Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
(On)gelukkige Vrouemaand: Wanneer realiseer ’n nuwe dag?

In die tydperk van die #MeToo- en #Time’sUp-beweging, raak dinge interessant met Vrouemaand, want wat duisende vroue oor die wêreld heen vra, is geregtigheid, regverdigheid en dat die aanslag op vroue se liggaam sal end kry.

Pleks daarvan word ons dikwels gebombardeer met spesiale afslag op pienk mengeldrankies of flieks wat in Augustus verniet vir vroue gewys word.

Ons probeer nie ondankbaar klink nie, maar iets soos ’n pienk drankie gaan nie die omstandighede van duisende vroue verander nie, so waar begin ’n mens?

Hoe kan ons vrouwees vier as soveel vroue in kettings leef?

Oprah Winfrey aan die woord tydens die 75ste Golden Globe-toekennings Sondagaand in Beverley Hills, Los Angeles. Sy het die Cecil B. DeMille-toekenning in ontvangs geneem. Foto: Reuters

Oprah Winfrey het in 2018 met die ontvangs van die Cecil B. de Mille-toekenning op die Golden Globes gepraat van ’n nuwe dag wat op die horison wag.

Sy het gesê dat wanneer die nuwe dag uiteindelik aanbreek, dit te danke sal wees aan besonderse vroue, sowel as mans, wat daartoe werk om te verseker dat niemand in die toekoms ooit weer “Me Too” hoef te sê nie.

Oprah se toespraak, wat staande toegejuig is, het gesorg vir ’n vlam wat in duisende vroue sterker gebrand het (asook vir baie wat gewens het dat Oprah die president van Amerika moet word!).

Die #MeToo-beweging, wat in 2017 vir groot opspraak gesorg het, is in 2006 deur die aktivis Tarana Burke gestig om te dien as platform om slagoffers van seksuele misbruik te help. Dit het aanvanklik op Twitter groot aandag geniet. Die beweging het uitgekring na talle ander gebiede, maar op plaaslike bodem was daar myns insiens ongelukkig nie so ’n groot “ontmaskering” soos wat Amerika beleef het nie.

Harvey Weinstein. Foto: Mark Mainz/Getty Images

Harvey Weinstein, rolprentvervaardiger en regisseur, is een van die mense wat uitgewys is as ’n “misdadiger”, wat tot gevolg gehad het dat ander beweerde oortreders se name ook genoem is. Party ontken hul gedrag en akteurs soos Matt Damon – teleurstellend soos dit mag wees – meen dat daar nie genoeg gepraat word oor mans wat nie seksuele oortreders is nie.

So wat hy bedoel, is dat mans op die skouer geklop moet word net omdat hulle gewone mense is. Jammer, Matt en almal wat soos jy dink, maar dit kan nie gebeur terwyl soveel vroue nog daagliks onder geweld gebuk gaan nie.

Te veel kere staan mans in die rol van die oortreder. Die driejarige Courtney Pieters is wreedaardig verkrag en vermoor, Anene Booysen is in 2013 vermoor en dan is daar ook Reeva Steenkamp . . . en dis maar net van die vroue wie se stories die media gehaal het.

Pienk mengeldrankies en afslag vir vroue in Augustus vorm glad nie deel van die oplossing nie. Die eenvoudige antwoord is dat daar na vroue geluister moet word.

Daar is soveel meer wie se name ons dalk nie ken nie wat bydra tot die statistieke. Hoe vier ’n mens Vrouemaand as te veel vroue in pyn moet leef? Hiermee word nie bedoel dat mans nie ook pyn en trauma beleef nie.

Talle aktiviste besef alle mans is nie dieselfde nie, en hierdie sentiment vorm deel van die #MenAreTrash-beweging. Terwyl vroue bang is om snags (selfs in die dag) alleen te stap en byna om elke hoek en draai ge-catcall, oftewel uitgejou word, moet ’n mens vra wanneer gaan ons begin om verantwoordelikheid te vat vir mekaar en mekaar se dade?

Mercy Kannemeyer.

Frankryk het onlangs boetes ingestel teen mense wat hulself aan catcalling skuldig maak en dit is ’n groot stap in die rigting van die aftakeling van ’n verkragtingskultuur. Baie mense sou dit moontlik as ’n onskuldige flirtasie beskou, maar die objektivisering van die vroue se liggaam wat daarmee gepaardgaan, is skadelik en plaas mense in kwesbare posisies.

So, waarheen van hier af?

Hoe lyk die toekoms en wanneer sal Oprah se droom van ’n nuwe dag kan realiseer? Pienk mengeldrankies en afslag vir vroue in Augustus vorm glad nie deel van die oplossing nie. Die eenvoudige antwoord is dat daar na vroue geluister moet word.

Ek sou graag ’n stuk oor Vrouemaand wou skryf waarin ek my helde, soos Antjie Krog, vereer en praat oor hoe vroue my inspireer, maar in die huidige atmosfeer voel dit net nie reg nie. Wat ek wel van Krog saam met my kan dra, is die woorde uit een van haar gedigte wat sê:

“ek is

ek is

die Here hoor my

’n vry fokken vrou”

Ons voel in die huidige tye dalk nie heeltemal vry nie, maar hopelik kan ons eendag op ’n rots staan en ’n nuwe dag met gelykheid gevul, inwag.

Tot dan, (on)gelukkige Vrouemaand, Suid-Afrika.

  • Mercy Kannemeyer (23) is tans besig met 'n meestersgraad in drama en teaterstudie aan die Universiteit. Sy het in Port Elizabeth skoolgegaan en kom oorspronklik van Mosselbaai. "Ek woon egter nou al so lank in Stellenbosch, ek sien myself as 'n Stellenbosser," voeg sy by.
Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Studente  |  Vrouedag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.