Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
’n Ope brief aan Steve Hofmeyr
Francois van Rensburg.
Francois van Rensburg. Foto: Martin de Kock.

Geagte Steve,

Hiermee by voorbaat my verskoning indien jy aanstoot neem oor hierdie skrywe.

Ek wil begin deur te vra of jy nie asseblief vir eens net uit die media wil bly nie. En of jy dit moontlik sal oorweeg om af te tree en die laaste deel van jou lewe in vrede êrens in die Vrystaat wil gaan bly.

Ek rig hierdie versoek aan jou omdat jy dit vir jong wit Suid-Afrikaanse mans ondraaglik maak om ’n ordentlike bestaan in hierdie geliefde land te voer.

Jy skryf liedere wat aanstootlik is en dan raak jy kwaad as die media besluit om hulself nie daarmee te vereenselwig nie.

Ek verstaan dit nie.

Wat in die afgelope 25 jaar het jou die indruk gegee dat dit oukei is om steeds “Die Stem” op konserte te sing? Wat gee jou die reg om namens wit mense te praat? Wat maak dit vir een oomblik aanvaarbaar om mense op grond van ’n meningsverskil persoonlik aan te val?

Waar in die Bybel word haat geregverdig?

Steve, ek dink jy het ’n diepgaande seer in jou waarvan jy genees moet word. Jy sukkel om by die moderne samelewing in te skakel en jy sleep duisende mense saam met jou deur die modder. Jy verkondig jy is ’n Christen, maar jy sweep mense op in haat.

As mede-Christen wil ek werklik net weet of jy verstaan wat jy besig is om te doen.

Ek is baie bewus daarvan dat ek jou nie ken nie, en jy ook nie vir my nie, maar een ding kan ek wel vir jou sê: Indien jy volhou dat jy ’n Christen is, doen ek ’n beroep op jou om vir my te wys waar in die Bybel word die haat wat in jou hart woed, geregverdig.

My Bybel leer my om lief te hê. Dit leer my dat Jesus vir liefde aan die kruis gesterf het.

Dink jy werklik dat dit vir Hom lekker was om aan die kruis te hang vir die mense wat hom gespoeg, geslaan, gemartel en beledig het?

Dink jy Hy was opgewonde oor die gedagte dat mense nie van hom gehou het nie en dat hulle Hom nie as die ware Koning kon sien nie?

Kyk, ek wil nou nie namens Jesus praat nie, maar ek kan vir geen oomblik dink dat dit lekker kon wees nie.

LEES OOK: Bêre die ou landsvlag – en sommer die strydbyl ook

Steve, ek wil jou nie beledig nie en ek verhewe myself nie bo jou nie.

As mede-Christen wil ek werklik net weet of jy verstaan wat jy besig is om te doen. Indien my versoek aan jou van geen waarde is nie, wil ek graag namens ’n menigte jong wit mense vra dat jy jouself eerder asseblief nie met ons assosieer nie.

Moenie namens ons praat nie en moet ook dan dus nie mét ons praat nie. Laat my toe om my vryheid van spraak uit te leef.

Ter afsluiting wil ek een laaste versoek tot jou rig: Laat vaar asseblief die wrok teen Bouwer Bosch en ander jong wit mense wat poog om versoening tussen rasse te bewerkstellig.

  • Francois van Rensburg (23) studeer MSc (Stads- en Streeksbeplanning) aan die Noordwes-Universiteit. Hy kom oorspronklik van Stilfontein.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Hierdie meningstuk weerspieël nie noodwendig die mening van die Noordwes-Universiteit nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
  • Volg ons op Instagram!
Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.