Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
My pyn is met wat ons nié leer nie

Dit was seker so twee dae voor Erfenisdag toe ek al weer by my plaaslike dwelmwinkel, die tweedehandse boekwinkel Mega Books in Faerie Glen, instap.

’n Mens sou dink teen dié tyd het die winkel reeds ontslae geraak van al sy ouer voorraad, maar nee, ek’s terug en ek het reeds twee Clive Cusslers onder my arm.

Tog besluit ek om te gaan rondkrap agter in die kratte van boeke wat nog nie uitgesorteer is nie.

Aan die grawe vir literatuurgoud. Want, glo dit of nie, dis gewoonlik goedkoper.

Emile Muller

Die eerste drie kratte is vol ou handboeke, drie of vier uitgawes oud, maar net soos ek begin moeg word vir die stof en vuil hande, vind ek die goud. Die Groot Verseboek.

Nou, die meeste van my medestudente wat hierdie nou lees, wonder twee goed. Eerstens, wat het dit te doen met erfenis en tweedens, wat is Die Groot Verseboek?

Die eerste vraag sal ek later beantwoord maar die antwoord op die tweede vraag is dat dit ’n boek is vol ou gedigte geskryf deur Totius, N.P. van Wyk Louw, Jan Celliers en talle ander.

Ek kom terug by die huis en begin deur die jongste dwelm lees. As die trotse Potchefstromer wat ek is, begin ek by Totius, gevolg deur die gedigte van my laerskool-naamgenoot Jan Celliers.

Ná minstens ’n uur se swottings-uitstel besluit ek dis seker nou tyd om agter die regte boeke te gaan sit. Maar, soos ek deur die somme en joernale gaan wat die dosente nooit vra nie, kan ek nie help om te dink aan die klein wit boek wat onder op die koffietafel lê nie.

Suid-Afrikaanse legends wat in die dae voor sosiale media, televisie, selfone en in sommige gevalle, radio, die land vermaak het met hul skryfstukke

Gekoop vir R20 in ’n winkel waar al die ongewenste boeke bly wat nie meer ’n tuiste het nie. Dis nie net die prys wat my pla nie, dis die inhoud en wie dit geskryf het; Suid-Afrikaanse legends wat in die dae voor sosiale media, televisie, selfone en in sommige gevalle, radio, die land vermaak het met hul skryfstukke.

Soos ek afstap om koffie te maak, besef ek dat dit nie net die klein wit boek is nie, maar talle ander gevalle van erfenis wat vergeet word.

Groot Verseboek
Groot Verseboek

Deesdae leer skoolleerlinge net oor apartheid en die wêreldoorloë, met sommige ander klein hoofstukke tussenin.

Oor apartheid weet ons van al die haat wat gevloei het in die land. Nie een van die episodes in die Suid-Afrikaanse geskiedenis behoort van vergeet te word nie, want uit elkeen kan ons ’n les leer.

My pyn is met wat ons nié leer nie.

Leerlinge ken glad nie meer die geskiedenis van hul voorvaders nie en dis ’n probleem, nie net by Afrikaanse mense nie, maar by ander kulture ook.

Ons het niks geleer oor Shaka, koning van die Zoeloes, op skool nie, niks oor die Groot Trek nie en niks van die Boereoorloë nie. Die Boereoorlog staan vir my uit; hoekom wil die regering, wat klem wil plaas op die geweld wat ons nasie deurgegaan het, nie praat oor ’n oorlog waar alle kulture bymekaar gekom het om teen die Britse indringers te veg nie?

Almal is veronderstel om te leer uit die foute wat gemaak is in die verlede sodat ons vir ’n beter toekoms kan werk.

So, volgende keer wanneer jy in jou plaaslike tweedehandse winkel is en jy ’n Groot Verseboek optel, koop hom, of blaai ten minste daardeur en lees iets wat jou hede en jou toekoms sal verryk.

Want ons erfenis het ’n plek op die rak van die heelal.

  • Emile Muller is 'n student in sy vierde jaar wat Forensiese Rekeningkunde en CA aan Noordwes-Universiteit studeer. 
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie. 
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier
  • Volg ons op Instagram en Facebook

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF? 

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video: 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.