
Quentin Van Den Bergh
’n Suid-Afrika oor twintig jaar . . . Hoe beskryf ’n mens ’n plek oor twintig jaar as die mense vir wie jy dit probeer beskryf nie eens glo dat daar ’n Suid-Afrika oor tien jaar gaan wees nie?
Die realiteit is ons het almal ’n opinie (wat niks mee fout is nie). Maar ons opinies is oor sake wat niks met ons te doen het nie – jou beste vriend se kinders wat nie maniere het nie; daardie vriendin wat weer terughardloop na haar eks toe . . . Ons almal het al ’n opinie gevorm oor hoe ons glo mense besig is om hul lewe te verwoes.
En die meeste van daardie mense vaar heel goed vandag. Die kinders is nog in die skool, doen dalk sport of sing selfs koor; jou vriendin is gelukkig. Maar ons het ’n probleem want sy’s nie gelukkig op die manier wat ek wil hê sy moet gelukkig wees nie.
Basies gaan jou opinie oor hierdie land dus ook niks verander nie. Jou optredes gaan.
Wees jou eie beste baksteen
Die maklikste manier om te verseker dat ’n gebou nie inmekaar stort nie, is om seker te maak dat elke baksteen wat gebruik word om die huis te bou, ’n sterk baksteen is. Selfs net een baksteen wat ’n fout het, kan mettertyd moeilikheid maak. Die ander sterk bakstene behoort hom vir ’n tyd te kan dra. Maar wat as daar meer as een foutiewe baksteen is?
Ons elkeen is ’n baksteen. Die effektiefste manier vir die gebou om te staan, is as elke baksteen sy eie baksteen is. Fokus om die beste, sterkste baksteen te wees wat jy kan.
Ons elkeen is ’n baksteen. Die effektiefste manier vir die gebou om te staan, is as elke baksteen sy eie baksteen is. Fokus om die beste, sterkste baksteen te wees wat jy kan.
Net dit. Dit maak nie saak wat ek glo en droom vir hierdie land moontlik is oor twintig jaar nie. Dis belangriker dat ons besef wat ons rol hierin is. Deur ons elkeen wat ons eie ding doen, so goed soos wat ons kan en nie die ander bakstene langs ons probeer vertrap nie, sal die land natuurlik oor twintig jaar op ’n goeie plek wees. Waar daardie plek ook al mag wees.
Die probleem is wanneer ons hol bakstene gebruik. ’n Hol baksteen lyk dieselfde as al die ander, maar seer het hom binne leeg gevreet. En dan kritiseer ons die bakstene langs ons wat het wat ons soek, want ons is leeg en dink as iemand anders minder het, ek meer gaan hê.
“Ons het albei minder!”
So, die uiteinde? Ek deel graag hierdie gedig:
Die wêreld is donker
al is die ligte aan,
waar is ons mense
waarheen kon ons goedheid gaan?
Die wêreld is donker
met al sy seer
en ons woorde, soos komete,
stort na die Aarde neer.
Leef ons op ’n ander Aarde
terwyl ons werklik hier nog is,
of hoe laat ons donker
moeiteloos en vry, onwetend
hier by ons dan rus?
Die donker in jou
is ’n foto verkeerd,
’n ou kêrel wat hard probeer
om van jou te vergeet.
Die donker in jou, is skoene
ses maande oud,
die donker in jou
is jou vriendin maak dalk ’n fout.
Maar die donker in ons
is Liefde verlaat,
’n mense met vermoë om oor sport
mekaar te haat.
’n Mense blind vir die donker
terwyl ons leeg
na die waarheid van Hoop wil wonder.
’n Mense leeg
want moord maak my alleen,
want verkragting maak dat ons
stil trane, sonder ophou ween.
Leeg,
want huwelike breek –
stil,
want gebreekte ouers
maak gebreekte kinders,
te skaam om ’n hand uit te steek.
’n Leë kot, met ’n klein graf
suig lewe uit ouers, aanhoudend
soos ’n hond wat deurnag blaf.
Selfmoord-vriende los my agter
selfmoord-familie los my alleen
terwyl donker ons almal jag
en gekamoefleer sit en vir ons lag.
So hou aan oor die donker in jou teem
want jy’s blind –
dis die donker rondom jou
wat jou verdrink in trane soos reën.
’n Oplossing,
dié is daar wel:
Jy’s reeds dood in jouself,
gee jou dan vir Iemand
wat jou Lief het self.
’n Liefde waar Iemand Homself wou gee
sodat Sy Dood,
die dood in jou nou uit kan vee.
Laat die diepte van die seer in jou
uitroep na die Diepte
van die Liefde en vernuwing in Hom –
gee dit kans
en kyk hoe jou lewe gaan blom.
’n Oplossing is daar wel:
donker het jou oë reeds toe –
begin net praat
want dis hoe jy vir Jesus bel.
- Quentin van den Bergh (22) studeer aan die Noordwes-Universiteit. Hy het in Pretoria groot geword.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
- Hierdie meningstuk is deel van Die Student se rubriek-kompetisie waar ons vir studente gevra het om te skryf oor die Suid-Afrika wat hulle oor 20 jaar wil sien en hoe die jeug kan help om by dié droom uit te kom.
- Die kompetisie is in samewerking met die Universiteit Stellenbosch aangebied ter viering van Jeugdag.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
- Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
- Volg Die Student op Instagram!
IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!