Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
’n Noodkreet vir Suid-Afrika
Melinda Christidoulides
Melinda Christidoulides

Ek staar die afgelope paar dae in ongeloof na my skerm wat met flikkerende, onuitwisbare woorde my herinner aan die grusaamheid wat ons wêreld ingesypel het: Die teerheid van Uyinene Mrwetyana se dood, Amy’Leigh wat ontvoer is en talle ander onskuldiges wat aan ’n brutale doodsvonnis onderwerp is.

In 2019 is ons al deur vele rampe in die gesig gestaar: die brandende Notre Dame-katedraal, die haatlike oorlog in Soedan, keer op keer ’n skietery by skole in Amerika en onlangs die verwoestende brande in die Amasone.

In hierdie en nog baie ander gevalle moes ek die teenstrydigheid van die bewusmaking op sosiale media probeer begryp, want die bewusgemaaktes neem hoegenaamd geen aksie nie.

Suid-Afrika is woedend, Suid-Afrika is bang en sy wil nie meer poskantoor toe stap of haar dogter by die skool gaan aflaai nie.

Hierdie keer lê die probleem op ons eie voorstoep en ons het die geleentheid om op te tree, veel eerder as om ’n Instagram Story op te laai en te hoop dat jy nie die volgende een is nie. Suid-Afrika is woedend, Suid-Afrika is bang en sy wil nie meer poskantoor toe stap of haar dogter by die skool gaan aflaai nie.

Maar wat kan ons, as vroue, as burgers, as vreesbevange inwoners doen om hierdie oorlog wat tans woed, stop te sit? Daar is ’n teorie dat ons as mense nie veel anders is as die bome wat brand in die Amasone nie en wat ons uit hierdie beeld moet wegneem is dat dit alles in die binnekring begin. Bome groei van binne na buite, elke jaarring wat gevorm word, versterk en vestig sy identiteit, en met jare ken die boom geen ander patroon as die een wat deur homself en sy omgewing gekultiveer is nie.

Wees bewus en trek grenslyne

Vir ’n revolusionêre verandering om plaas te vind moet ons, as vroue, die verantwoordelikheid opneem om diegene (spesifiek mans) in ons nabyheid op te voed met ’n eerlike en op die vrou af defini?ring van wie ons is en wat ons toekom.

Daagliks kom ons in kontak met vriende, klasmaats, familielede en persone in die verbygang wat vir ons ’n platform skep om aktief ons stem te laat hoor en sade te plant van ’n nuwe generasie mans wat ons nie sal laat seerkry nie.

Ons moet meer bewus wees van enigiets waaraan ons dalk deelneem wat nie ooreenstem met die respek wat ons wil afdwing en waarop ons wil aanspraak maak nie.

Ons moet meer bewus wees van enigiets waaraan ons dalk deelneem wat nie ooreenstem met die respek wat ons wil afdwing en waarop ons wil aanspraak maak nie. En ja, hiermee bedoel ek om saam te lag vir die vulgêre grappe wat Johan agter in die klas maak, en ons moet selfs in ons vriendekringe ’n duideliker grenslyn trek vir alles wat ongemak kan veroorsaak, hetsy aanraking, stereotipering of diskriminering teenoor ons.

LEES MEER: Is ek dalk volgende?

Deur te wak teen klein toegewings en klein jakkalsies wat inkruip, kan ons ’n denkwyse kweek wat oorspoel tot in groter poele. Terselfdertyd is dit belangrik om te onthou dat daar talle mans is wat hierdie oorlog saam met ons, en nie teen ons nie, veg.

Ons het nie meer die voorreg om stil te bly nie

As ons nie kan opstaan vir onsself teenoor diegene in ons onmiddellike omgewing nie, is daar nie ’n kans om die oorkoepelende “verkragtingskultuur” tot stilstand te bring nie. Wees kwaad, betwyfel die patriargale samelewing, hou jou vuis omhoog in die naam van feminisme en rou oor die onverdiende dood van ons slagoffers.

En maak seker jy doen dit alles hardop en met mening. Doen dit buite die kuberruim. Ongeag die standpunt wat jy inneem, het geeneen van ons die voorreg om verder in hierdie land, in hierdie situasie of in hierdie oomblik stil te bly nie.

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.