Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Nie almal se pad ná skool loop dieselfde nie
Michelle Hattingh
Michellé Hattingh

Dis 05:00.

My wekker gil in my ore, maar onbewustelik druk ek die sluimer-net-nog-’n-so-bietjie-knoppie.

Wanneer ek opkom, pluk ek gou my oefenklere aan en gaan draf in die natuur sodat ek die oggendlug kan inasem, maar as ek te moeg is, slaap ek die volgende uur om en begin dan daarna regmaak vir werk.

Die dag skop amptelik om 08:00 op kantoor af waar ek heeldag fyn moet oplet om seker te maak my werk loop klopdisselboom.

Tussendeur is politiek deel van die werkomgewing met spanningslyne wat hoog loop, veral omdat die ekonomie regtig nie goed doen nie.

Ek bly tog dankbaar vir my werk en as die dag besig raak, gaan die tyd vinnig verby. Daarvoor is ek dankbaar, want ek het nog nooit van stilsit gehou nie.

Daarna sit ek en my teetjie by die Here se voete en kla meestal oor die gejaag van my 24-jarige lewe.

As 17:00 sy oë kom wys, gaan gee ek ekstra wiskundeklasse vir gr. 9’s en vir gr. 10’s twee keer ’n week. Dié help ’n bietjie vir ekstra note in die beursie as die broek te styf span by die huis.

Ná die ekstra klasse gaan ek dan universiteit toe vir mý klasse. Wanneer die son lankal water getrek het, kom ek moeg en uitgeput by die huis aan. Maar my dag is nog nie verby nie.

Ek pak my kos vir werk en probeer om die hoofstukke wat ons in klas behandel het, te hersien en op te som.

Daarna sit ek en my teetjie by die Here se voete en kla meestal oor die gejaag van my 24-jarige lewe. Gewillig, probeer ek 23:00 insluimer net om die volgende dag weer van voor af te begin.

Balans en die lewe

Die druk tussen my werk en studie loop soms hoog.

Dit is moeilik om die balans te vind. Ek vergeet soms dat ek ook kan lewe.

Dis iets wat ek dink die meeste mense vergeet om te doen as hulle wegraak in hul alledaagse roetines.

Tyd is ongelooflik moeilik om te bestuur, maar doen jy dit akkuraat en doeltreffend, dan word die wêreld jou oester.

LEES OOK: Reik na die sterre, maak foute en leer soveel jy kan

As dit nie die balans is nie, dan is dit die spanning wat saam met die studie gaan: om te verstaan wat ek geleer het en om dit goed te kan onthou en toe te pas.

Ek probeer om ’n goeie gemiddeld te handhaaf, want as ek kan afslag kry omdat my punte goed is, hoekom nie? Ek betaal immers my studie self.

’n Ander pad

Die pad wat ek geloop het, was baie anders as al my hoërskoolvriende se paaie.

Ek het dadelik ná die eindeksamen in Desember begin werk. Ek het toegekyk hoe die meeste van hulle op opgeblaaste matriekvakansies gaan en toegekyk hoe hulle in die daaropvolgende maande by hul universiteit inskryf.

Ek was dan 18 en grondwetlik ’n volwassene, verantwoordelik daarvoor om my eie potjie te krap.

My hart was seer, maar aan die einde van die dag het ek my kop opgetel.

Ek het ’n harde stryd geveg om myself daarvan te oortuig dat ek steeds goed genoeg en orraait sal wees, al kon ek nie die universiteitservaring beleef nie.

Ek het ook uit my blame game-mentaliteit gekom en opgehou om my ouers kwalik te neem vir hul tekort aan finansies. Ek was dan 18 en grondwetlik ’n volwassene, verantwoordelik daarvoor om my eie potjie te krap.

Karaktervorming

Daarom weet ek nou dat ons ons eie vermoëns dikwels onderskat. Soos hulle sê, waar daar ’n wil is, is daar ’n weg.

Moeilike tye en ’n mate van onwillekeurige aanpassings bring ’n goeie proses van karaktervorming teweeg.

Daar is dae waar ek wel wonder wat my besiel het om te werk en te studeer, veral wanneer ek eksamen skryf, aan laaste-vak-sindroom ly en nadat ek my vraestel geskryf het terug werk toe moet gaan met ’n brein wat suf gedink is.

Ek het geleer om alles te sien as ’n kans om te verbeter, om elke bedreiging en hindernis in ’n geleentheid te verander. Ek het ook myself ontdek en ek verstaan beter wie ek is en waartoe ek in staat is.

En ja, dis moeilik om hard te werk aan jou beroep, studie en verhoudings, maar elke oomblik van die pad wat ek nou stap, is die moeite werd.

LEES OOK: Die grootmenslewe is minder lekker.

Daar is dae waar ek wel wonder wat my besiel het om te werk en te studeer, veral wanneer ek eksamen skryf, aan laaste-vak-sindroom ly en nadat ek my vraestel geskryf het terug werk toe moet gaan met ’n brein wat suf gedink is.

Maar die stelling mind over matter het nog nooit so waar vir my gelui soos nou nie.

’n Voorreg

Studeer. Werk. Lewe. Dis ’n voorreg.

En as jy die voorreg het om te kan studeer, benut dit ten volle! Jy is een van die handjievol wat dié geleentheid in Suid-Afrika het.

Daarom: Moet nooit moed opgee wanneer jy voel alles raak te veel nie – hou aan, al is dit teen ’n stadiger pas.

Laastens: Vir al die besonderse individue wat studeer en werk, ek salueer jou!

Koester jou tyd en moenie vergeet om dit suinig te gebruik nie – tyd is duur!

En weet altyd dat jy meer kan doen met dit wat die lewe vir jou gee en selfs dit waartoe jy jouself beperk. Ons is immers tot alles in staat deur Hom wat ons krag gee!

Laastens: Vir al die besonderse individue wat studeer en werk, ek salueer jou!

  • Michellé Hattingh (24) studeer tans Bcom Industriële Sielkunde en  Arbeidsverhoudinge aan die Noordwes-Universiteit. Sy woon in Vanderbijlpark en is ‘n dokument-kwaliteitsbeheerbeampte by 'n arbeidsmakelaar.
  • Wonder jy hoe studente se koppe werk? Lees nog meningstukke hier. 
  • Volg ons op Instagram.

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.