Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
’n Student ervaar werklik die ongelykhede van die lewe

Ek moet sê, ek is nou al ietwat moedeloos oor die artikels oor “millenniërs-is-dit” en “millenniërs-is-dat”. Al wat die ouer generasies sien, is ’n groep bedorwe mense wat vasgenael is aan hul selfone!

Ek is 23. Ek sal vanjaar 24 jaar oud word. G’n mens sou kon dink dat dié stadium van my lewe eindelose verantwoordelikhede sou inhou nie. Dit is asof alles in die tydperk volop sy verskyning maak.

Ek voel asof ek in my oorgangsjare is: van ’n tiener wat lief is vir laat slaap en al my ma se kos opgeëet het, tot ’n grootmens wat angstig soek na permanente werk.

Studeer is bittersoet

Om te studeer is ’n bittersoet ervaring. Daar word vir ons gesê: “Maak skool klaar, gaan studeer want julle het geleenthede wat ons nie gehad het nie.” Wat my elke keer vang, is die stelling jy gaan ’n goeie lewe hê as jy dinge in daardie volgorde doen. Regtig? Wat presies behels “goeie lewe”?

Ek weet al jare dat goeie prestasie op skool nie die grondbeginsel is vir ’n goeie lewe nie. Inteendeel, as jy klaar is met skool, begin jou lewe eers. Die boekgeleerde kennis sal stadig maar seker soos mis voor die son verdwyn en al wat oorbly, is jou omstandighede en jou menslikheid. Matriek kan dalk dien as ’n goeie vertrekpunt, maar dit bepaal nie waar jy eindig nie.

Wanneer jy besluit om te gaan studeer, slaan die realiteit jou soos ’n nat waslap deur jou gesig. Jou agtergrond en omstandighede word al hoe meer sigbaar.

Wanneer jy besluit om te gaan studeer, slaan die realiteit jou soos ’n nat waslap deur jou gesig.

My klein hopie besittings met my dankbare hart het soos ’n groot speld in ’n hooimied verdwyn. Ek het tóé eers besef wat voorregte is en hoe kragtig dit is. Ek moes klou aan die min wat ek het en boonop seker maak dat ek nooit ’n vak dop nie. Ek kon dit doodeenvoudig nie bekostig nie. Ná klas moes ek terugkeer na my beknopte koshuiskamer terwyl ek deeglik moes beplan rondom die kos wat ek die aand gaan eet (wat is die goedkoopste, die maklikste om gaar te maak en watter winkel is die naaste).

Om alles te kroon, dink ek, ek was die fiksste tot nog in my lewe, want ek geloop na waar ek ookal in die stad moes wees. ’n Meisie van plaasdorpie (langs die see), ken nou die grote Kaapstad soos die palm van haar hand.

Jy ervaar die ongelykhede

Jou universiteitslewe gaan jou laat besef jy kan harder leer of meer insit, maar die volgende persoon kan dalk beter doen as jy en dit nog geniet ook.

Hoekom? Dis eenvoudig: Daardie persoon het dit makliker want hy of sy kan rustig ’n taak op ’n skootrekenaar by die huis doen terwyl jy moedeloos tot ounag voor jou kampus-rekenaar sit.

Terwyl kos jou grootste bekommernis is, is die ander student nie naastenby gepla nie want vanaand ná klas eet hy by die huis.

As jy studeer, sien en ervaar jy die ongelykhede van die lewe. As jou vel nie dik genoeg is nie, beteken die “geleenthede wat die vorige generasies nie gehad nie” dalk nie veel nie.

Die ongelykhede het nie noodwendig ’n invloed gehad op my vordering nie. Ek was in die topvyf in my klas, maar dit het my studente-ervaring moeiliker gemaak.

Noem my lui, maar...

Tasneem van Rooyen.

“Millenniërs het dit makliker,” sê hulle. Maar daar is dan bewyse dat hulle oor die algemeen swaarder kry weens inflasie, beperkte moontlikhede vir ’n vaste werk en die koste van huisvesting en gesondheidsorg wat dakhoogte bereik het.

Van ons moes oorleef op die inkomste van albei ons ouers se pensioenfondse, terwyl die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) die res van die studie betaal. Nee, my Baby Boomer-ouers het nie voorsiening gemaak vir my studie nie, so ek moes maar self onder begin.

Die res van die wêreld sien ’n lui jongmens, iemand wat verslaaf is aan tegnologie met eindelose geleenthede.

Ek sien iemand’ wat drie jaar gevat het om ’n kwalifikasie in joernalistiek te verwerf en wat baie kennis en vaardighede oor die hedendaagse tegnologie het.

Hou ek van groepwerk, praat en vars idees? Definitief! Maar, kon ek ’n permanente werk sedert my gradeplegtigheid opspoor? Nee!

“Millenniërs is lui en het dit makliker,” sê hulle.

Noem my lui, maar ek kan nie eens ’n kamer in Kaapstad bekostig nie. Nog nie.

Elke liewe dag bestaan uit angs oor die nou, die toekoms en die gebrek aan selfstandigheid. Wat beteken geleenthede as jy niks anders het om op terug te val nie?

  • Tasneem van Rooyen (24) het pas ’n diploma in joernalistiek aan die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT) behaal.
Meer oor:  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.