Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Ons demokrasie is nie sonder foute nie
Ashwin Thyssen
Ashwin Thyssen. Foto: Nardus Engelbrecht

In ’n onlangse artikel het ek gekyk na Suid-Afrika en die groeiende demokrasie. Ek het die artikel afgesluit deur te sê dat die stemhokkie die heiligste plek in ’n demokrasie is. ’n Paar dae ná Suid-Afrika se sesde algemene verkiesing is dit nodig om te reflekteer.

Verlede jaar het ek redelik baie tyd aan Cornel West se werk spandeer. West is ’n swart Amerikaanse filosoof wat homself as ’n demokratiese sosialis noem.

Meer as net die netjies verpakte ideologie, is West ook ’n aktivis wat die Amerikaanse samelewing deurentyd wys op die verskillende maniere waarop imperialisme onderhou en bevorder word. Ek het sy werk in ’n mini-tesis behandel en is heeltemal daardeur bekoor – die soeke na en die uitdaging om die demokrasie te bevorder.

Ek glo dat ’n verkiesing een van die boustene is om ons demokrasie te verdiep en te bevorder. Ons moet egter besef dat die demokratiese bestel nie sonder foute en mislukkings is nie. Tog sweer die Suid-Afrikaanse bevolking by ’n demokratiese stelsel.

Op pad na die stemhokkie is my vriendin gevra om haar EFF-beret af te haal. Die OVK-amptenaar het geïmpliseer dat haar politieke klere kiesers sou beïnvloed. Dit was nogal beduidend. Ons is ’n nasie wat gegrond is op menslikheid, vryheid en gelykheid, maar jy moet jouself afvra hoe ons so ver van hierdie waardes afgedwaal het.

Ons moet egter besef dat die demokratiese bestel nie sonder foute en mislukkings is nie. Tog sweer die Suid-Afrikaanse bevolking by ’n demokratiese stelsel.

Ek vermoed dat dit op ’n endemiese probleem dui. Ons demokrasie is nog jonk en broos, en tog berus ’n demokratiese stelsel op ’n ingeligte samelewing.

LEES OOK: Hoekom weet ons politici nie hoe om debat te voer nie?

Wat die meeste uitgestaan het van my vriendin se ervaring, was ons verwarring. Hoewel ek en sy redelik polities aktief is, het ons die OVK-amptenaar se woord aanvaar. Ons het egter later op die webtuiste gesien dat dit nie die korrrek is nie.

Ek dink hierdie ondervinding vang die kollektiewe demokratiese ervaring vas. Die grootste uitdaging in die toekomstige demokratiese proses, is myns insiens die opvoeding van die kiesers. ’n Kwarteeu ná die begin van demokrasie, en die kiesers is steeds oningelig.

Messias-kompleks

Op 8 Mei was daar nie minder nie as 48 politieke partye op die stembrief. Wat wel baie uitgestaan het, is dat baie van hierdie partye se ideologiese oortuigings redelik onduidelik was.

Ons moet wonder hoekom sommige partye nie hul manifes op hul webtuistes plaas nie. Verder moet ons ook wonder hoe so baie partye so baie geld kon insamel in ’n land wat bekend vir sy armoede is.

Verder moet ons ook wonder hoe so baie partye so baie geld kon insamel in ’n land wat bekend vir sy armoede is.

In die laaste paar weke is dikwels gesê dat hierdie die strafste verkiesing is. Dit is die waarheid. Maande lank – en dit sal selfs ná die verkiesing voortgaan – was daar baie kleinlike hofsake, oppervlakkige Twitter-gevegte en belaglike onderhoude.

En die meeste hiervan het nie die nodige analise, diepte en verduidelikings gehad om ons demokratiese tradisie te vestig nie.

Ek het die afgelope tyd redelik kritiek uitgespreek oor die kultus van persoonlikheid. Ons word selfs oortuig dat ’n party sal vou sonder ’n sekere leier.

LEES OOK: KYK: Cyril is nie ons messias nie, sê studente

Die sogenaamde Messias-kompleks sal altyd daar wees, veral as almal so soek na iemand wat in wyle oudpres. Nelson Mandela se voetspore kan volg.

Ons lewe in ’n tyd waar politiek persoonlik is. Dit mag dalk waar wees, maar politici moet oppas om hulleself nie te bevind tussen diegene wat ’n oppervlakkige demokratiese tradisie bevorder nie. Dit bevorder nie net die kultus van persoonlikheid nie, maar dit laat die kiesers sonder stem.

Laastens, die algemene opinie is dat diegene wat nie gestem het nie, nie ’n opinie oor politiek mag hê nie. Ek vind dat dit nie waar is in die konteks van demokrasie nie. Alle Suid-Afrikaanse inwoners het ’n reg, nee, ’n morele en burgerlike plig om ’n opinie te vorm oor dit wat hulle direk raak.

Alle Suid-Afrikaanse inwoners het ’n reg, nee, ’n morele en burgerlike plig om ’n opinie te vorm oor dit wat hulle direk raak.

Op 8 Mei, op die ouderdom van 23, stem ek vir die derde keer. Ek het in Stellenbosch se stadsaal gestem, ’n plek waar ek in die verlede nie toegelaat sou word nie.

In die stemhokkie, die heiligste plek, het ek die uitdagings en die vrede ervaar van die generasies voor my en van dié na my.

Die voorgeslagte wat moes veg om net hul kruisie te kan trek, en die toekomstige generasies wat Suid-Afrika nog hul huis gaan noem. Op daardie dag verdiep ons – die polities onaktiewe jeug – Suid-Afrika se demokrasie.

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Verkiesingdiestudent  |  Verkiesing2019  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.