Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
O gits, boer soek ’n ou? Wat nou?
Renaldo Schwarp.
Renaldo Schwarp.

Sondag 12 Mei 2019 was net nog ’n normale dag vir my: Koffie, ’n Moedersdag-oproep aan my ma en ouma, ateljee toe vir my radioprogram en dan opvang op ’n bietjie admin daarna.

Doodgewoon. Tot so skuins ná 21:00.

As deel van my weeklikse Sondagaand-roetine, scroll ek heel rustig deur Twitter. Ek ontdek toe dat die gewilde Afrikaanse pasmaatprogram, Boer soek ’n vrou, ’n deelnemer het wat opsoek is na ’n manlike pasmaat.

Ek maak seker ek lees die twiet reg:

“ ’n Boer opsoek na ’n manlike pasmaat . . .”

’n Boer opsoek – nie na ’n vrou – maar na ’n ou.

’n Gay boer? Op kykNET?

Euforie neem af

Die gedagte aan ’n gay boer op ’n Afrikaanse pasmaatprogram prikkel my aandag, so ek klik verder . . .

Boer Damian is ’n passievolle skaap-en-beesboer van Bapsfontein in Gauteng wat hom as “een met die natuur” beskryf.

Boer Damian weet wat hy in die lewe wil hê en sal glo nie “settle” vir enigiets minder nie. Hy is nederig, speel klavier en was deel van die kerkorkes.

Boer Damian is die tipe boer wat ’n mens verwag om te sien op die program (selfs met sy kakiehemp en blou kortbroek).

Ek het amper van een belangrike aspek vergeet – hy is gay.

Verteenwoordiging is belangrik: As jy nie mense soos jouself op die kassie, verhoog of selfs in die media sien nie, stuur dit ’n duidelike boodskap dat jy nie tel nie: “Jy’s invisible” of “daar’s iets fout met jou”.

My aanvanklike euforie begin aansienlik afneem soos ek die kommentaar op die deelnemers begin lees.

Ek is glad nie verbaas oor die negatiewe kommentaar nie. Want ons was al hier.

Telkemale.

In 2017 toe 7de laan sy eerste soen tussen twee mans wys. In Desember 2018 toe die musikant Joe Foster sy verlowing aan Ziechfried Paul op sosiale media aangekondig het. Vroeër vanjaar toe Ryno Roberts, ’n gay rugbyspeler, op die kykNET-sepie Getroud met rugby, bekend gestel is. En ook so paar weke daarna toe die akteur Armand Aucamp in ’n eerlike onderhoud met Rapport uit die kas geklim het.

Armand se besluit om die onderhoud met Hanlie Retief te doen, het my opnuut daaraan herinner dat dit uiters belangrik is om onbeskaamd in jou waarheid te staan – soveel meer as jy ’n LGBTI+ pesoon in die openbare oog is. Ongeag of jou CD’s gaan verkoop of nie, of die fliekteaters gaan leegloop en selfs as jy nie daai TV-show gaan book nie.

Uiteindelik word ons stories vertel

Verteenwoordiging is belangrik: As jy nie mense soos jouself op die kassie, verhoog of selfs in die media sien nie, stuur dit ’n duidelike boodskap dat jy nie tel nie: “Jy’s invisible” of “daar’s iets fout met jou”.

Onlangse berigte oor die land Brunei wat streng wette wil toepas om gay seks met steniging strafbaar te maak dien nog verder as ’n aangrypende herinnering dat die stryd teen LGBTI+-diskriminasie en -onderdrukking nog ver van verby is.

En laat ek nie eens begin praat oor die hoë selfdoodsyfer onder LGBTI+-individue nie . . .

As mense ’n bietjie dieper daaraan dink – wat is so skokkend aan ’n gay boer opsoek na liefde? Maak gay-wees hom minder boer? Minderwaardig? Minder mens?

Ek is dus in ekstase wanneer ek sien dat vervaardigers en groot besluitnemers by plaaslike TV-kanale en mediahuise hul plig, om stories te vertel wat alle mense verteenwoordig, besef het en dit daadwerklik aanpak.

Hier moet ek melding maak van kykNET & kie se grensverskuiwende telenovela Arendsvlei en sy akteurs wat weekliks aan kykers ’n eerlike blik bied op die lewe van tieners wat met hul seksualiteit sukkel. ’n Storielyn wat ons nog nooit vantevore op Afrikaanse televisie gesien het nie.

As mense ’n bietjie dieper daaraan dink – wat is so skokkend aan ’n gay boer opsoek na liefde? Maak gay-wees hom minder boer? Minderwaardig? Minder mens?

Sondag 12 Mei 2019 was eintlik nie net nog ’n normale dag vir my nie. Dit was die dag waarop ek boer Damian ontmoet het. Iemand wat, deur sy waarheid uit te leef, my en talle ander gay Afrikaners herinner het dat openhartigheid dalk nie heeltemal vooroordeel gaan ontwapen nie, maar dat dit ’n blerrie goeie plek is om te begin.

So dankie vir die aangrypende herinnering hieraan, boer Damian. Ek klink vanaand ’n glasie op jou en jou soektog na liefde. En ook op elke mens wat in sy of haar waarheid staan.

Courage is not the absence of fear; it is acting in spite of it. – Mark Twain

NS: Ek is gay (’n disclaimer wat ek seker aan die begin van hierdie meningstuk moes geplaas het).

  • Renaldo Schwarp (27) is ’n radio-omroeper by Jacaranda FM en 'n gasskrywer vir Die Student. Hy is ook ’n veldaanbieder vir kykNET & kie se aktualiteitsprogram KLOP! Hy het in Centurion, Pretoria, grootgeword en drama, met ’n fokus op media, aan die Universiteit Stellenbosch studeer. Hy was ná sy studies die aanbieder van sy eie daaglikse laataand-geselsprogram op CapeTalk (2016-2017).
Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening  |  Boer Damian
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.