Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
'Dié statistiek maak my bang...'
Alet Janse van Rensburg
Alet Janse van Rensburg. Foto: Martin de Kock

Daar is baie angswekkende statistieke wat ’n mens oor Suid-Afrika kan noem, maar die mees skokkende een het onlangs onder my aandag gekom: 80% van Suid-Afrikaners identifiseer met die Christengeloof.

Dit is nie so skokkend as jy in ag neem hoeveel mense kruisies om hul nekke dra of met vissieplakkers op hul karre spog nie. Dit is wel skokkend as jy in ag neem hoeveel haat daar broei tussen ons klomp landgenote.

Suiwer, onverdunde haat seëvier in ’n land waar kinders sterf en die kommentaarafdeling lees “een minder van die vyand”.

Nog ’n voorbeeld is die brutaliteit waarmee mense op plase aangeval word. Daar is makliker en vinniger maniere om kontant en vuurwapens te steel as om ouers voor hul kinders met vuurwarm kookolie of strykysters te martel, dikwels nadat die diewe reeds gekry het waarvoor hulle gekom het. Ekstreme padwoede, uitbarstings in openbare plekke en rassistiese liedjies van ’n herhalende aard dui alles op die onderliggende haat wat in baie se harte broei.

Tog sê die meeste Suid-Afrikaners hulle hang die Christengeloof aan.

Tog sê die meeste Suid-Afrikaners hulle hang die Christengeloof aan.

Die kern van Christenskap is dan juis liefde vir jou medemens waarvan ’n mens weinig sien in Suid-Afrika. Ek glo liefde moes die knie buig voor oorlewing en die stryd om bo uit te kom in ’n land waar traplere baie skaars is.

Geen handleiding hiervoor

In die vroeë 1990’s het liefde in Suid-Afrika geseëvier. Dit klink dalk vreemd en dis riskant vir my om te sê, omdat ek ’n sogenaamde vrygebore Suid-Afrikaner is. Te midde van brandende bande, briefbomme, optogte en propaganda het die liefde steeds gegroei soos ’n dapper vetplant in ’n rotsskeur. Soos ek die verloop van die geskiedenis verstaan, was die einde van apartheid die ideale geleentheid vir ’n burgeroorlog om uit te breek in Suid-Afrika. Maar dit is verhoed deur een leier se besluit om in liefde op te tree. Dit is niks minder as ’n wonderwerk nie.

LEES MEER: Emigrasie: 'Moenie jou tasse pak, daar ís hoop'

Dié soort liefde het nie boekgehou van kwaad nie en ook nie sy eie belange gesoek nie. Daardie liefde het alles bedek en alles verdra, insluitend 27 jaar in die tronk.

Dis nou 25 jaar later en ek is seker die wittebroodfase van hierdie liefde tussen landsburgers is verby. Die liefde het nie beskryf hoe om die praktiese probleme te oorkom nie: taxi’s wat stopstrate as ’n bushalte gebruik, grondhervorming wat net nie regverdig lyk nie en bruin mense wat in apartheid benadeel was en nou ook nie deur swart ekonomiese bemagtiging gehelp word nie. Korintiërs 13 het niks hieroor vir ons nasie, waarvan die meeste Christene is, gestipuleer nie.

Mag die liefde weer seëvier

In die volgende 20 jaar wens ek dat die liefde weer dapper genoeg sal wees om nie boek te hou van die kwaad nie, nie sy eie belange voorop te stel nie en meer verdraagsaam te wees. Hierdie waardes behoort nie uitsluitlik aan die Christengeloof nie, maar dit is beslis die essensie van Christenskap en dus nie onmoontlik om te vestig in ’n land vol Christene nie.

Ek stel nie voor dat die jeug hul geloof op almal om hulle moet afdwing nie – glad nie!

Ek stel nie voor dat die jeug hul geloof op almal om hulle moet afdwing nie – glad nie! Wat ek graag sal wil sien, is dat daar in liefde opgetree word teenoor mekaar, ongeag die res. Die jeug kan hierdie liefde weer ’n plek gee om te groei deur mede-Suid-Afrikaners in liefde te behandel.

Dit is dalk ’n onbenullige droom in ’n land met werkloosheid, hongersnood en ’n hele string maatskaplike probleme. Maar dis ook die moeilikste en grootste droom in ’n land met ’n ingewikkelde verlede en ’n groep diverse mense wat histories gesproke elkeen hul beurt gehad het om die ander te na te kom.

LEES OOK: Kom ons bid saam vir ons land

Jong Suid-Afrikaner, empatie en verhoudings met ander is nou belangriker as ooit, want as jy nie iemand se agtergrond verstaan nie, kan jy ook nie hul optrede verstaan nie. Dit kan dalk vir jou lyk asof ander optree soos hulle doen net om jou geduld te toets. Wanneer jy jou landgenote se stories ken, is dit makliker om hulle lief te hê, want jy bewonder die pad wat hulle gestap het en die klippe wat hulle uit die pad gerol het.

In Suid-Afrika moes ons mekaar al vir meer as te veel gruwels vergewe en dis belangrik om te onthou as jy wil beginne boekhou.

  • Alet Janse van Rensburg is 'n derdejaarstudent aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus. Sy studeer BA kommunikasie en kom oorspronklik van Cradock in die Oos-Kaap.
  • Hierdie meningstuk is deel van Die Student se rubriek-kompetisie waar ons vir studente gevra het om te skryf oor die Suid-Afrika wat hulle oor 20 jaar wil sien en hoe die jeug kan help om by dié droom uit te kom. Die kompetisie is in samewerking met die Universiteit Stellenbosch aangebied ter viering van Jeugdag.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees nog meningstukke hier.
  • Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
  • Volg Die Student op Instagram!

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Diestudentjeugdag  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.