Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
My pleidooi aan wit Afrikaners
Sybrand Harris
Sybrand Harris

Vroeër die jaar bevind ek myself in ’n hoogs ongemaklike situasie. Ek werk in Onderstepoort se Veterinêre Akademiese Hospitaal as deel van my finalejaaropleiding. In die konsultasiekamer is ’n wit Afrikaanse oom in sy laat 50’s, sy vrou wat onderdanig in die hoek aan haar handsak vasklou en ’n hond wat op die ondersoektafel lê – besig om te vrek.

Dis Sondagmiddag en dis ’n ná-ure-noodgeval. Hy weier dat die swart vrouedokter, wat ’n spesialis in kleindier-geneeskunde is, aan sy hond raak weens die kleur van haar vel.

***

Vroeër die kwartaal bevind ek my in ’n hoogs irriterende situasie.

Ek sit en wag om my visum te kry by die ambassade se kantore. Ek kom te lande langs ’n eksotiese, wit Afrikaanse weduwee wat nou toer vir ’n lewe.

Sy braak kliphard gal oor die diens en begin luidkeels praat oor hoe goed sy vir die swart mense was in die dae van apartheid en hoe hulle glad nie so sleg af was nie. Dit was eintlik vir hulle (en “ons”) beter.

Die blote feit dat die grootste deel van Suid-Afrika se bevolking geen regte gehad het nie en in verdrukking geleef het, is irrelevant, want ten minste is sy in daardie tyd vinnig gehelp by die visumkantore.

Skuins agter ons sit ’n swart vrou saam met ons en wag.

***

Vroeër die maand bevind ek myself in ’n hoogs ontstellende situasie.

Ek beland in ’n gesprek met wit Afrikaanse vreemdelinge om ’n vleisbraaivuur oor wit mense wat die uitverkore volk is en dat enige mense van kleur nie in die hemel kan kom nie. Hulle is ook maar net anders as “ons” en dus kan ons hulle diskwalifiseer. Verder het hulle gal gebraak oor die nuwe, swart Mej. Heelal en hoe sy slegs daar is vir kwotas.

Deel van die gesprek was ’n wit, Afrikaanse ou wat laas naweek aan sy Zoeloe-meisie verloof geraak het.

***

Vroeër die week bevind ek myself in ’n hoogs onaangename situasie.

Ek klim in ’n minibus om my van die lughawe af na my bestemming te neem. Nie lank nie toe vaar die wit, Afrikaanse bestuurder uit oor al die “goggas” wat die strande beset oor die Kerstyd en dat g’n mens dit kan waag daar nie. Hy het ook gereeld die k-woord vir homself gemompel as hy ’n swart mens oor die pad sien stap en het dan ook ’n bietjie versnel sodat die persoon moet hardloop na veiligheid aan die ander kant van die pad.

Die bussie het slegs ’n paar wit mense in gehad. Niemand het mekaar geken nie en hy lewer ’n professionele diens.

***

Ek is tot in my diepste wese verstom en verward.

Is my wit vel en die taal wat ek praat ook terselfdertyd ’n teken om ongefiltreer, verbaal jou oortuigings en haatspraak los te laat in die aanname dat presies daardie twee faktore ons laat saamstem oor ras, geloof, politiek en kultuur?

Skep my wit vel en die taal wat ek praat summier ook vir jou ’n pseudo-veilige ruimte om te dink omdat ons in daardie opsigte ooreenstem ons in alle aspekte van die lewe ook dieselfde is? Is my wit vel en die taal wat ek praat uit die staanspoor uit ook ’n onuitgesproke reël dat wanneer een of meer in enige hoedanigheid saamkom, dit ook ’n eksklusiewe “kultus” is waar onvanpaste stellings gemaak kan word omdat almal dieselfde is?

En ek moet dit sluk en swyg uit goeie maniere? Uit respek vir iemand ouer as ek? Uit agting vir die geselskap? Om ongemak te voorkom? Uit konvensie?

Stilbly maak jou aandadig – dit het ek geleer by Sophia Kapp. En ek is moeg om aandadig te wees aan gesprekke wat nie hoort in die samelewing nie, wat nog te sê in hierdie eeu!

Uit die hart uit

Verskoon my, meneer en mevrou, meisie en ou: Ek wil nie disrespekvol of minagtend wees nie, maar dis nie oukei nie. Ons leef in ’n integrale samelewing en ’n nuwe Suid-Afrika wat al lank daar is. Ons het vriende, geliefdes, kollegas en gelykes van alle rasse, tale, gelowe en afkoms.

Jy gaan net een keer dink die sirkel is veilig en jou mond verbypraat. Wit mense is lank nie meer so wit nie. En wit mense praat lankal nie meer so nie.

Ek weet ek veralgemeen en baie Afrikaners leef inklusief en aanvaar mense om hulle. Maar verduur asseblief my veralgemening om my punt oor te dra. En as jy kwaad word hieroor, doen introspeksie om vas te stel waarom.

Ek doen dus ’n beroep op wit Afrikaners (en ek kan, want ek is ook een): Hou asseblief op! Roei dié soort gesprekke wortel en tak uit. Verstaan dat alle mense het net soveel bestaansreg het as jy. Verstaan dat jou velkleur jou nié bo ander verhef nie. Weet dat medemenslikheid makliker kom as haat. En as jy dit nie verstaan nie, probeer asseblief.

Moenie dit uitroei uit jou gesprekke uit nie. Roei dit wortel en tak uit jou hart uit. Die res sal volg.

  • Sybrand Harris (23) het sopas sy veeartsenykunde-graad verwerf aan die Universiteit van Pretoria se Onderstepoort-kampus. Hy is gebore in die bosvelddorpie, Louis Trichardt, en het aan die Hoërskool Ermelo gematrikuleer. Hy is ook 'n ambassadeur vir Afrikaans.com.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.