Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
’n Besige lewe is nie ’n vol lewe
Nadine Engelbrecht
Nadine Engelbrecht

Gewoonlik sien ek uit na vakansietyd, die lekker lui dae van laat lê, so min as moontlik doen en lekker eet. Natuurlik is dit net lekker vir so ’n paar dae, maar as jy enige student vra hoe hul vakansie was, kry jy min of meer dieselfde reaksie: “Net te kort”.

Ek het nooit gedink die dag sou kom dat ek sou leef vir die universiteit om te heropen nie, want my vakansie van tuisbly en aanlyn leer, raak nou te lank. Ironies dat ek wens om terug te gaan na my piepklein koshuiskamertjie, na 2 Minute Noodles vir aandete (want daar is nie tyd vir kosmaak nie), en die vinnige drafstappies oor die kampus om betyds te wees vir ’n 07:30-klas, in die winter.

Dit is ’n jammerte dat al gaan staan die hele wêreld stil en kry ons een van die kosbaarste geskenke – tyd – skarrel ons paniekerig rond, en verlang ons na ons bekende, gejaagde, normale lewe.

Dit is ’n jammerte dat al gaan staan die hele wêreld stil en kry ons een van die kosbaarste geskenke – tyd – skarrel ons paniekerig rond, en verlang ons na ons bekende, gejaagde, normale lewe.

Wat is so spesiaal aan jou normaal?

My normaal is meestal net ’n gejaag na dinge wat nie ewigheidswaarde dra nie. Tog vind soveel van ons ons identiteit in ons vriendegroepe, ons werk en die idee dat ’n besige lewe gelykstaande is aan ’n vervulde lewe. Die oomblik as ons vasgevang word in ons huise en die lysie van verantwoordelikhede soveel korter is, voel ek so ’n bietjie uit plek uit en waardeloos.

My ma sê altyd: “Die lewe is nie ’n bestemming nie, maar ’n reis”.

Maak die beste van die tyd

Die woorde het vir my nuwe betekenis gekry in dié tydperk. Al voel jy dalk vandag soos ’n “damsel in distress” met ’n pap band langs die pad – geniet die uitsig.

Dis egter makliker gesê as gedaan. Met baie lockdown-voornemens van vroegoggend-oefensessies tot bak-en-brou, het ek die inperkingstyd aangepak.

Die laaste paar dae sukkel ek om op te staan, vermy ek die kombuis, want almal soek heeldag koffie, en die meeste oefening wat ek kry, is op pad yskas toe.

My planne is lelik in die wiele gery en ek het duidelik die pad byster geraak. Wat ’n tyd kon wees vir die herontdekking van wie jy is, gesinstyd en net weer te doen wat jou werklik gelukkig maak, voel nou eerder soos ’n episode van Survivor. Jy hoop die ander gesinslede sien raak jy bring jou kant met tuistakies, en jy staan saam om iemand anders te benoem vir skottelgoedwasdiens.

Jy hoop die ander gesinslede sien raak jy bring jou kant met tuistakies, en jy staan saam om iemand anders te benoem vir skottelgoedwasdiens.

Ons het dan aanvanklik die lockdown-padversperring soveel beter hanteer, toe ons met opgewondenheid die dae afgetel het tot die eindbestemming, maar nou is ek net gefrustreerd, want wie weet waarheen ons gaan en hoe lank ons moet wag. Ek voel so ingedoen.

Ek besef egter ek is eintlik besig om myself in te doen van kosbare tyd. Wanneer gaan ek weer die tyd hê om soveel tyd in my ouerhuis deur te bring? Nou is die tyd om my uitsig te geniet en ’n nuwe normaal te ontdek, want ek hoop nie ons kom as dieselfde mense hieruit nie.

LEES OOK: Maak die beste van dié tyd by jou ouers

Daar is nie ’n beter tyd om nuwe persepsie te kry as nou nie.

Ek hoop jy kies om ook jou masker af te haal, en nie meer weg te kruip agter verskonings en agendas nie. Ek hoop jy besef dat jy, in sekerlik een van die mees onsekere tydperke in die land se geskiedenis, hoop kan bring deur net van jou tyd te gee, tyd wat jy nou het.

Die lewensreis is te kort om nie die beste gebruik te maak van elke geleentheid nie. Ek wil nie meer jaag na ’n eindbestemming toe nie, maar elke dag se oomblikke geniet. Die lewe is ’n roadtrip en die beste oomblikke is onbeplan.

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?

Jy kan R10 000 wen!

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.