Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Nee, Cyril, ’n tablet is nie die antwoord nie
Nicole van Niekerk
Nicole van Niekerk

Dit was die eerste Donderdag van Februarie. En nee, ek het nie First Thursdays bygewoon nie, ek het my voor die televisie tuisgemaak met ’n koppie tee en ’n stukkie wortelkoek – gereed om na die staatsrede van 2019 te kyk, pres. Cyril Ramaphosa se tweede geleentheid om voor die hele nasie nuwe beloftes maak.

In die toespraak van twee ure lank het hy talle probleme in Suid Afrika bespreek. Ek het aandagtig geluister na elke nuwe plan waarmee hy vorendag gekom het, asook dit wat die regering in 2018 vermag het.

Ramaphosa is ’n goeie spreker. Hy was goed voorbereid en dit het regtig gelyk asof hy weet waarvan hy praat. Maar ek was teleurgesteld toe hy oor basiese onderwys begin praat.

Vroeër in die toespraak het hy genoem dat daar in ’n oudit in 2018 gevind is 4 000 skole in Suid Afrika het nié basiese sanitasie nie. Hy het die versekering gegee dit is ’n prioriteit om dit reg te stel, maar nog net 699 van dié skole het veilige sanitasiegeriewe gekry. Dit is minder as 20%!

Volgens die nasionale onderwysstruktuur-bestuurstelsel (Neims) is daar meer as 8 000 skole wat in 2019 nog steeds nie basiese toiletgeriewe het nie.

Ek kan nie help om te wonder hoe jy ’n tablet vir ’n kind belowe as jy nie eens vir hom basiese sanitasie kan gee nie?

Minder as ’n halfuur later het Ramaphosa die groot belofte gemaak dat elke skoolkind in Suid Afrika oor die volgende ses jaar ’n tabletrekenaar gaan kry, gelaai met digitale werk- en leesboeke.

Parlementslede het dié aankondiging met groot blydskap verwelkom, maar is dit net nóg ’n leë belofte?

Ek kan nie help om te wonder hoe jy ’n tablet vir ’n kind belowe as jy nie eens vir hom basiese sanitasie kan gee nie? Hoe belowe jy so ’n luukse as hy honger skool toe gaan, nie veilige drinkwater het nie of die vorige nag koud moes slaap?

Hoe seker is jy dat die belofte kan nakom as leerlinge tans maande moet wag vir handboeke om afgelewer te word, of elke dag in vervalle klaskamers op die grond moet sit omdat daar nie geld vir skoolbanke is nie? Hoe maak jy nuwe beloftes as beloftes van 25 jaar gelede nog nie deurgevoer is nie?

Onrealisties

Vir ’n oomblik het ek geglo Ramaphosa sal realistiese besluite neem wat in die beste belang van Suid Afrika is.

Ek het in my hart gehoop dat hy nie net dinge sal sê omdat dit is wat mense wil hoor nie.

Hy het herhaaldelik gesê: “Watch this space,” asof daar iets is om na uit te sien, iets is om in te glo. Hy het twee belangrike beloftes gemaak wat nie klop nie.

Hy het daarmee gespóg dat 699 van die 4 000 skole wat geïdentifiseer is, reeds ordentlike sanitasie gekry het.

Dit is nie iets om oor te spog nie, dit is iets waaroor ek my kop in skaamte sou laat sak.

Mmusi Maimane, leier van die DA, het die staatsrede ’n “State of No Action” genoem en ek kan nie help as om met hom saam te stem nie.

Ons onderwyskrisis is nie só oppervlakkig dat dit met ’n tablet opgelos kan word nie. As elke kind in hierdie land kos met voldoende voedingswaarde, skoon lopende water, ordentlike sanitasie, ’n warm bed en ’n veilige hawe het, kan ons dalk aan luukshede begin dink.

Voordat dit gebeur, dink ek Ramaphosa moet leë beloftes vir homself hou en nie verwagtinge skep wat totaal onrealisties is nie.

  • Nicole Van Niekerk (23) studeer BA Visuele Kommunikasie (Fotografie en Kommunikasie Ontwerp) by die Open Window Institute. Sy het ook ‘n BA graad in Sielkunde en Kriminologie aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Sy het in Secunda, Mpumalanga groot geword, maar bly alreeds ses jaar lank in Pretoria.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.