Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Ons moet oor daardie F-woord praat
Jan-Harm van Helsdingen

Ek dink dit is hoogtyd om oor die F-woord te praat. Feminisme.

Vir die meeste mense van vandag, veral studente in hierdie geval, is die onderwerp van feminisme al so afgewater soos die laaste glas Oros.

Dis juis oor hierdie feit dat ek so verbaas is dat daar steeds mense is wat die konsep geheel en al verkeerd verstaan.

Ek het myself die afgelope tyd in twee situasies bevind waar ek moes hoor hoe sleg feminisme is en dat dit sonder twyfel ’n euwel van ons tyd is.

Maak geen fout nie, dis vooruit-denkende, so-liberaal-soos-die-gemiddelde-Stellenbosch-student-mense en weer was ek stomgeslaan.

Nou die dag het ’n meisie selfs met groot trots erken dat sy glad nie ’n feminis is nie. Volgens haar maak ander meisies soos sy dit ook in hul koshuis baie duidelik wanneer hulle mans ontmoet, omdat daar so ’n aaklige konnotasie aan die woord is.

Die ironie

Hoe het ons tot op hierdie punt gekom waar die gedagte aan gelykheid – wat selfs in ons Grondwet ’n waarde is – as aaklig beskou word?

Met ietwat hartseer het ek besef die meeste studente dink feministe is vroue met wilde oë wat op jou skree as jy vir hulle die deur oopmaak of iemand wat jou uittrap oor enige aksie wat dalk tot die een of ander stereotipering van vroue bydra.

Dit is egter nie feminisme nie.

Feminisme is eenvoudig net die opvatting dat vroue dieselfde regte en geleenthede as mans moet hê.

Ons is gelyk. Dit is tog nie ’n vreemde gedagte nie? Jy is nie beter as sy nie en sy is nie beter as jy nie.

So hoe het hierdie eenvoudige opvatting so verdraai geraak? Hierdie wanopvattings oor feminisme moes tog iewers ontstaan het.

LEES OOK:  Spoeg die A-woord uit en kou aan iets vars.

’n Mens kan argumenteer dat dit net op oningeligtheid neerkom, maar dit maak ongelukkig meer sin dat ekstremistiese feministe die oorsaak is.

Die sogenaamde “Feminazis” soos wat hulle op die kampus bekend staan. Dit is geen grap om na iemand te verwys as ’n Nazi nie en ek dink die term is self ekstremisties. Dis egter die woord wat ’n mens tussen die klasse deur hoor.

Dit is hierdie vroue wat vir jou preek as jy vir hulle die deur oophou, of jou belet om “women” met ’n “e” te spel aangesien die woord “men” dan in die woord voorkom.

Dit is hierdie vroue self wat tot ’n stereotipe aanleiding gee. ’n Beweging wat daarop gemik is om stereotipes uit te wis? Die ironie is beide lagwekkend en hartseer.

Die medisyne

Ek is grootgemaak met die gedagte dat almal feministe moet wees – mans en vroue. En ek glo dit steeds. Dit is net respekvol om nie te dink dat jy inherent beter as die persoon langs jou is nie. Dalk is sy nog jou toekomstige vrou.

Dis tyd om van hierdie wanopvattings en stereotipes oor feminisme ontslae te raak. Feminisme ís nodig. Feminisme is noodsaaklik.

Hoe het ons tot op hierdie punt gekom waar die gedagte aan gelykheid – wat selfs in ons Grondwet ’n waarde is – as aaklig beskou word?

Mense moet besef dat feminisme nie die virus is nie. Feminisme is die medisyne wat gebruik moet word om ontslae te raak van die eintlike virus waaraan Suid Afrika en die wêreld al so lank lei. Ongelykheid.

Ons moet nou net daardie medisyne in die regte dosis toedien.

  • Jan-Harm Van Helsdingen (19) studeer BCom regte aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy is 'n inwoner van Simonsberg-manskoshuis en kom van Pretoria waar hy aan Hoërskool Menlopark gematrikuleer het. 

Is  jy 'n student en wil jy R5000 wen? Kliek hier

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.