Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
'Ons kan nie soos Greta Thunberg in SA leef nie'
Emily O'Ryan
Emily O'Ryan

Swede het al ’n paar wonderlikhede opgelewer soos die driepuntsgordel, Skype en invloedryke groepe en mense soos ABBA en Avicii.

In 2019 lewer Swede nog ’n skat op: Greta Thunberg. Sy is ’n 16-jarige betoger met vlegsels wat toenemend aandag in die media geniet. Sy spoeg deurgaans feite oor die klimaatskrisis uit en waarsku dat die aarde aan die vergaan is. Onlangs het ek ’n stuk begin skryf oor wat jong Suid-Afrikaners by Thunberg kan leer.

In 2019 lewer Swede nog ’n skat op: Greta Thunberg.

En soos my vingers oor die sleutelbord vlieg, besef ek ek doen wat soveel ander Suid-Afrikaners doen: Ons probeer so hard om die Noorde na te volg dat ons nooit kyk na wat hierdie neigings vir Suid-Afrikaners beteken nie.

Ons vergeet vir ’n oomblik dat Suid-Afrika ’n land is met sy eie gekompliseerde konteks, ons is nie Swede of Amerika nie. Dit is nie altyd in Suid-Afrika se beste belang om die Noorde se benadering tot wêreldwye probleme net so op die Suide te probeer toepas nie.

Die krisis van die sesde wêreldwye uitsterwing raak tog alle mense, of dit nou in ’n ontwikkelde of ontwikkelende land is. As ons egter volhoubare ontwikkeling wil bereik, moet ons na hierdie klimaatskwessies deur die lens van ons Afrika-konteks kyk.

Die krisis van die sesde wêreldwye uitsterwing raak tog alle mense, of dit nou in ’n ontwikkelde of ontwikkelende land is.

Kom ons kyk prakties daarna: Greta het haar lewe in ’n ontwikkelde land aangepas om haar voetspoor op aarde te verminder. Wanneer hulle reis, vlieg Greta en haar gesin nie meer nie (dink net aan die implikasie daarvan op haar ma se lewe as operasangeres).

As verbruiker is Greta deel van die Shopstop-beweging. Dit beteken dat sy niks nuut koop nie, tensy dit absoluut noodsaaklik is. Al haar klere is skenkings of by haar familie geleen.

’n Ander aanpassing wat sy gemaak het, is om nie Vrydae skool te gaan nie en om (soms op haar eie) voor die Sweedse parlement te betoog. En dan is sy ook ’n veganis, seker een van die vanselfsprekendste veranderinge wat sy in haar lewe gemaak het – om etiese en omgewingsredes.

Hoe moontlik is die Greta-manier vir ons?

Kom ons kyk na die aanpassings wat ’n Sweed in haar lewe gemaak het en weeg dit op teen die werklikheid van die gemiddelde Suid-Afrikaner.

As ons dit doen, word die kontras tussen ’n ontwikkelde land en ’n ontwikkelende land baie duidelik. Om vlieg te boikot, byvoorbeeld, moet ’n mens in die eerste plek die geleentheid hê om te kan vlieg. Volgens Oxfam was daar in 2015 altesaam 30,4 miljoen Suid-Afrikaners wat in armoede lewe. Dit is dus waarskynlik dat daar 30,4 miljoen mense is wat bloot weens hul omstandighede nog nooit die kans gehad het om te vlieg nie.

Volgens Oxfam was daar in 2015 altesaam 30,4 miljoen Suid-Afrikaners wat in armoede lewe.

Om onnodige aankope uit te sny (soos met die Shopstop-beweging) moet jy in die eerste plek vir ontspanning inkopies kán doen. Statistieke SA het in 2017 berig dat 20% van alle Suid-Afrikaners nie in hul basiese behoeftes kan voorsien nie omdat hulle nie genoegsame toegang tot voedsel het nie.

Wat voedselgebruik betref, moet ons in ag neem wat dit sou beteken om ’n Suid-Afrikaner wat die minimum loon verdien te vra om net kos vir veganiste te koop, terwyl baie van hulle in die eerste plek nie eens basiese kos kan bekostig nie.

Hoewel toegang tot onderwys ’n basiese reg is, is dit ’n voorreg om skool vir ’n dag te kan mis, want dit impliseer dat jy die opsie het om skool toe te gaan en dan daardie voorreg van die hand te kan wys.

So, wat kan ons as Suid-Afrikaners doen om die klimaatskrisis te pak? Ons moet na ons leefstyl kyk en dan binne die konteks van ons omstandighede aanpassings maak.

LEES OOK: 20 haalbare voornemens vir 2020

Ek het ’n paar reëls vir myself opgestel oor my verbruik. Wanneer ek klere, geskenke en kos koop, probeer ek plaaslik koop. Dit is nie net goed vir die omgewing nie, maar dit gee plaaslike ondernemings ook ’n hupstoot.

Ek wonder so dikwels hoekom verbruikers verby straat-entrepreneurs ry net om derdegraadse of geneties gemanipuleerde produkte in ’n oorbeligte supermark met te veel lugversorging te koop.

Rygeleenthede skool toe of elders is net so belangrik – vir die omgewing, jou bankrekening en sosiale verbintenisse.

Wat doen ons ná Greta?

Suid-Afrika is groter as wat ons dink. Gebruik jou vakansies om ook hier of elders in Afrika te toer.

Wat kan die gevolg wees as ons net wasbare, herbruikbare verpakkings gebruik en nie meer plastiekhouers koop nie?

Dit is maar net ’n paar voorbeelde van wat ons kan doen terwyl die regering die maatskaplike en politieke kwessies oor die omgewing behartig.

Op regeringsvlak moet die Greta-effek politici dwing om die omgewing in ag te neem wanneer besluite oor werkloosheid, grondhervorming en voedselsekerheid geneem word.

Wanneer Greta se naam nie meer op almal se lippe is nie, gaan ons steeds hier aan die suidpunt van Afrika met dieselfde probleme sit.

Wanneer Greta se naam nie meer op almal se lippe is nie, gaan ons steeds hier aan die suidpunt van Afrika met dieselfde probleme sit. Dit is juis daarom dat ons die bestuur en maatskaplike geregtigheid moet integreer met die kwessies oor die klimaat en volhoubaarheid.

Ons kan nog baie praat oor of Greta die aandag verdien wat sy kry en of sy “die grootmense moet los en teruggaan skool toe”. Ons kan ook debatteer of die klimaat op ’n wêreldwye ramp afstuur en of dit maar bloot ’n proses is waardeur Moeder Natuur gaan.

Of ons nou erkenning gee aan Greta of die klimaatskrisis of nie – die grootste ding wat ons hieruit kan leer, is hoe om ons Afrika-konteks op wêreldkwessies van toepassing te maak.

Hierdie grenslose probleem het ’n beperkte perspektief nodig.

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.