Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
'Ongelykheid het niks met armoede te doen nie'
Martin van Staden.
Martin van Staden.

Nog ’n jaar, en nog ’n verslag van die internasionale “liefdadigheidsorganisasie” Oxfam.

Soos vorige jare is die doel daarvan na my mening eenvoudig om die mag van die staat uit te brei en die ekonomiese vryheid van die gewone mense te verminder.

Oxfam propageer dié aanbeveling aan regerings onder die vaandel van die stryd teen sogenoemde “ongelykheid”.

Daar was dalk ’n tyd in die verlede toe dié aktiviste in die bestryding van armoede geglo het, maar vandag word Oxfam deur ’n irrasionele obsessie met rykes, ongelykheid, en belasting begryp.

Ongelyk beteken nie arm

Dit is belangrik om die problematiese uitgangspunt van elke jaar se Oxfam-verslag te verstaan.

Volgens Oxfam is ongelykheid een van die grootste probleme wat die mensdom vandag in die gesig staar.

Dit is nie altyd duidelik wat met die term bedoel word nie, maar ’n mens kan aanvaar dat dit na die een of ander ongelykheid in rykdom of inkomste verwys.

Daar is baie om te sê oor Oxfam se metodologie en of dit akkuraat of intellektueel eerlik is, maar dit is belangriker om te verstaan dat Oxfam se skep van die probleem van ongelykheid opsigself onsin is.

Ongelykheid is heeltemal irrelevant as ’n mens armoede wil bestry. Armoede en ongelykheid is nie dieselfde verskynsel óf konsep nie, al behandel politici (veral in Suid-Afrika) en sosiale aktiviste soos Oxfam dit as verwisselbaar.

Armoede het niks met ander te doen

Om arm te wees beteken mense kan nie die basiese noodsaaklikhede vir hulself aanskaf nie. Hulle kan dus nie kos, water, klere of behuising bekostig nie. Dit het niks met ander te doen nie – met ander woorde, dit is nie relatief nie – en het slégs betrekking op die persoon, familie, of gemeenskap wat bespreek word.

Om “ongelyk” te wees daarenteen, beteken dat twee of meer mense op die een of ander manier nie dieselfde is nie. Wat rykdom betref, beteken dit dat hulle nie dieselfde hoeveelheid geld het, of maak nie.

Jeff Bezos, die rykste man ter wêreld, en Bill Gates, ’n voormalige rykste man ter wêreld, is dus baie ongelyk – tot die bedrag van miljarde dollar!

Maar dit maak nie saak nie, want wat iemand het, is nie opsigself ’n probleem nie; dit word net ’n probleem as hulle daardie rykdom deur geweld of bedrog van iemand anders gevat het.

Dis ook ‘ons’ skuld

Oxfam het ’n gróót appeltjie te skil met rykes (ander rykes, nie die ryk mense wat Oxfam beheer wat meer as £100,000 of R1,7 miljoen per jaar verdien nie).

Inderdaad, dit is ’n obsessie. Dit word voortdurend geïmpliseer dat mense soos Bezos hul rykdom op ’n oneerlike manier gekry het, maar Oxfam bewys dit nooit. Dit word maar net aanvaar.

Dit kom daarop neer dat Oxfam, en die, veral, linkse akademici en intellektuele wat agter Oxfam staan, meen dit is nie regverdig dat mense soos Bezos soveel geld kan hê nie.

In werklikheid het Bezos ongelooflik baie vir die wêreld gedoen: Amazon is die gewildste inkopie-app in groot dele van die Weste. Mense kry soveel plesier en gerief uit Amazon en Bezos se ander produkte dat hulle hom en sy maatskappy met geld beloon.

As die wêreldmark ’n politieke demokrasie was, het Bezos voor in die ry gestaan vir die presidentskap.

Ongelykheid is heeltemal irrelevant as ’n mens armoede wil bestry.

En dit is uiteindelik al wat die vryemarkekonomie is: ’n Demokrasie waarin elke soewereine individu met sy geld, tyd, talente, ensovoorts stem vir diegene wat vir hulle die beste saak stel of produk bied.

En anders as die politieke demokrasie is daar nie net een keer elke paar jaar ’n verkiesing nie. In die markekonomie is die “verkiesing” voortdurend – elke sekonde van elke dag.

Mense soos Bezos het nie per ongeluk so ryk geword nie: Dit is óns wat hulle so ryk gemaak het! En dit is niks om oor skaam te wees nie: Nie Bezos oor sy rykdom nie, en ook nie ons oor ons deelname aan ’n verbruikersmark nie.

Tensy anders bewys kan word, is geen arm mens vandag arm omdat Bezos ryk is nie.

Meer dikwels is hulle arm júis omdat regerings oor die wêreld heen Oxfam se aanbevelings volg, en belastings en regulasies hef.

Wanneer belasting verhoog, word almal se lewenskoste duurder, selfs al is dit net persoonlike inkomstebelasting van die heel rykste mense en die heel grootste korporasies. Dit is ’n baie eenvoudige ekonomie: Wanneer ’n onderneming of ’n entrepreneur meer belasting moet betaal, verhoog hulle die pryse van hul produkte en dienste. Enige belasting op Bezos is óók ’n belasting op sy heel armste klante.

Fokus eerder op vryemark

As ons werklik omgee vir armes, moet ons juis op armes fokus en nie op diegene wat armoede lankal agtergelaat het nie!

Ons moet ’n openbare beleid hê wat vriendelik teenoor entrepreneurs, werkskepping, en innovering is. Dit wil sê ons moet ’n vryemarkbeleid hê.

Volgens ’n verslag van die Economic Freedom of the World van die Kanadese Fraser Institute, plaaslik uitgegee deur die Vryemarkstigting, is die armste 10% van die bevolking in die heel vryste markte byna sewe keer ryker as die armste 10% van die bevolking in die lande wat Oxfam se raad die nouste navolg: Die lande met ekonomieë wat die meeste deur die staat beheer word. Armoede bestaan dus byna glad nie in markekonomieë nie, en Oxfam is totaal teen die markekonomie gekant.

Die lande van die wêreld, en veral Suid-Afrika, moet voorbeelde volg wat in armoedebestryding werk. Ons kan begin deur Oxfam te ignoreer en na die Fraser Institute en die Vryemarkstigting te luister.

  • Martin van Staden (24) is besig met sy LLM aan die Universiteit van Pretoria. Hy kom oorspronklik van Vereeniging, maar het hoofsaaklik in Pretoria groot geword.
Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.