde” wil seermaak nie? Sou sy ook haar hare laat groei en nooit in haar lewe laat sny nie, want dis die beste manier waarop sy kyke in die publiek kan vermy? Sou sy al teen dié tyd ’n ou gehad het?

Rentia Meyer
Rentia Meyer

Daar is so baie vrae wat nooit beantwoord sal word nie. Dit keer my egter nie om elke nou en dan te wonder oor die persoonlikheid wat ek dalk sou gehad het in ’n ander lewe nie. Die een wat nie uitnodigings na kuiers van die hand wys omdat sy weet dit gaan te raserig wees nie. Nie gesien word as die stil een, bloot omdat sy nie haar mening in gesprekke lug nie, want sy is bang sy het nie die onderwerp reg gehoor nie. Nie gesien word as iemand wat al so baie mylpale in haar kort lewe op dié klein dotjie in die heelal bereik het nie.

Die feit dat ek aanvanklik gesê het my doofheid is my toevlug, begin seker teenstrydig klink.

Ek bedoel, want die voordeel van my gehoor is veel groter as al die ander dinge wat daarmee saamkom. Die voordeel van my situasie is stilte, die duidelikste eienskap van doofheid.

Stilte is ’n moeilike konsep om te verduidelik vir iemand wat dit nog nie beleef het nie. Ek beskryf dit soms as die “mute”-knoppie op die TV-afstandbeheer, maar dis nie waar nie. Soms sê ek dit is soos wanneer ’n horende persoon onderwater is, maar dis ook nie reg nie.

Ek kan dit nie beskryf nie. Dis onbeskryfbaar. Presies dít is die rede waarom dit my toevlug is. Dis eie aan my.

Elke persoon ervaar oomblikke waarin hulle oorweldig word deur alles om hulle wat te vinnig verby hulle jaag, soos wanneer jy uit die karvenster kyk na die landskap wat verbyflits. Ek word ook oorweldig, soms selfs net deur klein goedjies.

Ek haal net die elektronika van my ore af en die hele wêreld smelt weg.

Elkeen het ’n eie manier van ontvlugting van die werklikheid. Myne is ’n kombinasie van drie dinge – stilte, donkerte en droom.

Dis so eenvoudig. Ek haal net die elektronika van my ore af en die hele wêreld smelt weg. Potte en panne raas nie in die kombuis nie. Hadidas skree nie op die dak nie. Ek hoor nie die wind nie. Ek hoor nie stemme nie. Ek hoor nie die getik op die rekenaar nie. Ek luister nie vir emosies nie. Ek luister nie vir bekommernisse nie. Net stilte, sagte vibrasies hier en daar, en doodse vrede.

Ek kan nie slaap as dit nie pikdonker is nie. Ek wil my hand kan uitsteek en glad nie die buitelyne uitmaak nie. Soggens wil ek vir so lank moontlik my kamer donker hou en as ek stort, hou ek van die badkamer so donker moontlik.

Sonder die donker, sou ek nooit die sterre ontdek het nie. Toe ek jonger was, het ek ’n obsessie gehad met sterre. As ons saans in die kar gery het, het ek heeltyd opgekyk en hulle van ligjare weg bewonder. By my oom se vakansiehuis aan die Breederivier is die sterre so helder, so baie en so, so, so toweragtig. Ek kan ure lê en na elkeen kyk. Stories opmaak vir elke sterretjie wat dalk ’n verlore verliefdheid, vyandige vriendskap of ’n verbanne verlede is. Ek raak verlore in donkerte, en wil nooit gevind word nie.

Droom jy net as jy slaap? Is drome nie wense wat jy in jou onderbewussyn wens nie? Is drome nie die verlede wat weer afspeel in jou gedagtes nie? Is drome nie dalk ’n spieëlbal wat jou denke om en om en om draai sodat jy geen sin mee daarvan kan maak nie?

Ek dink nie ’n mens droom nét wanneer jy slaap nie. Jy droom ook terwyl jy in die ry vir koffie staan en dink aan iets wat jy wens met jou wil gebeur. Jy droom in die oomblik dat jy ’n stukkie verlede in iemand se glimlag raaksien, maar dit nie besef nie. Jy droom as jy alleen is, jy droom as jy omring is deur mense, jy droom as jy hartseer is, jy droom as jy gelukkig is, jy droom as jy besig is, jy droom as jy verveeld is. Ander kom dit nie agter nie, maar ek kom dit agter.

Dit is my toevlug, ek swig daaronder – ek laat my drome my gedagtes oorneem en beleef dan ’n millisekonde van onwerklikheid.

Geen klank

Geen lig

Geen realiteit

Maar mettertyd sit ek weer die mensgemaakte apparate op my ore, maak ek my oë oop en druk die drome eenkant. Die lewe is daar vir my om te beleef. Nuwe herinneringe te maak, nog struikelblokke te oorkom en eendag in twee oë vas te kyk wat my nuutgevonde toevlug sal word.

  • Rentia Meyer is tans ’n matrikulant aan die Hoër Meisieskool Bloemhof. Sy gaan volgende jaar BA Geesteswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch studeer.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Volg ons op Instagram en Facebook.

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?

Jy kan R10 000 wen!

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.