Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
My stokperdjie ook my inkomste – respekteer dit!
Ilzé Fourie
Ilzé Fourie

Ek is ’n entrepreneur. My tyd is my geld. Respekteer dit asseblief so.

My ouers sorg nog altyd baie goed vir my en het ek nog altyd gekry wat ek nodig het en meer.

Maar van kleins af het my ouers my geleer jy kry net dit in die lewe waarvoor jy hard werk.

Só het ek en my ouers verskeie onderhandelinge aangegaan, onder meer om akademiese prestasies met beloning aan te spoor. Ek het ook op nege leer naaldwerk doen en vir my tiende verjaarsdag my eie naaimasjien gekry waarna ek verskeie skewe goed aanmekaar gestik het en dan aan my familie en huisvriende verkoop het.

Vreemd hoe mense toe gedink het my skewe meesterstukke is ’n geldjie werd, terwyl mense nou verwag ek moet alles as gunste en gawes vir ander doen. Vinnig ’n broek korter maak hier, ’n romp aanmekaarslaan daar en sie’daar! Jou projek het my ’n aansienlike bedrag gekos en wat kry ek daarvoor?

Partykeer nie eens ’n dankie nie en soms is die mense nie eens tevrede nie en die broek moes langer gewees het of die rok word in die kas gegooi net om nooit weer die lig te sien nie. Dan praat ek nie eens van die geskokte reaksie as ek vra vir vergoeding vir die materiaal en garing wat ek gebruik het nie.

Dit moet gate help toestop

Naaldwerk is my stokperdjie. Ek is baie lief daarvoor en sal veel eerder heeldag agter my getroue masjiene sit en goeters aanmekaar stik as wat ek moet leer. Dié dat ek seker nie meer vir akademiese aansporings werk nie.

Naaldwerk is egter ook vir my ’n ekstra bron van inkomste – my aanvuller vir avonture saam met vriendinne, ’n ekstra kledingstuk hier en daar (nee, ek maak nie al my klere nie), ’n manier om die finansiële druk op my ouers met ’n rand of ses ligter te maak en verskeie ander gate toe te stop waar die geldsake druk.

Ek hou nie daarvan om namens ander mense te praat nie, nog minder om mense daaraan te herinner dat hulle my iets skuld.

Ek hou nie daarvan om namens ander mense te praat nie, nog minder om mense daaraan te herinner dat hulle my iets skuld. Maar in dié geval praat ek namens al jou entrepreneursvriende, want ons sit in dieselfde bootjie. Vergoed ons asseblief vir ons tyd en talente waarmee ons jou help.

Jy is my vriend, ek gaan dit vir jou gee teen hopeloos te veel afslag, maar dan verwag ek dat jy dit ten minste sal betaal sonder dat ek jou daaraan moet herinner.

Nie al my vriende is skuldig nie. Ek dink veral aan een vriendin wat my nie net uit haar eie beursie ondersteun nie, maar my goed aan almal op haar tuisdorp smous.

Dankie vir die vriende wat wel niks verniet in die lewe verwag nie. Julle is karig gesaai, maar tog so spesiaal – ons waardeer julle.

Vir die res, vergoed asseblief jou vriende vir hul talente, tyd en moeite!

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.