Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Ná 60 jaar se storms en oorwinnings, leef UWK voort

Die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) vier vanjaar 60 jaar “van hoop tot aksie deur kennis”. Die nostalgiese herinneringe aan wat was, wat is en wat nog kan wees kan gesien, gehoor, gevoel word, skryf twee van die UWK se studente.

Timothy Nel
Timothy Nel
Ebenesia Pieters
Ebenesia Pieters

As gevolg van die Covid-19-pandemie en die gevolglike staat van inperking moes die UWK noodgedwonge sy fisieke vieringe uitstel en dit virtueel doen. En het die universiteit ons nie op ’n reis van hoop, deursettingsvermoë en sosiale en akademiese uitmuntendheid geneem nie!

Om te verstaan hoekom hierdie verjaarsdag so noemenswaardig is, veral ten opsigte van ons land se tersiêre landskap, moet ons ’n bietjie terugkyk.

Die jaar is 1959. Politieke spanning vier hoogty in Suid-Afrika, en op 19 Junie kondig die apartheidsregering die promulgasie van die Wet op die Bevordering van Bantoe-Selfregering van 1959, asook die Wet op die Uitbreiding van Universiteitsonderwys, Wet 45 van 1959, aan. Die laasgenoemde wetgewing lei tot die oprigting van afsonderlike ‘stamkolleges’ vir “nieblanke” universiteitstudente, en gevolglik mag swart studente nie meer vrylik universiteite van hul keuse in Suid-Afrika bywoon nie.

Gewelddadige betogings en polisiebrutaliteit volg.

‘Boskollege’ open

Dis 1960. Met wetgewing daargestel en ’n regering wat alles in die stryd sou werp om segregasie ook tot in die hoër onderwysstelsel deur te voer, open die deure van die Universiteitskollege van die Wes-Kaap eksklusief vir mense wat as ‘kleurling’ geklassifiseer is.

Hierdie kollege sou, volgens die apartheidstaat, niks meer as ’n tweederangse instelling oftewel ‘boskollege’ wees nie.

Hierdie kollege sou, volgens die apartheidstaat, niks meer as ’n tweederangse instelling oftewel ‘boskollege’ wees nie.

‘Boskollege’ omdat dit nie ’n outonome universiteit was nie, en onder die gesag van die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) gestaan het. Die eerste groep van 166 studente registreer vir beperkte opleiding vir laer- tot middelvlak-posisies in skole, die staatsdiens en ander instellings wat ontwerp is om ’n afgesonderde kleurlinggemeenskap te dien. Geleë 25 km buite die stedelike sentrum van Kaapstad en omring deur sanderige heuwels en digte inheemse bosse, sou die naam ‘boskollege’ eintlik heel gepas wees.

Maar soos baie ander name toegeken deur die apartheidstaat, het die woord ‘boskollege’ ook ’n slegte nasmaak gehad.

Die 1970’s breek aan. Die UWK kry in 1970 universitêre status en kon diplomas en grade uitreik. In die eerste jare ná die oprigting van die UWK het die akademiese personeel uitsluitlik bestaan uit wit mense. Dosente het grotendeels van die Universiteit Stellenbosch gekom en Afrikaans was die medium van onderrig.

Aktivisme

Adam Small was in 1960 as dosent en hoof van die departement filosofie die eerste swart aanstelling, maar hy bedank in 1973 onder groot druk van die universiteitsbestuur weens sy betrokkenheid by die swartbewussynsbeweging en ná optogte en betogings teen die leierskap van die universiteit.

In 1983 keer hy terug en word aangestel as hoof van die departement maatskaplike werk.

Naas dosente soos Small was ook baie studente aktief betrokke in die stryd teen apartheid. Die 1970’s is gekenmerk deur protesoptrede teen die konserwatiewe bestuur en die gebrek aan medeseggenskap.

Dis 1975. Richard E. van der Ross word ingehuldig as die eerste bruin rektor. In die jare daarna doen die universiteit meer en meer afstand van die apartheidsideologie, en in 1982 word ’n missieverklaring opgestel waarin apartheid formeel verwerp is. Die UWK leef voort!

Die jaar is 1987. Jakes Gerwel word as rektor van die UWK aangestel, en maak van die universiteit ’n intellektuele tuiste vir linksgesindes met ’n sterk aanvoeling vir sosiale en politieke kwessies. Naas bruin mense het die universiteit ook meer swart studente gelok. Onder Gerwel se leierskap is die apartheidstryd op kampus versterk, en is die kurrikulum vernuwe om plek te maak vir noodsaaklike navorsing en uitreikingsprogramme. Gerwel is in 1995 opgevolg deur Cecil Abrahams, wat in 2001 op sy beurt opgevolg is deur Brian O’Connell. Die UWK leef voort!

Gender-kwessies

In die 1990’s het die UWK kernfigure in sy leierskorps verloor toe hulle opgeneem is in Nelson Mandela se kabinet en verskeie poste in die staatsdiens beklee het.

Die UWK se Gender Equity Unit word in 1993 gestig en fokus op die gelykheid van gemarginaliseerde groepe. Hierdie eenheid het verskeie openbare debatte gevoer, slypskole gehou, studente opgelei en programme in die koshuise aangebied om oplossings te vind vir gender-ongelykheid in Suid-Afrika en op kampus.

