Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Klimaat: Ons gaan nog spyt wees, en wie gaan rou?
Zian Blignaut
Zian Blignaut

Ons almal moet die een of ander tyd ’n vorm van verlies deurmaak. In ons hedendaagse konteks word ons selfs meer as vantevore daarmee gekonfronteer. Ons verloor mense: ouers, minnaars, sibbe, vriende.

Ek wil argumenteer dat dit alles op ’n mikrovlak en in die interne sfeer gebeur, want as ’n samelewing is daar ook ’n verlies wat ons globaal op makrovlak deurmaak en waaroor ons moet rou, naamlik die verlies aan dierespesies, hul habitat en ook vele ander waardevolle dele van die omgewing wat van kritieke belang is vir die oorlewing van alle spesies op die planeet, insluitende die mensdiere.

Na die verkiesing van pres. Jair Bolsonaro van Brasilië is daar ’n groot toename in ontbossing van die Amasone. Die Amasone brand om meer plek te maak vir grootskaalse boerderye.

Daarbenewens het die eerste gletser weens klimaatsverandering in Ysland gesmelt, koalas word as funksioneel uitgesterf verklaar, die koraalriwwe is besig om te verbleik en dood te gaan, daar word beweer dat die helfte van die woude se wilde diere reeds verloor is, en die Trump-administrasie verminder die beskerming van diere wat naby aan uitsterf is.

Ons is reeds meer as 50 jaar te laat om die planeet te red en klimaatsverandering op sy kop te draai sodat die omgewing kan herstel.

Dié tipe hooftrekke het onlangs verskyn en hierdie insidente gaan net meer en erger word. Mense met mag en geld neem roekelose besluite wat ekonomiese groei prioritiseer en die langtermynoorlewing van die planeet en sy inwoners ignoreer aangesien omgewingsregulasies verslap word of bloot uit wetgewing gesny word.

Jy kan nie alleen die aarde red

Verskeie wetenskaplike studies bied bewyse dat die mens die oorsaak is vir die nuwe epog waarin ons leef. Hierdie epog word die Antroposeen genoem en wys dat mense vandag die grootste invloed op die klimaat en die omgewing het. Ons bou paaie, huise, grou vir tonnels, veroorsaak erosie, stel koolstofgasse vry, ontbos, besoedel die oseaan en dryf spesies tot hul einde.

Dit beteken dat die mens die oorsaak sal wees van die volgende uitwissing op ons planeet. Ons is reeds meer as 50 jaar te laat om die planeet te red en klimaatsverandering op sy kop te draai sodat die omgewing kan herstel.

As ’n individu kan jy nie die wêreld red nie, maar ons kan dit as ’n kollektief wat saamstaan regkry.

Sommige mense verkies dit om nie bewus te wees van die invloed wat ons op die omgewing het nie, “ignorance is bliss”, maar daar is diegene van ons uit die natuurwetenskappe en die menslike wetenskappe wat nie meer hierdie kwessies kan ignoreer nie, veral omdat dit so ineengestrengel is.

Om alle vorme van die wetenskap saam in te span is moontlik ook die enigste manier om die probleme te probeer oplos. As ’n individu kan jy nie die wêreld red nie, maar ons kan dit as ’n kollektief wat saamstaan regkry. Ons het dit nou meer as ooit nodig om verby ons verskille te kyk en saam te staan.

LEES MEER: ’n Noodkreet vir Suid-Afrika

So wat doen jy as jy wel die artikels lees en weet wat ons aan ons planeet doen? Hoe gaan ons om met hierdie makro-verlies? Ons rou dieselfde as vir die ander verliese waardeur ons moet werk.

Diegene wat al daardeur is sal weet, die rouproses hou dikwels nooit op nie, jy leer net om daarmee saam te leef. Hoe meer jy lees van die verliese wat die aarde deurmaak, hoe meer angs word gewek, maar hierdie angs is nodig sodat ons bewus kan word van ons invloed op die omgewing en sodat ons ’n verskil kan maak, vir ons en die generasies wat ná ons kom.

As ons nie nou begin optree nie, is ons dalk die laaste generasie wat die planeet gaan bewoon, en daar sal niks en niemand oor wees wat oor ons uitsterwing weens hongersnood en habitatverlies kan rou nie.

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.