Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
'My verlore vriend leef nou op straat'

young homeless boy holding a cardboard house

Ek het altyd gewonder wat my eerste reaksie sal wees indien ek eendag iemand wat ek ken of geken het, sonder werk op straat sien. Niks kon my voorberei vir die werklikheid nie.

Eerstens moet ek erken, as dit nie vir my studies was nie dan sou ek ook maar soos sommige mense dink dis omdat hulle te lui is om te werk. Maar met God se “intervention” en my studies in pastorale narratiewe terapie het my perspektief heeltemal verander.

Wat volg is ’n verhaal van ’n vrou wat God leer ken het, haar harde hart oorgegee het in sy hande en elke dag daarna streef om deur sy leiding mense se lewens aan te raak. Om ’n Christen te wees beteken nie jy is nou ewe skielik silwerskoon en foutloos nie. Dit beteken dat jy die God, die Skepper van die heelal, aangeneem het as jou Verlosser, jou Vriend, jou Hemelse Vader.

My geestelike reis het begin in 2016 toe ek ingeskryf het vir ’n kursus in pastorale narratiewe terapie. Dit was heeltemal ’n ander wêreld. Hier het mense eintlik maar hulself genees deur leiding en ondersteuning van die terapeut, jy kon jou storie met vrymoedigheid deel sonder om te vrees dat jy toegegooi gaan word onder veroordeling. Dit was hier waar my perspektief verander het, nie net oor mense op straat nie; ek het met nuwe oë na die wêreld en sy dinge gekyk.

Simoné van Schalkwyk
Simoné van Schalkwyk

Dit het tot my deurgedring dat die mense wat ek altyd veroordeel het, mense is met ’n storie, ’n lewensverhaal met ’n wye reeks klimakse en verhale.

Wat pastorale narratiewe terapie ook besonders maak, is die feit dat mense wat deur trauma was hul getuienis kom deel en vertel hoe hierdie terapie vir hulle gewerk het toe geen ander terapie, sielkundige of psigiater kon nie.

Een van die stories het my hart so geroer dat ek besef het ons lewe in ’n mal, deurmekaar en wrede wêreld, en wat erger is is die feit dat mense voel hulle kan dit met niemand deel nie omdat sommige misdaad gestigmatiseer word. Dit word soms ook beskou as die “slagoffer” se skuld.

Eendag het ’n dame haar verhaal vertel van hoe sy op straat beland het, hoe sy oorleef het en hoe sy dit oorkom het. Sy het vertel hoe mense haar veroordeel het sonder dat hulle haar verlede ken. Sy het haar pa aan die dood afgestaan en was so diep in rou gedompel dat sy begin dwelms gebruik het om weer “lewendig” te voel. Dis waar haar probleme begin het, maar nadat haar geliefdes daarin geslaag het om haar te oortuig om hulp te kry en sy pastorale narratiewe terapie ontvang het, het sy ’n ommekeer in haar lewe ervaar. Sy het genees.

Ek was eendag op pad om kruideniersware te koop toe ek een van my verlore vriende op straat sien. Vir ’n oomblik het ek myself probeer oortuig dat ek myself misgis, maar die realiteit het my getref. Ek het toe myself probeer oortuig dat hy dalk net wag vir iemand, maar aan sy klere en gedrag kon ek sien dit is nie die geval nie, hy is op straat. My hart het dadelik tot in my skoene gesak, emosies het soos ’n “rollercoaster” deur my gevloei en ek was verslae. Alles in my wou sy naam uitroep, hom vra of hy “okay” is, wat gebeur het, maar ek was in skok en kon niks uitkry nie. Dadelik het ek gedink aan die storie van die dame en die ironie is, sy storie het soveel in gemeen met die dame se storie. Hy het sy pa ook onlangs aan die dood afgestaan en dit was daarna dat ek hom op straat gesien het.

Elke persoon het ’n storie, sommige dominant en ander alternatief. Die verskil tussen die twee is dat dominante stories ’n sterk negatiewe invloed op mense se lewens het. Dis stories wat deur die opinies van die samelewing gevorm is, stories wat hulle nie sal verkies vir hul lewe nie.

’n Alternatiewe storie het ’n sterk positiewe invloed op mense se lewens. Dis ryk met die persoon se sterkpunte, vermoëns, talente, ensovoorts. Dit gee die persoon se lewe ’n nuwe, verrykende betekenis. Soveel mense wil hul storie deel en die negatiewe atmosfeer wat hulle onbewustelik uitstraal, omkeer in ’n positiewe en liefdevolle atmosfeer.

Die vraag is: Wie van ons is bereid om simpatiek te luister? Wie van ons sal tot die uiterste toe gaan om te probeer verstaan dat die persoon nie die probleem is nie; die probleem is die probleem?

Nie almal hoef ’n graad in terapie te hê om vir ander hul stem terug te gee nie. Om uit te reik na ander bevat verskeie bestanddele, die eerste en belangrikste bestanddeel is God. Deur Hom vloei die lieflike geure van verdraagsaamheid, liefde, omgee en geduld.

  • Simonè van Schalkwyk studeer tans vir haar honneurs in praktiese teologie (pastorale berading) aan die Universiteit van Pretoria.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier. 
  • Volg ons op Instagram en Facebook!

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?

Jy kan R10 000 wen!

    Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.