Die eenheid het ’n beleid teen seksuele teistering, ’n gender-beleid en ’n nie-seksistiese taalbeleid ontwikkel.

Die eenheid het ’n beleid teen seksuele teistering, ’n gender-beleid en ’n nie-seksistiese taalbeleid ontwikkel. Die eenheid het oor die jare verskeie programme van stapel gestuur, waaronder HumaNature (bewusmaking van die lewe van gestremdes), Imbewu (nuusbrief deur studente), Loud Enuf (ondersteuning aan en veilige ruimte vir LGBTIQ+-studente) asook ’n mentorskapprogram vir leerlinge en Edu-Drama (teaterproduksies wat fokus op die realiteit van swart vroue).

Wêreldverhoog

Die 21ste eeu breek aan. Vol hoop en met ’n visie gegrond op die beginsel dat niemand op grond van ras, gender, seksualiteit of geloofsoortuigings benadeel en van hoër onderwys uitgesluit mag word nie, pak die UWK die wêreldverhoog.

Natuurlik, soos met enigiets in hierdie lewe, kom die universiteit te staan teen groot struikelblokke en ontvang kritiek uit alle oorde. In die vroeë 2000’s word die universiteit bankrot verklaar.

Skielik het dit begin blyk dat die apartheidstaat tog korrek was, die UWK is besig om te faal en sal nooit ’n wêreldklas-instelling wees nie. Voorstelle is gemaak dat die UWK met die KPUT moet saamsmelt, ten einde oorlewing te verseker.

Die bestuur, onder leiding van O’Connell, het egter onverpoos, vol hoop, gewerk om die universiteit weer op te bou, studentesyfers te laat styg en nisgebiede te identifiseer waarop die universiteit hom kan toespits. Aan die einde van die 2005- akademiese jaar is die universiteit deur die staat herkapitaliseer. UWK leef voort!

Vol hoop en met ’n visie gegrond op die beginsel dat niemand op grond van ras, gender, seksualiteit of geloofsoortuigings benadeel en van hoër onderwys uitgesluit mag word nie, pak die UWK die wêreldverhoog

Dit was die UWK toe, en nou, 60 jaar later, is die universiteit een van die hoëronderwysinstellings of liewers ‘boskolleges’ wat die apartheidsregering die figuurlike middelvinger wys. Die segregasie-ideoloë waarop aparte onderwys gegrond was, is en was ongegrond.

Die UWK het oor die jare heen vele ongelooflike eerstes gevier. En die jarelange hoop dat UWK sy plek in die hoëronderwysstelsel gaan inneem, word vasgelê. Dit was die eerste universiteit wat aan Mandela ’n eredoktorsgraad toegeken het ná sy vrylating van Robbeneiland, die eerste universiteit wat tot die Groenste Universiteitskampus in Afrika verklaar is, die UWK het Suid-Afrika se eerste gelisensieerde gemeenskapsradiostasie begin en die land se eerste tandheelkunde-videokonferensiestelsel ontwikkel wat tandheelkunde-studente in staat stel om van enige plek na ingewikkelde teaterprosedures te kyk soos wat dit gebeur.

Die UWK se rugbyspan het ook die eerste span geword van ’n voorheen benadeelde universiteit om deur te dring tot die Varsity Cup. Onlangs het navorsers by die UWK ook suksesvol die genetiese samestelling van die nuwe koronavirus ontleed. Hierdie en ander wêlakapêla- oomblikke getuig van die UWK se verbinding tot gehalte-hoëronderwys vir almal.

Ons kan egter ’n bladsy uit die lewensboek van die UWK neem en vasklou aan die hoop dat dinge gaan verbeter.

Hoop is sinoniem met die UWK, en loop soos ’n goue draad deur sy bestaan. As ons kyk waarvandaan ons kom, waar ons nou is en waarheen ons op pad is, is dit duidelik dat die hoop wat duisende vir die UWK gekoester het, nie vergeefs was nie. Daardie hoop het gesorg dat mense oorgaan tot aksie sodat diegene wat nie bestem was vir grootheid nie, genoegsame kennis kon opdoen om hierdie land te anker en verder te neem.

Én, hier waar ons nou die UWK vier, kan ons, soos sy leuse sê, terugkyk en vorentoe kyk en die lesse en goeie uit die verlede neem om ons land tot nóg hoër hoogtes te lei.

In hierdie moeilike tyd waarin die wêreld hom nou bevind, is dit maklik om vas te kyk teen al die probleme wat ons ervaar. Ons kan egter ’n bladsy uit die lewensboek van die UWK neem en vasklou aan die hoop dat dinge gaan verbeter. Want as ons nie hoop het nie, wat het ons? So word #EkUWK, #JyUWK, #OnsUWK en verseker ons die UWK leef voort!

  • Timothy Nel is ’n LLM-student wat spesialiseer in korporatiewe finansies en bestuur en internasionale handelsreg. Hy is oorspronklik van Ebenhaeser, sowat 30 km buite Vredendal. Ebenesia Pieters is ’n MA-student in die departement Afrikaans en Nederlands. Sy is oorspronklik van Beaufort-Wes. Albei is verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Volg ons op Instagram en Facebook
  • Ons stuur elke Vrydag ‘n nuusbrief uit met die drie gewildste meningstukke van die week. Klik hier en teken in vir die Stemme-nuusbrief.

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?

Jy kan R10 000 wen!

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.